Skip to main content

2 Samuel 15

Dawid bid tot God EN bestry strategies die opstand van sy seun Absalom

Absalom se onderdanigheid aan Dawid is van korte duur, wat ‘n mens met terugskoue waarskynlik kon agterkom uit sy gebrek aan berou rondom die dood van sy broer, Amnon. Kort nadat Dawid hom terugverwelkom, begin Absalom sy ware kleure wys deur rebellie teen Dawid onder die volk aan te blaas. Wanneer oorlog dreig, kies Dawid om eerder die stad te verlaat wat ‘n wyse besluit blyk te wees. Met die uitgaan, tref hy ook reëlings om ingelig te bly oor Absalom se planne. En hy vertrou op die Here om soos in die geval van Saul se verraderlike optrede die uitkoms te bestuur, eerder as om direk die mag in eie hande te neem.

Teks en konteks

Die breuk tussen Absalom en Dawid blyk nie volledig herstel te wees nie, want oor die volgende vier jaar werk Absalom onverpoos daaraan om die harte van die volk te steel en sy troonopvolging te verseker. Dat Absalom na Hebron toe gaan om sy opstand te beplan, is baie betekenisvol, gegewe die Abraham-verbintenis aan die plek. Dit is ook die plek waar Dawid as koning deur die volk gesalf is.

Agitofel, Batseba se oupa, word ook meegesleur in die sameswering. Hy laat dit toe, moontlik vanweë die Batseba-episode. Dawid vlug uit die stad Jerusalem, moontlik om die stad ‘n beleg en inval te spaar. Dit kan ook wees dat hy interne verraad gevrees het. Daardeur kry hy ook die voordeel dat hy die plek waar die uiteindelike botsing sou plaasvind, kan bepaal. Die Filistyn Ittai, ‘n belangrike leiersfiguur (2 Sam 18:2), beloof trou aan Dawid, amper soos Rut dit vir Naomi gedoen het.

Dawid stuur die twee priesters, Abjatar en Sadok, met hulle twee seuns terug om ‘n kommunikasie-kanaal te skep sodat hy kon hoor wat in die stad aangaan. Ook Gusai, sy vriend, word agtergelaat om Agifofel se raad te verydel.

Let op hoe Dawid tot die Here bid om hulp, bv. om Agifofel se raad te verydel EN strategies beplan en dan die planne in werking stel om die situasie die hoof te bied. Die ark word ook teruggestuur, heel moontlik om Absalom gerus te stel oor die priesters wat agterbly in Jerusalem, maar ook omdat Dawid weet die opstand is een van die gevolge van sy sonde, en dat dit net die genade van die Here self sal wees wat hom in dié situasie kan red, nie net die ark as simbool van God se teenwoordigheid nie: “As ek guns vind in die oë van die Here, sal Hy my laat terugkeer en my weer die ark en sy staanplek laat sien.” (vgl 1 Sam 4)

Dawid verwoord sy gevoelens oor hierdie gebeure op besondere wyse in Psalm 3 en 4 en heel moontlik ook in Psalm 41. Ek hanteer Psalm 41 egter ‘n bietjie later saam met Psalm 39-40 waarmee dit tematies verbind is.

Boodskap en betekenis

Die verhaal van Absalom is ‘n waarskuwing teen die gevaar van ‘n gebrek aan berou gekoppel aan onbeteulde ambisie. Absalom neem die reg in eie hande en gryp op selfsugtige wyse na die magsposisie van die koningskap. Hy oortree dus nie net die sesde gebod deur sy broer Amnon wederregtelik te vermoor nie. Hy oortree ook die vyfde gebod deur sy pa nie te eer en respekteer nie. Geen wonder dat hy nie ‘n lang lewe gehad nie, want die Here straf diegene wat geen respek vir die wet het nie.

Wat ‘n mens ook moet raaksien is dat die vereniging van ‘n groot deel van die volk agter Absalom nie sy korrupsie en bedrog verskoon nie. Sy verraad destabiliseer net die volk en bring groot verdeeldheid wat uiteindelik net met groot verliese weer herstel sal word.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar