Skip to main content

Spreuke 25:1-28

Wyse mense tree met respek op

Spreuke 25:1-5

Die tweede bundel van spreuke van Salomo – Spreuke 25-29 – in die boek is lank ná sy tyd versamel en geredigeer deur koning Hiskia se amptenare, soos Spreuke hier vir ons inlig. Dws ongeveer 2 eeue na Salomo in die 8ste eeu vC. Hiskia het geregeer van 716-687 vC.

Die woord vir “opgeteken” in Spreuke 25:1, kan ook met “georden” vertaal word, wat waarskynlik beteken dat ‘n klomp losstaande spreuke wat aan Salomo toegeskryf is in rubrieke of volgens onderwerpe ingedeel is. Hierdie bundel van vyf hoofstukke werk veral met twee tipes spreuke:

  • komplementerende sinteses wat dieselfde gedagte versterk (“Wie ’n ander voorspoed gun, sal self oorvloed hê. Wie die dors van ander les, sal self genoeg kry as hy dors is.” – Spr 25:11), en
  • aanvullende sinteses waar die tweede stelling die eerste stelling aanvul, uitbou of afrond (“Miswolke en wind, maar geen reën nie, so is iemand wat spog met wat hy sal gee en dit nooit gee nie” – Spr 25:14).

Spreuke 25:1-28 bevat 9 temas oor wysheid wat ek saamvat onder die oorhoofse tema: “Wyse mense tree met oorleg op.” Dit sal in hoofstuk 26 gekontrasteer word met 14 temas oor dwaasheid.

Vers 1 is natuurlik die inleiding op die vyf hoofstukke. Wat my tref, is hoe die reeks spreuke in hierdie hoofstuk versigtigheid, nadenke, selfbeheersing en emosionele volwassenheid aanprys. Dit laat my dink aan die idioom: “om te dink voordat jy doen.”

Tema 1 – Wees versigtig vir konings

In die eerste sewe verse het ons spreuke wat die aura en misterie van konings beskryf om mense te waarsku om baie versigtig met konings om te gaan:

Vers 2. Konings het eerstens – ideaal gesproke – ‘n ondersoekende geaardheid. Dit is positief. Hulle word nie maklik geflous nie.

Vers 3. Konings het egter tweedens misterieuse en onpeilbare gedagtes. Jy moet sorg dat jy nie deur hulle geflous word nie.

Vers 4-5. In die derde plek is konings feilbaar in die geselskap van goddeloses. Kyk dus goed wie die mense is waarmee die koning homself omring, of wie die mense is wat die koning se aandag probeer trek.

Spreuke 25:6-7

Vers 6-7. Konings het in die vierde plek ‘n sensitiwiteit vir mense wat hulle mag bedreig. Tree dus met uiterse versigtigheid op in jou kommunikasie met konings.

Konings is dus ondersoekend, maar onpeilbaar, as ‘n mens vers 6-7 in die lig van vers 1-5 lees. Feilbaar en uiters sensitief. Hierdie spreuke oor die karakter van konings bly steeds ‘n raak opsomming van beide die uitdaging om ‘n koning te wees, en nog dieper, om met ‘n koning saam te werk.

Spreuke 25:8-10

Tema 2 – Behou goeie buurmanskap.

Hierdie twee spreuke leer ‘n mens om versigtig te wees om:

  1. sommer vinnige gevolgtrekkings te maak oor jou buurman sonder om eers ‘n in diepte ondersoek te doen van wat jy waargeneem het (Spr 25:8) en
  2. as jy wel dink dat jy ‘n saak teen hom het, baie seker te maak van jou feite, selfs al maak jy staat op dinge wat vertroulik vir jou gesê, anders kan jy lelik op jou neus kyk as iemand anders dié feite nie kan rugsteun nie (Spr 25:9-10).

Spreuke 25:11-14

Tema 3 – Kies die regte woord op die regte tyd.

Hierdie drie spreuke het almal te make met die wyse waarop woorde gebruik word. Wyse woorde op die regte tyd is bewonderenswaardig (“skillful”) en kosbaar (beeldskoon, waardevol, kunstig – Spr 25:11-12). Dit kom op die regte tyd en gee moed (Spr 25:13) teenoor die leë woorde van belofte wat niks oplewer nie (Spr 25:14).

Spreuke 25:15

Tema 4 – Geduld en selfbeheersing bring jou ver.

Die volgende drie spreuke in vers 15-17 het almal met geduld en selfbeheersing te make.

Vers 15 verduidelik dat stille volharding mense in gesagsposisies oorhaal. ‘n Sagte tong het ‘n verstommende krag. Dit kan bene breek! Dit is waarom Petrus beskeidenheid voorskryf in ons interaksie met die wêreld, want dit hou nie net ons gewetens skoon nie, maar dit bring teenstanders tot insig (1 Pet 3:15-16). Spreuke het dié boodskap al drie keer gebring (Spr 15:1; 15:14, 32). ‘n Mens kan dit maar glo!

