Skip to main content

Deuteronomium 15

Julle vrygewigheid sal in die afskryf van skuld en die vrylating van slawe sigbaar word

Teks en konteks

Moses brei verder uit oor die wyse waarop vrygewigheid hulle onderlinge verhoudinge moet tipeer. Hy fokus eerstens op die afskryf van skuld in die Sabbatsjaar om die siklus van armoede om te keer (Deut. 15:1-11). Hy fokus tweedens op die verbandhoudende voorskrif om ook alle slawe vry te laat in die Sabbatsjaar met die spesifieke opdrag om hulle in staat te stel om weer op hulle voete te kom deur behoorlik vir hulle te voorsien (Deut. 15:12-18).. Nogal revolusionêr vir meer as drie millennia gelede! Hy fokus derdens op die offer van die eerstelinge wat hulle direk aan God se eienaarskap van die eersgeborenes sedert die tiende plaag in Egipte herinner (Deut. 15:19-23).

Julle vrygewigheid word sigbaar in die afskryf van skuld in die Sabbatsjaar – Deuteronomium 15:1-11

Daar word ‘n onderskeid gemaak tussen die Jode en die nie-Jode. Aan die einde van elke sewende jaar moes hulle alle skuld afskryf sodat die siklus van armoede omgekeer kan word onder hulle volksgenote. Dit word aan hulle gehoorsaamheid aan die Here gekoppel wat sal sorg dat die voorspoed wat hulle beleef ook alle ander mense baat. Hulle sal selfs aan die ander nasies kan leen, só voorspoedig sal hulle wees.

Vergelyk Levitikus 25 – God se eienaarskap van die land word met die Sabbatsjaar en Jubeljaar gevier – waar ek by bybelskool.com meer daaroor geskryf het, en veral die belangrike begronding in die feit dat alles aan God behoort, uitlig.

Moses wil daarmee enige suinigheid en hardvogtigheid teenoor armes voorkom. Trouens, hulle vrygewigheid moet selfs insluit dat hulle vir hulle leen wat hulle nodig het selfs al is die sewende jaar op hande, en jy weet dat jy die skuld sal moet afskryf! God sal jou beloon. Daarop kan jy reken. Waak dus teen sondige gedagtes wat God se reëling téén jou broer hou … ‘n gedagte wat die grondslag vir Johannes se praktiese voorskrifte vir naasteliefde in die NT in dié verband is (1 Joh. 4:11-17).

Julle vrygewigheid word sigbaar in die vrylating van slawe in die Sabbatsjaar – Deuteronomium 15:12-17

Dieselfde voorskrif vir die afskryf van skuld geld oor die voorskrif vir die vrylating van slawe. Behalwe, hulle mag nie leë hande vrygelaat word nie. Hulle moet ‘n behoorlike deel van jou kleinvee, graan en wyn kry. Trouens, van alles waarin die Here jou voorspoedig gemaak het. God se seën aan jou was bedoel om ‘n seën vir ander te wees. Dit word in God se seën sowel as in sy verlossing uit Egipte gefundeer. Lees meer in my bydrae by bybelskool.com oor Eksodus 21 – Sorg vir mense en hulle diere. Daar was ook die opsie om as slaaf aan te bly, maar uit eie keuse.

Elke eersteling word aan die Here gewy – Deuteronomium 15:19-23

In herinnering aan die tiende plaag in Egipte behoort elke eersteling aan die Here, benewens die tiende van hulle vee en landbou. Hy is nie net die Bevryder uit Egipte nie, maar ook die Eienaar van alles wat hulle het. Vergelyk Eksodus 13, Levitikus 27, en Numeri 3 vir meer inligting hieroor.

Boodskap en betekenis

Wanneer Jesus in die laaste “heilige” week van sy aardse lewe die vrou wat sy voete in die huis van Simon in Betanië salf, beskerm teen sommige wat beswaar maak teen die gewaande vermorsing, en kla dat die geld beter op armes spandeer kon word, gebruik Jesus Deuteronomium 15:11 om hulle skynheilige onbarmhartigheid uit te wys.

In Deuteronomium word die verpligting om vrygewig teenoor die armes te wees aan dié wat meer het, opgedra. Die klaers stel hulle onbarmhartigheid dus aan die kaak deur oor die vrou te kla. In die proses probeer hulle boonop haar keer om iets goeds vir die Here te doen (Vgl Matt 25:35-45; 26:11. Joh 12:7-8. 2 Kor 9:13-14. Fil 7; Jak 2:14-16; 1 Joh 3:16-19).

  • Wat is die kern van die boodskap van dié hoofstuk vir jou dag en lewe – insigte, beloftes, of opdragte?
  • Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar