Skip to main content

Jesaja 10:5-34

God se vuur verteer en suiwer

Jesaja vervolg die oordeelsuitspraak in Jesaja 9:7-10:4 teen Israel met ‘n oordeelsboodskap teen Assirië (Jes 10:5-19, 28-34) wat onderbreek word met ‘n boodskap van uitkoms vir ‘n oorblyfsel van die volk (Jes 10:20-27).

Teks en konteks

Jesaja 10:5-19

Hier sien ons hoe God se optrede en dié van die werktuie wat hy kies, Assirië in dié geval, verskil.

  • God se bedoeling is om die volk te suiwer deur sy oordeel.
  • Assirië se bedoeling is om te vernietig deur sy veldslae.

Dié arrogansie van Assirië word eweneens deur God geoordeel, al gebruik Hy hulle soos ‘n byl of ‘n saag om sy bedoeling uit te voer. God se koninkryk is dus anders en in stryd met die Assiriese wêreldryk (ander nasies word ingesluit in die vernietigende imperialisme).

Jesaja 10:20-27

Hoewel die oordeelsboodskap steeds in plek bly, belowe die Here ‘n tyd waar dié wat agterbly in die land na die verwoesting, weer op Hom sal vertrou, en daar ‘n oorblyfsel sal terugkom. Die vergelding staan egter vas, met die stukkie hoop wat hulle gebied word, dat dinge in die toekoms anders sal wees. Twee historiese voorbeelde van God se verlossing word as bewyse aangehaal: Gideon teen Midian by die Orebrots (Rigt 7:25) en Moses by die Rietsee (Eks 14). Die volk moet net geduldig wees.

Jesaja 10:28-34

En hulle geduld sal beloon word. Al trek Assirië met gemak deur Israel se dorpe en bring sonder veel teenstand verwoesting waar hulle ook al gaan, sal hulle ondergaan voor hulle die berg van die Here bereik (soos inderdaad gebeur het – Jes 36 vv). Ironies dat Assirië wat die byl van die Here genoem word (Jes 10:15) nou deur ‘n ander byl afgekap word, hoewel dit nie nader beskrywe word nie.

Boodskap en betekenis

Die prentjie van God wat ons hieruit kry, is dat Hy die Lewende God is wat nie net die Skepping aan die gang gesit en onbetrokke is by die verloop van die geskiedenis nie. Hy word ook baie spesifiek as die Inisieerder geteken, wat goed laat gebeur. Hy is nie net Iemand wat terugsit en eers later reageer op wat gebeur nie. En Hy doen dit op die wêreldverhoog en nie net in Israel nie – ‘n baie belangrike uitbreiding van ‘n nasionalistiese teologie.

Selfs al erken mense nie Sy betrokkenheid nie, is Hy agter en deur dit alles besig om sy wil te voltrek in die besluite van mense. Assirië is Syne… al erken hulle dit nie! Hy is dus in beheer ook van hulle geskiedenis, wat ‘n mens met ‘n tikkie meer respek moet laat praat oor groot bewegings wat in die wêreldgeskiedenis gebeur. En dit moet ons versigtig laat wees om met te groot stelligheid veroordelend te wees oor goed wat gebeur. Selfs dit wat sleg is, word steeds deur God gebruik en ingespan in die vestiging van sy koninkryk.

Maar ons kan ook hier sien dat Hy nooit die arrogansie van imperialisme ongestraf laat bly nie. Ons sien dat die Lig van Israel ook ‘n vuur en ‘n vlam word wat verbrand en verteer totdat Assirië volkome vernietig is. ‘n Skrikwekkende interpretasie van die “groot lig” wat eintlik blydskap en vrede en voorspoed bring, soos Jesaja in hoofstuk 9 aangekondig het, maar hier vernietiging. Dit korrespondeer ook met God se Heiligheid – dit is ‘n vuurkool wat sy mense reinig, en ‘n vuurvlam wat sy teenstanders vernietig, al neem dit soms tyd om gestalte te kry (Jes 6).

Daarom dat ek werk met die lewensfilosofie van Niebuhr, as ek dink oor alles wat in die wêreld gebeur, sowel as dit wat met my persoonlik gebeur:

“God is acting in all actions upon you. So respond to all actions upon you as to respond to his action.” (H Richard Niebuhr: The Responsible Self, 126)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar