Skip to main content

Amos 1:1-2:16

Die Here brul teen die nasies

Vervolgens fokus ons op die boodskap van drie Skrifprofete wat in hierdie tyd optree: Amos, Hosea (1-5:7), en Jesaja (1-6):

  • Amos (762-746 vC) – Ussia (Juda) en Jerobeam II (Israel)
  • Hosea 1-5:7 (758-722 vC) – Ussia, Jotam, Agas, Hiskia (Juda), en Jerobeam II (Israel)
  • Jesaja 1-6 (742-681 vC) – Ussia, Jotam, Agas, Hiskia (Juda)

Eerste aan die beurt is die boek Amos, tydgenoot van Jesaja, Jona, Miga en Hosea. Amos roer die wydverspreide problematiek van ongeregtigheid aan, sowel as om die Noordryk op te roep tot hereniging met die Suidryk van Juda, gemotiveer met die belofte van die herstelde Dawidiese koninkryk met Jerusalem as sentrum.

Amos tree op in die tyd van koning Ussia van Juda, en Jerobeam II van Israel, twee jaar voor die aardbewing van 760 vC (1:1 – dié datum is argeologies vasgestel, hoewel daar ‘n speling van ‘n dekade weerskante toegelaat word).

Amos se onverskrokke ontbloting van sosiaal-polities onreg (verdrukking, uitbuiting, afpersing en mishandeling van armes en weerloses tot eie voordeel; onsedelikheid; gewelddadigheid; verontregting en omkopery in die regstelsel; ongebreidelde geldgierigheid) sowel as geestelik-godsdienstig onreg (sinkretistiese afgodediens) is een van die beste beskrywings van hoe ‘n samelewing kan ontspoor.

Ons weet min van Amos as persoon af, maar weet dat hy, volgens eie getuienis, nie ‘n profeet van beroep of deel van ‘n profeteskool was nie (7:14). Hy was ‘n veewagter – nie noodwendig ‘n skaapboer soos in die NAV vertaal word nie – uit Tekoa, suid van Jerusalem (1:1-2), en het ook omgesien na vyebome, ‘n seisoenswerk waarin vye geprik is om vinniger ryp te word (7:14). Dáár het die Here hierdie veewagter geroep om as profeet op te tree en veral die noordelike ryk aan te spreek (7:15), hoewel dit ook die nasies en Juda ingesluit het.

Teks en konteks

In agt verwante profesieë word die Here se afgryse en veroordeling van die sosiale, nasionale en geestelike wanpraktyke van die omringende nasies uitgespreek:

  • die Arameërs (Damaskus – vandag Sirië – oor geweld teen vroue en kinders),
  • die Filistyne (Gasa – vandag Palestynse gebied – oor kontrakbreuk),
  • die Fenisiërs (Tirus – vandag in Lebanon – oor mensehandel),
  • die Edomiete (Teman, Bosra – vandag in Jordanië – oor ‘n gebrek aan broederliefde),
  • die Amonniete (Rabba – vandag deel van Jordanië – oor geweld teen vroue en ongebore kinders), en
  • die Moabiete (Kerijot – vandag deel van Jordanië – oor disrespek vir die dood).

By dié veroordeling word Juda, die suidryk (oor sinkretistiese afgodediens), ook ingesluit, maar die langste en wydlopendste veroordeling word aan Israel, die noordryk (oor sosiale ongeregtigheid én minagting van die Here), afgestaan. Daarop word ook verder in die volgende hoofdeel van Amos uitgebrei.

Die profesieë word telkens ingelei met die frase: “So sê die Here …”, waaraan ‘n idiomatiese uitdrukking gekoppel is wat God se afgryse van wat hulle doen, oordra: “Oor drie oortredings van (xxx – naam van nasie), ja, oor vier, sal Ek dit nie herroep nie …” Dit is nie bedoel om ‘n presiese aantal oortredings aan te wys nie, maar net die herhalende aard van hulle oortredings en die onherroeplikheid van God se oordeel daaroor te onderstreep.

Amos 1:3-5 – Téén die Arameërs – oor geweld teen kinders en vroue

Die Arameërs word verkwalik vir koning Gasael se wrede optrede teen Israel by Gilead, gemik teen weerlose lede van die bevolkinge, d.w.s. geweld teen kinders en swanger vroue, waaroor die profeet Elisa só getreur het – iets waarvoor die Ammoniete ook later verkwalik sal word. Die Here straf hulle deur hulle na hulle land van oorsprong, Kir in die oostelike dele van Mesopotamië (vgl ook Amos 9:7), in ballingskap weg te voer. Daarmee maak die Here eintlik hulle hele geskiedenis en ontwikkeling ongedaan. Dit is asof Hy hulle bestaan ongedaan en onbenullig maak. Hulle sal nie meer van enige betekenis wees nie. Bikat-Awen is onbekend en Bet-Eden waarskynlik ‘n stad in die noorde.

Amos 1:6-8 – Téén die Filistyne – oor mensehandel

Die Filistyne en hulle vier stede, Gasa, Asdod, Askelon, en Ekron, word verkwalik vir hulle mensehandel, waarskynlik met mense van Juda/Israel, hoewel dit nie histories gespesifiseer word nie. Hulle het gewone landsburgers in ballingskap weggevoer en aan die Edomiete verkoop. Die vuur van God se toorn sal oor hulle losbreek. Dieselfde sonde word op verskillende maniere ook by die volgende twee nasies aangespreek.

Amos 1:9-10 – Téén die Fenisiërs – oor kontrakbreuk

Die Fenisiërs, en hulle stad Tirus, word vir ‘n soortgelyke sonde aangespreek, die sonde van mensehandel, maar met die klem op die kontrakbreuk wat hulle gepleeg het. Hulle het nie aan: “die ooreenkoms met sy bondgenote gedink nie.” Moontlik word hier gedink aan die verskillende kontrakte wat Dawid (2 Sam 5:11 – boumateriaal en die bou van sy paleis), Salomo (1 Kon. 5:1 – hulle het belasting aan hom betaal) en Agab (1 Kon. 16:31 – die troue met Isebel was deel van sy kontrak met die Fenisiërs) met hulle deur die eeue gesluit het. Die vuur van God se toorn sal ook oor hulle losbreek.

Amos 1:11-12 – Téén die Edomiete – oor ‘n gebrek aan broederliefde

Die deler is natuurlik net so goed soos die steler. Edom – die stad Teman word genoem – kom dus ook aan die beurt in die Here se veroordeling van hulle sonde. Hulle het mensehandel toegelaat en só die broederliefde met Juda en Israel verloën. Dit vorm natuurlik deel van die jarelange vete tussen dié twee nasies: “Tot vandag toe is Edom in opstand teen die gesag van Juda.” (2 Kon. 8:22). Hulle word egter nie daarvoor verskoon nie. Die vuur van God se toorn sal steeds oor hulle losbreek weens dié gebrek aan broederliefde.

Amos 1:13-15 – Téén die Ammoniete – oor geweld teen vroue en kinders

Die Ammoniete, waarvan die enigste stad, Rabba, genoem word, word veroordeel vir dieselfde sonde as die Arameërs in Gilead – geweld teen swanger vroue en ongebore kinders. Daar is waarskynlik nie ‘n spesifieke historiese gebeure in die oog nie, want die stryd met Juda en Israel het eeue lank geduur. Lees die verhale in Rigters en Samuel om ‘n idee te kry van hoe langdurig en wreed hulle teenoor die Godsvolk opgetree het, spesifiek in die gebied van Gilead wat aan hulle eie gebied grens (Rigt 3 – tyd van Ehud; Rigt 10-11 – tyd van Jefta; 1 Sam 11 – tyd van Saul; 2 Sam 10 – tyd van Dawid). Die vuur van God sal in oorlog teen hulle uitbars soos ‘n storm of ‘n orkaan en hulle self in ballingskap laat wegvoer.

Amos 2:1-3 – Téén die Moabiete – oor disrespek vir die dood

Die Moabiete word vir hulle disrespek vir die begrafnisrituele vir gestorwe soldate, veroordeel, spesifiek die feit dat hulle die bene van die koning van Edom se koning tot kalk verbrand het. Daarmee het hulle probeer om simbolies enige hoop op ‘n hiernamaals vir die koning te ontsê. Dit getuig van die diepste moontlike minagting vir mense met wie hulle ‘n gemeenskaplike afkoms gedeel het. Moab was ‘n afstammeling van Lot, Abraham se broerskind. Edom was ‘n afstammeling van Isak, Abraham se eie kind. Dieselfde lot sal hulle tref as die Ammoniete, ironies genoeg, die naaste familie in terme van afkoms. Moab en Ammon was die twee broersvolke wat van Lot afgestam het.

Amos 2:4-5 – Téén Juda – oor sinkretistiese afgodediens

Die Here se gramskap ontvlam ook teen Juda, maar nie soseer oor hulle sosiale of nasionale oortredinge nie, maar ten diepste oor die feit dat hulle die voorskrifte van die Here, sy wet, verwerp het. Hulle sinkretistiese afgodediens laat die toorn van God ook oor hulle losbreek.

Amos 2:6-16 – Téén Israel – oor sosiale ongeregtigheid en minagting van die Here

Die groot vrot appel in die mandjie is egter die noordryk, Israel. Amos brei uit oor die omvang van hulle sondes: mensehandel, mishandeling van armes, verontregting van weerloses, en growwe onsedelikheid. Asof dít nie genoeg is nie, kom hulle steeds na die altare en die huis van die Here met die getuienis van hulle onreg by hulle – klere wat afgeneem is, wyn wat by ander gebuit is. Godsdienstige mense het dus nie geskroom om op ongodsdienstige wyse op te tree, en te dink dit maak nie saak vir die Here nie!

Die Here wys hulle dan op hulle geskiedenis waarin Hy hulle nie net uit Egipte verlos het nie, maar juis plek vir hulle gemaak het in die land van ander volkere. Net die Amoriete word hier genoem, hoewel hulle waarskynlik as ‘n sinoniem vir die Kanaäniete gebruik word, die plek waar die Israeliete histories hulle gevestig het (Stuart).

Die Here het boonop vir hulle toegang tot Homself gegee, profete wat as sy woordvoerders en intersessors kon optree, en nasireërs wat aan Hom toegewy kon lewe as voorbeeld vir die volk (vgl Num 6). God se begeleiding het dus nie net die Uittog en die Intog ingesluit nie, maar ook die begeleiding in hulle Vestiging in die land.

Dié toegang is egter belemmer deurdat die profete en nasireërs belet is om hulle werk te doen. Daarom sal die Here hulle nou aan hulle eie lot oorlaat. Niemand sal hulleself van God se toorn kan red nie. “Selfs die sterkste soldaat sal daardie dag kaal wegvlug.” Die dag van die Here sal dus niemand spaar wat Hom en sy leiding nie erken nie!

Boodskap en betekenis

Die oordeel van die Here oor sosiale en nasionale ongeregtigheid sowel as afgodediens is brutaal en onherroeplik. ‘n Mens lees verniet vir ‘n sweempie van tegemoetkoming in hierdie eerste twee hoofstukke van Amos.

Dit is doelbewus. Die Here is téén alle wanpraktyke wat die geloofsgemeenskap sowel as die breër wêreldgemeenskap bedreig. In God se oë kan geen geweld teen vroue en kinders, geen onderlinge kontrakbreuk, geen mensehandel, geen gebrek aan broederliefde, selfs geen disrespek vir die dood ooit geregverdig en/of toegelaat word nie. Nooit en nêrens nie.

Uiteraard het Hy ook ‘n afkeer aan sinkretistiese afgodediens , maar die toppunt vir Hom is as ‘n mens dink jy kan sosiale ongeregtigheid en jou godsdienstige lewe kombineer. Die Here beskou dit as ‘n totale minagting van Homself, laat staan nog wat dit aan ander doen. Dít is die dinge waaroor sy toorn ontvlam, maak nie saak by wie dié dinge voorkom nie – by sy volk of by die nasies.

Amos sal wel later ‘n oproep maak tot bekering waaraan hy ‘n belofte tot herstel sal koppel (hfst 5), en hy sal sy boek afsluit met ‘n profesie van ‘n lotsverandering in die toekoms. Maar hier aan die begin van sy boek wil hy sy hoorders onder geen illusies laat nie. Die Here eis onverdeelde trou aan Homself én aan die mense wat Hy gemaak het, maak nie saak wie of wat hulle is nie – vriend, vyand, man, vrou, groot, klein, dood of lewend – ALLE MENSE.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar