Skip to main content

Psalm 146

Ek wil my God besing solank as wat ek bestaan

Psalm 146-150 sluit die vyfde Psalmboek, trouens die hele boek van die Psalms, af met vyf Halleluja-lofliedere. Dit is dus ‘n gepaste afsluiting ook vir die kronologiese lees van die OT.

Telkens verskyn dié opskrif in hierdie vyf Psalms: “Halleluja!” – dit beteken: “Prys die Here!

  • Psalm 146 raai die geloofsgemeenskap aan om op die Here te vertrou, nie op mense nie. Die redes vir ons lof lê in God se kongruente karakter. Jy kan staatmaak daarop dat Hy is en doen soos Hy Hom in die Skepping en die lewe openbaar.
  • Psalm 147 raai die geloofsgemeenskap ook aan op die Here te vertrou, maar begrond dit in God se vreugdevolle versorging wat Hy ten toonstel in die natuur sowel as in die geskiedenis van sy mense: ”Die Here vind vreugde in hulle wat vir Hom ontsag het.
  • Psalm 148 brei die oproep tot lof uit tot die hele heelal – skepsels en skeppings. Die redes vir die lof lê in God se betroubare bevestiging van alles wat leef.
  • Psalm 149 roep die geloofsgemeenskap op om God te loof in hulle byeenkomste. Die redes vir die lof lê in God se goedgesindheid aan sy getroue volgelinge.
  • Psalm 150 roep alles wat asem het op om God te loof: “na die omvang van sy grootheid.”

God is dus kongruent in sy karakter, vreugdevol in sy versorging, betroubaar in sy bevestiging, goedgesind teenoor sy getroue volgelinge, en onpeilbaar groot in sy omvang. Sela.

Teks en konteks

Die Psalmis sing die geloofsgemeenskap toe en rig beide sy lof aan die Here self sowel as aan die geloofsgemeenskap om op die Here te vertrou. Soos hy die Here se lof wil besing solank as wat hy bestaan, só wil hy hê dat die gelowiges dit sal doen.

Hy trek ‘n sterk kontras tussen die vertroue op mense en God. Mense kan nie uiteindelik vertrou word nie, want hulle is sterflik, selfs al sou hulle vir ‘n tyd lank iets kon beteken. Dit is net die Here wat trou bly tot in ewigheid, want Hy leef inderdaad van ewigheid tot ewigheid.

Die dieptepunt van sy vertroue in God lê in God se kongruente karakter. Jy kan staatmaak daarop dat Hy is en doen soos Hy Hom in die Skepping en die lewe openbaar: “Hoe gelukkig is die mens wat die God van Jakob as sy bystand het, wie se hoop gevestig is op die Here, sy God … wat hemel en aarde gemaak het …. wat die reg van verdruktes handhaaf, aan hongeres brood gee.

Let op die tien beskrywings van God se karakter in vers 6-9,:

  • Die Here bly trou tot in ewigheid,
  • Die Here handhaaf die reg van verdruktes,
  • Die Here gee aan hongeres brood,
  • Die Here bevry gevangenes,
  • Die Here maak blindes se oë oop,
  • Die Here rig dié op wat terneergedruk is,
  • Die Here het regverdiges lief,
  • Die Here beskerm vreemdelinge,
  • Die Here help vaderloses en weduwees op,
  • Die Here maak die pad van goddeloses krom.

Dit is soos die “Tien Gebooie” van God se karakter waarop jy nie net regtig kan vertrou en in gebed voor die Here kan bring dat Hy dit waarmaak nie, maar wat jy in jou lofprysing aan God kan gebruik.

Boodskap en betekenis

Skryf hierdie tien gebooie van God se karakter op ‘n kaartjie, en herinner jouself deur die dag daaraan, dat dit dié God is wat jou God is: “Hoe gelukkig is jy …!”Soos die ou beryming van Psalm 146 gelui het:

Prys die HEER met blye galme,

o my siel, daar ‘s ryke stof!

‘k Sal, solank ek leef, my psalme

vrolik toewy aan sy lof

en Hom, wat sy guns my bied,

altyd groot maak in my lied.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…