Skip to main content

Psalm 36

Laat U liefde bly by dié wat U erken

Dawid word hier net soos in Psalm 18 as die dienskneg van die Here beskryf, die enigste twee keer wat dit in die Psalmboek gedoen word. Daarom hanteer ek dit hier.

Teks en konteks

Psalm 36 is een van ‘n reeks wysheid Psalms – Psalm 34-37. Hulle gee veral onderrig in die wyse waarop ‘n mens wys kan lewe. Ook hierdie Psalms vertoon ’n chiastiese patroon. Psalm 34 en 37 is weereens akrostiese Psalms (elke versreël begin met ’n opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet) wat die wysheid om in God se teenwoordigheid te lewe, besing en aan die gemeenskap van gelowiges onderrig gee daarin. Psalm 35 en 36 is gebede om verlossing van mense wat goddeloos lewe, dws dwaas en onwys kies om nie in God se teenwoordigheid te lewe nie en in wie se lewe die opstand teen God die laaste woord het (Ps 36:2)!

Dwaasheid

Die Psalm begin met ’n waarneming wat van die diepsinnigste is wat ek al in die Psalms teëgekom het: “In die hart van die goddelose het die opstand teen God die laaste woord.” En dit is nie net omdat die vers so ‘n raak beskrywing van die goddelose gee nie, maar omdat die omgekeerde daarvan net so waar is: “In die hart van die gelowige het die oorgawe aan God die laaste woord.”

Dit is wat dwaasheid is – opstand teen God. Dit is wat wysheid is – oorgawe aan God. ‘n Mens kan allerlei argumente oor God se bestaan en sy betrokkenheid in hierdie lewe aanvoer, daarteen en daarvoor. Maar uiteindelik kom dit neer op wat die laaste woord in jou hart het – die opstand teen God en die idees oor en van Hom; of die oorgawe en geloof in die bestaan en ingrype van God. Die frase beskryf ‘n lewe in ongeloof; die omgekeerde ‘n lewe in geloof. (Onthou Psalm 14 en 53 wat soortgelyke gedagtes het!)

‘n Mens kan die Psalm se absolute beskrywing van die goddelose – “praat net goed oor homself”, “altyd daarop uit om kwaad te doen en om te haat” (vers 2-3) as ‘n hiperbool neem. Maar die punt wat Dawid maak is steeds geldig: dat die laaste woord in goddelose harte die opstand teen God is.

Wysheid

Let op hoe Dawid se beskrywing van die gelowige nie in die eerste plek fokus op wat hy of sy vir God doen, of hoe hulle lewe anders is as die goddeloses nie. Hy fokus op wie God is vir hulle – “u liefde reik tot in die hemel, u trou tot in die wolke, u geregtigheid tot op die hoogste berge, die reg wat U spreek tot in die dieptes van die see.” Van so hoog af as wat Dawid kan dink, tot so laag as wat dit kan gaan, so omvattend is God se liefde, trou, reg en geregtigheid vir sy mense.

‘n Mens kan nie anders as om hier aan Paulus te dink wat vir die Efesiërs bid dat hulle “saam met al die gelowiges kan begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek” en dat hulle “die liefde sal ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan”, en dat hulle “heeltemal vervul sal word met die volheid van God.” (Ef 3:14-21)

Waar ‘n goddelose – dit beteken om God-loos te lewe – se lewe om homself draai en sy beperkte area van belange, draai die lewe van ‘n gelowige – dit beteken om God-gesentreerd te lewe. Om God self en God se omvattende belange “die laaste woord” in jou lewe te laat speel.

En dit is hierdie God wat sorg vir mens en dier – selfs vir die goddeloses (vers 7)!

En Dawid kan nie uitgepraat raak nie oor God se trou, sy beskerming, die oorvloed wat Hy gee, die strome van goedheid wat Hy sy mense laat drink (vers 8-9). Hy is die bron van lewe. Deur sy lig lewe ons (vers 10).

Wat hom in gebed laat vertoef by die versugting dat hierdie belydenis oor God nog dieper in die werklikheid van gelowiges se lewe tot sy reg sal kom, en dat hulle nie onder die aanslag van die eiegeregtige mense platgeslaan sal word nie. Dié lot moet eerder die goddeloses self tref.

Boodskap en betekenis

Dawid bid hier dat God sal aanhou om sy standvastige liefde en geregtigheid te wys aan diegene wat Hom ken en kies. Hy bid ook dat God hom teen die goddelose sal beskerm. Hierdie twee versoeke is ook die hart van ons gebed om in hierdie lewe die wyse pad nie net te kan onderskei van die dwase een nie, maar volhardend daarvoor te kies.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…