Skip to main content

2 Samuel 3

Die pad na die troon is morsig

Die skrywer begin met die opmerking dat die stryd tussen Saul en Dawid ook ná Saul se dood voortgeduur het. Dawid se huis het egter al hoe sterker geword en Saul s’n al hoe swakker. Nadat Is-Boset Abner – wat Saul se neef was en lojaal aan Saul se huis – daarvan beskuldig het dat hy deur Rispa aanspraak probeer maak het op die troon skuif Abner sy lojaliteit na Dawid en kan Dawid só die hele Israel onder sy gesag konsolideer. Joab vermoor egter vir Abner op verraderlike manier wat Dawid se koningskap onder verdenking bring. Dawid doen baie moeite om sy naam skoon te hou deur sy hartseer in ‘n lied oor Abner te verewig. Hy straf egter nie Joab vir sy misdaad nie wat ongelukkig ‘n patroon raak met ander uitdagings in sy koningskap, bv in die geval van Tamar se verkragting, sowel as Absalom se opstand teen sy koningskap.

Teks en konteks

Die lys seuns wat vir Dawid in Hebron gebore is (die lys word in 1 Kron 3 aangevul) is nie om dowe neute hier geplaas nie. Drie van die ses seuns sou Dawid in die skande steek. Amnon, die oudste, sou sy suster Tamar verkrag. Absalom, die derde seun, sou nie net vir Amnon doodmaak daaroor nie, maar Dawid uitdaag vir die koningskap. En Adonia, die vierde seun, sou Salomo uitdaag vir die koningskap, en deur Salomo doodgemaak word.

Dawid het dus onderliggend dieselfde probleme met sy seuns as wat Eli en Samuel met hulle s’n gehad het. Ironies dat dit juis Salomo is, gebore na Dawid se donkerste uur, wat die patroon deurbreek, en so die eerste word wat met onderskeiding die koningskap erf.

Let ook op dat Absalom se ma ‘n Aramese prinses was, ‘n dogter van koning Talmai van Gesur, ‘n stadstaat net noord van Galilea. Laat ‘n mens wonder oor die wysheid van sulke politiese huwelike gegewe Absalom se latere opstand teen sy pa. Hierdie tipe verbintenisse word eintlik deurgaans afgekeur (1 Kon 11:4).

Die gevolge van Abner se keuse vir Is-Boset, Saul se seun, het hier ‘n ironiese en tragiese nadraai. Abner poog om sy status in Benjamin te verhoog, moontlik deur ‘n verbintenis met Rispa, die byvrou van Saul, van wie ons later weer gaan hoor (2 Sam 21). Absalom sou later dieselfde doen met sy pa se byvroue (2 Sam 16). Die teks is nie helder daaroor of daar inderdaad ‘n verhouding tot stand gekom het tussen Abner en Rispa nie, maar dit is in elk geval waarvan Is-Boset hom beskuldig.

Die gevolglike breukspul tussen hom en Is-Boset verenig ironies genoeg die Benjaminiete en die res van Israel onder Dawid se koningskap. Let op dat Abner eintlik in sy breuk met die huis van Saul erken dat die Here self vir Dawid as koning gesalf het. Is-Boset word later ook wreed deur twee bendeleiers vermoor wat die mag van Dawid verder sou versterk (2 Sam 4).

Dawid aanvaar die aanbod van Abner om in ‘n ooreenkoms met hom die volk onder sy heerskappy te verenig, maar vra ook dat Migal wat wederregtelik van hom weggevat is, as deel van die ooreenkoms aan hom terugbesorg word.

Abner se reputasie was van só ‘n aard dat Is-Boset, haar broer, aan die versoek gehoor gegee het. Let op hoe die skrywer met min woorde die impak van die elite se wandade op gewone mense weergee: “Haar man het saam met haar geloop, al huilende agter haar aan tot by Bagurim. Toe sê Abner vir hom, ‘Gaan terug!’ en hy het teruggegaan.” Paltiël was kennelik lief vir Migal, hoewel die feit dat hy ingestem het om iemand anders se vrou te neem, in elk geval ‘n verkeerde keuse was wat nou tot ‘n tragedie vir hom lei. Verbode vrugte is wel soet, maar kan jou suur bekom.

Abner verenig die “oudstes” van Israel – wat geruime tyd al ingestem het dat Dawid as koning moes dien oor Israel weens die Here se beloftes oor en aan Dawid – en al die mense van Benjamin, die stam van Saul. Sy persoonlike onderhandeling werp vrugte af en met ‘n feesmaal word dié ooreenkoms tussen Dawid en Abner beklink. Die in werking stelling daarvan word in die volgende hoofstuk vertel.

Joab was egter nie te vinde daarvoor dat dit juis Abner was wat hierdie toenadering bewerk he nie, en vermoor Abner op verraderlike wyse in ‘n hinderlaag uit weerwraak vir sy broer Asael se dood.

Let op hoeveel detail die skrywer oor Dawid se onskuld en smart hieroor gee. Hy het niks daarvan geweet nie. Hy het publieke verklarings uitgereik dat hy nie daarvoor verantwoordelik is nie. Hy het sy mense in roubeklag gelei en selfs ‘n lied vir Abner geskryf. Hy het selfs gevas om sy afgryse van Abner se dood aan almal bekend te maak.

Die moord kon immers die brose verenigingsproses uitmekaar laat val voor dit nog behoorlik in werking gestel is. Dit het die gewenste uitwerking gehad. Almal het besef dat Dawid nie enige aandeel aan die bose daad gehad het nie. En soos dit die geval was met sy optrede teenoor Saul – dat hy nie sal moor op pad na die troon toe nie – bewys hierdie optrede – dat hy dit ook nie sal goedkeur dat ander dit namens hom doen nie – aan die hele Israel dat hulle met ‘n goeie gewete hulle agter hom kon verenig.

Al negatief was dat hy nie opgetree het teen Joab nie. Hy vervloek wel hierdie neef van hom deur hom in die hand van die Here oor te gee: “Mag die Here die een wat kwaad doen, vergeld volgens die kwaad wat hy doen.” Maar, hy stel optrede teen Joab uit tot aan die einde van sy eie lewe (1 Kon 2).

Boodskap en betekenis

‘n Mens wil-wil die hartseer van Paltiël oor sy vrou Migal wat deur Dawid teruggeneem word ter harte neem. Midde-in die groter politieke spel wat die leiers speel – onthou dit was in die eerste plek Saul wat wederregtelik Migal aan Paltiël gegee het om Dawid seer te maak – kry doodgewone mense immers seer. Totdat ‘n mens onthou dat Paltiël ‘n passiewe aandeel gehad het in die hartseer wat Dawid aangedoen is deurdat hy die vrou aanvaar het wat Saul aan hom gegee het.

‘n Mens sien ook hier ‘n inkonsekwentheid  by Dawid raak wat uit vrees vir sy susterskinders, die seuns van Seruja, ‘n “hands-off” benadering teenoor Joab inneem. “Hulle is vir my te hard.” Teenoor sy onmiddelike teregstelling van die twee bendeleiers in die volgende hoofstuk toe hulle Is-Boset vermoor en sy kop as ‘n trofee by Dawid aangebring het. ‘n Mens kan nie help om te dink aan die feit dat Dawid deurgaans militêre, politiese en strategiese voordeel uit dié wrede leiers se optredes sou trek nie. Eers aan die einde van Dawid se lewe sou hy vir Joab terugkry deur Salomo opdrag te gee om Joab vir sy wandade te vergeld. Dit bly ‘n uitdaging om konsekwent die regte ding te doen, veral as ‘n mens voordeel kan trek daaruit om sekere dinge oor te sien.

Tog sien ons ook God se hand in dié komplekse geskiedenis raak, want die konflik tussen Abner en Is-Boset is een van die gebeure wat deurslaggewend is in die proses om Dawid koning van die hele Israel te maak. God vervul sy beloftes aan Dawid selfs al maak hy verkeerde keuses.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…