Spreuke 25:16

Dieselfde geduld en selfbeheersing is nodig in jou eie lewe geïllustreer in ’n mens se liefde vir soetgoed. Jy het nie gedink die Bybel sal daaroor iets te sê het nie, nê! Geniet dit matig. Dit werk die beste.

Spreuke 25:17

Dieselfde geduld en selfbeheersing moet jy toepas in jou verhouding met jou buurman. Kuier, maar moenie sy drumpel deurtrap met jou kuiery nie.

Spreuke 25:18-20

Tema 5 – Onvanpaste woorde maak seer.

Hierdie drie spreuke in vers 18-20 handel al drie oor die leed wat onvanpaste woorde ander aandoen.

Vers 18 waarsku ons dat valse getuienis jou naaste verwoes. Dit is asof jy hom tegelykertyd met drie wapens bykom: ‘n knopkierie, ‘n swaard en ‘n skerp pyl.

Vers 19 wys hoe onbetroubaarheid in sulke tipe konflik bydra tot die een wat bygekom word se benoudheid. As een wat jy vertrou het jou in die steek laat, is dit soos ‘n slegte tand wat breek as jy daarop kou. Of ‘n voet wat swik as jy jou gewig daarop plaas.

Vers 20 waarsku daarby dat as jy die hartseer ignoreer – die bedroefde een met ‘n vrolike lied verwelkom asof niks gebeur het nie – dan is jy soos een wat die bedroefde, wat alreeds koud kry, se klere uittrek, of sy pyn vererger deur asyn (suur) op bytsoda (alkali) te gooi. Suur op alkali laat die alkali opbruis en vernietig die aard daarvan (dit raak sout).

Spreuke 25:21-22

Tema 6 – Jy moet jou vyand liefhê.

Die opdrag om jou vyand kos en water te gee, al haat hy jou, val ’n mens op. En let op hoe konkreet dit uitgespel word. Brood vir die honger vyand. Water vir die dors vyand (vgl Spr 24:17-18). Dié lewenshouding gee ’n ander perspektief op die gangbare moraal van ’n oog-vir-’n-oog, soos dit op ’n hele paar plekke in die OT beskryf word.

Dit neem selfs die opdrag in die OT om jou naaste lief te hê, soos Levitikus 19:17-18 dit van ons vra, ’n bietjie verder, en maak naasteliefde van toepassing nie net op mense van jou eie (volks-)gemeenskap nie, maar van toepassing selfs op jou vyande.

Dat die Here jou daarvoor sal vergoed, teken ook ’n kant van God waarin sy regverdigheid nie net sy geliefdes insluit nie, maar ook dié wat teenoor Hom staan. Waarskynlik lê hieragter die hoop op versoening, waarin God hoop dat deur só ’n optrede die vyand juis tot inkeer sal kom, vuurrooi van skaamte sal word (letterlik: “gloeiende kole op sy kop” wat waarskynlik metafories vir bloos gebruik word), wanneer hulle onverdiende genade ervaar in nood.

Dié perspektief op die lewe bereik natuurlik eers volle wasdom in die lewe van Jesus, waar Hy die verhaal van die Barmhartige Samaritaan vertel om dié punt verder in te skerp (Luk 10:25-37). En Paulus haal uit dié spreuk aan as hy oor die Christelike lewenswandel praat (Rom 12:20-21). Oorwin die kwaad deur die goeie!

Spreuke 25:23-25

Tema 7 – Goeie kommunikasie maak saak.

Hierdie drie spreuke in vers 23-25 onderstreep die waarheid van goeie kommunikasie van verskillende kante af.

Vers 23: agteraf praat (’n tong wat in die geheim praat, dws skinder) maak kwaad – dis so seker as wat die noordewind reën bring.

Vers 24: twis by die huis is onuithoudbaar (vgl Spr 21:9).

Vers 25: goeie berigte van veraf is soos koue water vir ’n moeë mens se dors.

Spreuke 25:26-27

Tema 8 – Staan sterk vir die waarheid

Die volgende twee spreuke beklemtoon die waarheid in alles wat jy doen.

Vers 26: Jy moet sterk staan vir die waarheid as die goddeloses jou aanvat. Jy moet geen kompromie aangaan nie, anders verloor jy jou integriteit.

Vers 27: Terselfdertyd moet jy nie val vir die versoeking om jou eie eer soek nie. Dit is soos soetgoed wat met matigheid en selfbeheersing hanteer moet word (vgl Spr 25:16). Integriteit lê in sterk staan vir die waarheid en in die aflê van eersug.

Spreuke 25:28

Tema 9 – Tree met selfbeheersing op

Die laaste vers van hoofstuk 25 beklemtoon dat jy met selfbeheersing moet optree teenoor mense wat jou probeer uitbuit of aanvalle teen jou loods. As jy jou selfbeheersing verloor, sal jy weerloos raak soos ‘n stad sonder ‘n beskermde muur.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.