1 Samuel 25
Om met vrygewigheid te leef
Die dood van Samuel word spesifiek hier genoem net ná die erkenning van Saul in hoofstuk 24 dat Dawid ‘n regverdiger mens as hy is. Die harde realiteit is egter dat Saul nooit sou ophou om te probeer om Dawid uit te wis nie. Trouens, Dawid sou talle uitdagings nog in sy “woestyn”-tyd moes trotseer vóór hy deur die volk as koning erken sou word. Die volgende uitdaging kom in die vorm van die dwaas Nabal wat op ‘n feesdag nie vir Dawid wil insluit as beloning vir die beskerming wat Dawid verleen nie. Net die tussenkoms van sy vrou Abigajil verhoed ‘n tragedie. Haar wyse optrede maak ‘n blywende indruk op Dawid sodat hy haar as vrou neem met Nabal se dood. Met Saul wat op sy beurt sy bose karakter verder ten toon stel deur wraak te neem op Dawid deur Migal, sy vrou, vir iemand anders te gee.
Teks en konteks
Samuel se dood het die volk diep geraak. Hy was ‘n man van integriteit; hy het die volk weer geleer wat dit beteken om met God in ‘n verhouding te lewe, sonder die ark; en hy was die laaste rigter-profeet.
Na hom was die vraag krities vir die volk. Met watter tipe koning gaan hulle die toekoms in: Saul, die een wat eie-belang nastreef, of Dawid, die een na God se hart?
‘n Mens lees met groeiende kommer hierdie eerste verhaal na Samuel se dood. Gaan Dawid uiteindelik regtig anders as Saul wees? En die antwoord draai om twee keuses: wysheid of dwaasheid – sal die komende koning wys wees of dwaas?
Die verhaal begin by Nabal, ‘n ryk en invloedryke man, wat ‘n oesfees hou nadat hy skape geskeer het. Vers 8 praat in die oorspronklike daarvan dat hulle op ‘n “goeie dag” gekom het. Dit was ‘n feesdag aan die einde van die harde werk van die oes, en daarom die “regte tyd” (1983-vertaling). Dawid kon dus vra vir ‘n beloning, aangesien Dawid en sy manskappe die veewagters en hulle kuddes die hele jaar lank beskerm het en die fees gereël is vir almal wat betrokke was by die boerdery.
Nabal is egter nie net kortaf en onbeskof nie, maar ook beledigend teenoor Dawid. Hy noem hom sommer ‘n wegloperslaaf. Hy tree heel anders op as sy voorvader Kaleb, wat ‘n man uit een stuk was. Hy tree eerder op soos ‘n hond, die betekenis wat die naam Kaleb ook het.
Daarmee illustreer Nabal interessant genoeg dat hy dieselfde karakter eienskappe as Saul het. Hy is net so dwaas soos Saul, van wie ons in hoofstuk 24 lees dat hy regtig jammer geklink het vir sy moorddadige gedagtes, toe Dawid sy lewe gespaar het in die grot waar Saul niksvermoedend ‘n draatjie gaan loop het en Dawid en sy manne geskuil het. Maar, soos hoofstuk 26 gaan vertel, het Saul, soos ‘n dwaas, sy jammerte gou vergeet en weer vir Dawid in die Sifwoestyn agtervolg, hoewel Dawid dit darem weer daar reggekry het om vry te kom, en weer wys optree deur Saul se lewe te spaar.
Nabal se naam beteken nie verniet, dwaas nie. Want dit is wat hy is – ‘n dwaas.
Terwyl Dawid woedend optrek teen Nabal om wraak te neem, verskyn Abigajil, Nabal se vrou, egter op die toneel en, anders as in beide Dawid en haar man Nabal se geval, tree sy met groot wysheid en sjarme op. Haar naam het dan ook ‘n positiewe konnotasie: “my God gee vreugde”.
- Sy stuur ‘n groot versoeningsgeskenk vooruit (amper soos Jakob toe hy Esau tegemoet gegaan het – Gen 32), terwyl sy self agterna kom. En dit is amper oordadig en uiters vrygewig, in direkte kontras met haar man se inhaligheid: 200 brode, wyn, 5 gaar skape, koring, rosyntjies en vye. Dat dit so onmiddellik gereed was, beteken dat dit uit die feeskos bymekaar gemaak is.
- En dan kom sy direk, amper asof dit ‘n Goddellike afspraak is, op Dawid af. En sy vra om met hom vertroulik te praat, heel moontlik sodat hy nie in ‘n slegte lig gestel word voor sy manskappe nie.
- En met roerende en welsprekende woorde, spreek sy haar onomwonde uit teen die dwaasheid en onreg van Nabal en maak eintlik verskoning dat sy nie vroeër raakgesien het wat gebeur nie.
Met hierdie optrede doen sy vier goed:
- Sy tree vrygewig op teenoor Dawid, en vergoed so vir Nabal se inhaligheid;
- Sy erken die goeie wat Dawid vir hulle gedoen het, en die kwaad wat Nabal hom aangedoen het, waarmee sy sy gevoel van onreg aanspreek;
- Sy erken Dawid as koning waarmee sy hom eintlik herinner waarheen hy op pad is, en eksplisiet haarself agter die roeping wat God vir hom het, skaar;
- Sy keer dat Dawid se woede hom net so dwaas laat optree as Saul en Nabal, sodat daar ruimte kom vir God om op te tree.
Sy gee dus om wat Dawid gaan doen, uiteraard ook omdat dit haar mense gaan raak, maar nog dieper, herinner sy Dawid aan wat die wraak aan homself gaan doen. En sy erken dat Nabal verkeerd was en bevredig so Dawid se sin vir regverdigheid.
Hoe mooi sê sy nie vir Dawid nie dat as hy sy hand terughou van Nabal: “sal hierdie saak nie daar wees as ‘n hindernis vir u en as ‘n struikelblok in die gedagtes van my heer nie, dat u sonder rede onskuldige bloed vergiet het en dat my heer vir homself ‘n oorwinning behaal het nie.” (vers 31)
Dit is ‘n belangrike lewensles. Sy leer ons dat wysheid is om op God se tyd te wag en die wraak aan Hom oor te laat. Paulus sou heelwat later hieroor skrywe (Rom 12:19-21): “Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God” … “Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld.” (uit Deut 32:35 aangehaal) … “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.”
En so wys Abigajil ons hoe ‘n mens moet optree wanneer dwaasheid en wraak dreig om die storie van God met sy volk te laat ontspoor. Sy spandeer geen tyd met die dwase een, Nabal, nie, maar doen baie moeite om die een wat nog nie tot dieselfde vlak gedaal het nie, Dawid, te oortuig om met wysheid op te tree en God ‘n kans te gee om op te tree.
En laat ons dit goed onthou, dit is nie net Dawid en Nabal, en natuurlik ook Abigajil se lewens wat hier op die spel is nie. Dit is die volk se lewe wat hier geraak word – Samuel is dood, Saul maak droog, en Dawid se woede dreig om hom te laat daal tot dieselfde vlak waarop Saul opereer. En as hy sou wraakneem, sou daar regtig ‘n baie donker tyd vir die volk aanbreek …
Die Here tree dan ook inderdaad op, wanneer die ruimte vir hom gelaat word deur Dawid. Wanneer Nabal die volgende oggend van alles hoor, kry hy ‘n hart aanval (letterlik: sy hart het soos klip geraak in hom – ek verstaan nie regtig die verwysing na ‘n beroerte-aanval in NAV nie) en sterf tien dae later. Die Here het dus opgetree sonder dat Dawid self bloed vergiet het en sonder dat hy die inwoners van suidelike Juda, waar Nabal ‘n invloedryke persoon was, die harnas ingejaag het.
Dawid kry uiteindelik baie meer as wat hy met die wraak sou regkry.
- Sy manskappe word beloon deur die vrygewigheid van Abigajil.
- Nabal word deur die Here getref en is nie verder ‘n faktor in die verhaal nie.
- Hy trou uiteindelik met Abigajil, waarmee hy ‘n bekwame vrou kry, ‘n vrou van dieselfde formaat as sy groot-ouma Rut.
- Maar die bonus is ook ‘n versterkte invloed in suidelike Juda wat uiteindelik ‘n groot rol in die erkenning van sy koninskap sou speel.
En breër gesien, hy kry dit reg om anders as Saul op te tree en wys onomwonde aan die volk dat hy die regte tipe koning gaan wees. Hy is dapper … EN gehoorsaam aan God, hy tree met krag op teen die bedreigings van die Filistyne … EN hy wag met wyse geduld op God se ingrype om regstelling waar sy eie belange in gedrang kom.
Dawid leer hier dus om nie geestelik of polities dwaas op tree nie, maar om die verloop van sake in God se hande te laat en te doen wat die Here op sy hart lê.
En dit alles weens die vrygewigheid, sjarme en wysheid van Abigajil. Sy staan soos ‘n helder baken uit in die verhaal, en sy is die een wat die skrywer vir ons voorhou as die voorbeeld om te volg, om ‘n karakter na God se hart te wees.
Maar die hoofstuk sluit af met mededeling dat Saul sy bose karakter verder ten toon stel deur wraak te neem op Dawid deur Migal, sy vrou, vir iemand anders te gee.
Boodskap en betekenis
Ons leer in Nabal se verhaal dat inhaligheid jou uiteindelik inhaal. As jou hart toe is vir jou medemens, en nog erger, as jou hand toe is as jy die vermoë het om te help, dan boemerang dit uiteindelik op jou. Regdeur die Bybel is daar die Nabals en die ryk dwase (Luk 16), selfs ryk jongmanne (Matt 19), wie se hande vasgegroei het aan hulle besittings. Maar dit is ‘n sonde wat jou uiteindelik inhaal.
Ons sien ook in die gedeelte die ironie dat Nabal soos ‘n koning (vers 36 – die Hebreeuse woord melek), feesvier, maar dwaas is soos koning Saul. Dawid darenteen tree wys op, deur te luister na die insig wat Abigajil vir hom gee. En daarmee stel hy ons gerus dat God se keuse van hom as leier (vers 30 – die Hebreeuse woord nagid beteken ook regeerder of prins, wat charismatiese leierskap aandui), die korrekte een is.
Dawid kon dus ervaar dat ook wat betref die koningskap, hy sake rustig in die hande van die Here kon laat. Daar is immers niks so gevaarliks as wanneer ‘n mens dink dat jy benadeel is nie. Die woede as jy meen dat jy veronreg is, kan jou dryf tot erge stryd en wraak en vergelding.
Daarom moet ‘n mens ten alle koste waak daarteen dat die gevoel die oorhand oor jou kry. Dit is waarom die Bybel sê dat ons ons nie teen die kwaadwillige moet verset nie (Matt 5:38-42) en nie kwaad met kwaad moet vergeld nie (Rom 12:17-19; vgl 1 Kor 6:7-8; 1 Tes 5:15; 1 Pet 3:9), omdat dit God se verantwoordelikheid is (Deut 32:35; Rom 12:19; Heb 10:30).
Wat die gelowige moet doen, is om sy vyand lief te hê (Matt 5:43-48; Rom 12), in gesprek te tree dat dinge reggestel kan word en daar versoening kan kom (Matt 15), en die Here te vertrou vir die uitkoms, selfs al lyk dit soms of dit aanvanklik selfs nog slegter gaan.