Skip to main content

Haggai 1

God bemoedig die leiers om die bou van die tempel ‘n prioriteit te maak

Inleiding

Die profeet Haggai eggo die boodskap van hoop in Sefanja wat vóór die ballingskap gelewer is met ‘n boodskap van bemoediging aan die volk met die herbou van die tempel ná die ballingskap. Hy bemoedig die volk dat hulle kan volhard met hulle werk, want die Here het belowe dat Hy met hulle is. Hy sal dinge laat uitwerk as hulle net naby Hom bly en aan Hom gehoorsaam bly, presies dít wat Sefanja reeds in sy hfst. 3 belowe het.

Ons weet nie veel persoonlike detail van die profeet Haggai af nie, hoewel die boek Esra na hom en Sagaria, sy tydgenoot, verwys (Esra 5:1-2; 6:14). Die datum van Haggai se optrede is egter bekend en kan presies gedateer word. Die vier profesieë van sy boek is gelewer in ‘n vier maande periode in 520 vC, die tweede regeringsjaar van die Persiese koning Darius, as bemoediging aan die volk wat besig was om die tempel te herbou nadat hulle ongeveer 19 jaar gelede reeds teruggekeer het uit ballingskap. Hy help hulle dus om hulle prioriteite in lyn met God s’n te kry al het dit omtrent twee dekades geneem.

Let op dat die profesieë van sy boek telkens aan ‘n spesifieke adres gerig is waarna soms ook die reaksies aangedui word. Al die belangrike rolspelers van die geloofsgemeenskap word aangespreek.

Gesamentlik dien die vier profesieë dus as bemoediging van die hele teruggekeerde geloofsgemeenskap van Juda om God hulle prioriteit te maak, soos Hy inderdaad dit met hulle gedoen het.

Teks en konteks

Op 29 Augustus 520 v.C., die eerste dag van die sesde maand, die Joodse maan-maand Elul, 19 jaar ná die volk in 539 v.C. van Babel af teruggekeer het, kom die woord van die Here tot Haggai. Dit is bedoel vir die twee leiers van die volk, die goewerneur Serubbabel en die hoëpriester Jesua.

Dit is belangrik om te onthou dat die Jode dié tyd die fees van die nuwe maan gevier het. Hulle was dus nie te besig om aan die dinge van die Here aandag te gee nie, en sy woorde ter harte te neem nie.

Haggai bevraagteken die standpunt van die volk dat die bouwerk aan die tempel nie ‘n prioriteit is nie. Hy doen dit met ‘n vraag van die Here: “Is dit nou die tyd vir julle om in pragtige huise te woon terwyl my huis in puin lê?” Daarmee ontbloot God hulle verkeerde prioriteite wat tot gevolg het dat dinge ekonomies nie vir hulle wil vlot nie, al is hulle nou al amper twee dekades terug in die land: “Julle is soos ‘n dagloner wat sy loon in ‘n stukkende beursie steek.” Uitstekende metafoor wat die strawwe van die verbond uitbeeld (Deut. 28-30)!

Die Here stel dus onomwonde vir hulle die standaard, dít wat Jesus in die Bergrede eeue later ook sou beklemtoon. Dien die Here en sorg dat sy teenwoordigheid bo alles bewaar word in die geloofsgemeenskap. Dan sal hulle die sorg van die Here op alle terreine van die lewe ervaar: “Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” (Matt. 6:33).

Vir Haggai en sy mense was die fokus op die bou van die tempel, die fisiese simbool van God se teenwoordigheid in Jerusalem. Waar dít herstel sou word, dáár sou hulle die seën van die Here ook ekonomies en sosiaal ervaar, trouens: “oor alles waarmee die mens hom besig hou.

Die effek van hierdie boodskap was dat die twee leiers moed geskep het en die volk gemotiveer het om die werk aan die tempel voort te sit en klaar te maak. Hoekom? Want hulle het die woord van die Here “ter harte geneem”. Dit het die volk met soveel ontsag vervul dat hulle ongeveer drie weke later, op die 24ste dag van Ellul, die 21ste September 520 v.C., met die werk begin het. Hulle het dus hulleself in hierdie tyd gereed gekry vir die groot taak wat vir hulle gewag het.

Boodskap en betekenis

Dit tref my hoe hierdie opdrag van Haggai aan die volk om die tempel te herbou vóórdat hulle aandag gee aan hulle eie huise en omstandighede in die NT geëggo word in die woorde van die Here Jesus: “Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” (Matt. 6:33). Vir die OT gemeenskap in Haggai se tyd was die fokus op die tempel, die plek waar die geloofsgemeenskap die Here gedien het. Vir die NT gemeenskap, sowel as die Christelike gemeenskap deur die eeue daarna, is die fokus op die koninkryk van God wat in die wêreld moet kom, oral waar die Here gedien móét word. Ons fokus is dus nie op ‘n plek, die kerkgebou, nie, maar op die mense wat die boodskap van die Here moet hoor.

Vir die OT gelowiges het die Here seën belowe as hulle prioriteite reg ingestel is om te fokus op die teenwoordigheid van die Here in die tempel van Jerusalem. Vir die NT gelowiges belowe die Here sy seën as deel van hulle fokus op die teenwoordigheid van die Here tot in die uithoeke van die wêreld. Ons is geroep om getuies te wees nie net in Jerusalem nie, maar ook in Judea, en Samaria en waar daar ook al mense tot aan die eindes van die wêreld is (Hand. 1:8). Laat ons dit inderdaad dan ook nou doen!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…