Die betekenis van Hemelvaart

Die Hemelvaart van Jesus is van groot betekenis vir die kerk van die Here Jesus Christus.

Ek het al baie gepreek daaroor, nie net op Hemelvaart nie, maar ook op ander Sondae. Maar, ek het nog nooit ‘n Kategismuspreek daaroor gelewer nie. En wil dit nou graag doen.

Ek gaan op Sondag 18 uit die Heidelbergse Kategismus fokus, want dit bly die beste verwoording van die Bybelse boodskap oor die Hemelvaart. In die proses gaan ons na meer as 30 verwysings in die Bybel kyk. Ek plaas elke verwysing volledig in hierdie teks, sodat jy  jou kan verdiep daarin.

Jy kan ook op Youtube daarna kyk.

‘n Bietjie agtergrond oor die Heidelbergse Kategismus

Die Heidelbergse Kategismus is in Heidelberg, op versoek van Frederik lll, die Kroonprins van Palatinate, een van die invloedrykste provinsies in Duitsland, geskryf. Hierdie vroom Christen prins het die agt-en-twintigjarige Zacharius Ursinus, professor in teologie aan die Universiteit van Heidelberg, en Casper Olivianus, ses-en-twintig jaar oud en hofprediker, opdrag gegee om ‘n kategismus (leerboek) op te stel om die jeug te onderrig en leiding aan predikers en onderwysers te gee.

Die kategismus is gou in 52 dele verdeel, sodat ‘n deel van die kategismus elke Sondag van die jaar aan die kerk geleer kon word. Die eerste prediker wat hierdie patroon gevolg het was die Nederlander Pieter Gabriel. Hy het elke Sondag vir ‘n jaar lank die Heidelbergse Kategismus aan sy gemeente in Amsterdam gedurende die Sondagmiddagdiens geleer.

Die Heidelbergse Kategismus is in baie tale vertaal en is die invloedrykste en die mees algemeen aanvaarde kategismus uit die Reformasie. Ook in ons eie kerk.

Sondag 18

46 Vraag: Wat verstaan jy onder: wat opgevaar het na die hemel?

Antwoord: Christus is voor die oë van sy dissipels van die aarde af na die hemel opgeneem

Drie verwysings uit Markus en Lukas se Evangelies sowel as Handelinge word gegee om die hemelvaart in die geskiedenis te anker.

  • Lukas sê dat die dissipels ooggetuies was: “Hy is opgeneem terwyl hulle toekyk, ‘n wolk het Hom uit hulle gesigsveld weggeneem.” (Hand 1:9)
  • Markus sê dat dit tydens een van Jesus se gesprekke met hulle gebeur het: “Nadat die Here Jesus met hulle gepraat het, is Hy in die hemel opgeneem en het aan die regterhand van God gaan sit.” (Mrk 16:19)
  • Lukas voeg in sy Evangelie by dat dit gebeur het: “Terwyl Hy hulle seën. Hy het van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem.” (Luk 24:51)

Die Kategismus vervolg dan om die betekenis van die Hemelvaart vir ons uit te spel:

en Hy is vir ons daar ten goede.

Vier verwysings van die Hebreërskrywer en Paulus word as bevestiging aangehaal.

  • Hebreërs skryf dat Jesus nou ons Voorspraak in die hemel is: “Christus het nie ‘n mensgemaakte heiligdom, ‘n nabootsing van die ware een, binnegegaan nie, maar die hemel self, om nou ter wille van ons voor God te verskyn.” (Hebr 9:24)
  • Hebreërs skryf ook dat Jesus nou ons Hoëpriester is en dat dit ‘n belydenis is wat ons styf moet vashou: “Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons styf vashou aan ons belydenis.” (Hebr 4:14)
  • Hoekom? Want, sê Paulus, in Romeine 8, die oordeel van God is van ons afgewend: “Wie sal ons veroordeel? Dit is Christus Jesus wat gesterf het; meer nog – wat opgewek is, wat ook aan die regterhand van God sit en wat ook vir ons intree.” (Rom 8:34)
  • Dit is hoekom dit so belangrik is dat ons hemelsgesind sal lewe, met ons oog gevestig op die hemelse dinge. Paulus skryf in Kolossense 3: “As julle dan saam met Christus opgewek is, streef na dit wat daarbo is, waar Christus aan die regterhand van God sit.” (Kol 3:1)

Maar, dit is nie al nie. Sy voorspraak vir ons is nie net vir die hede nie. Dit duur tot in ewigheid. Daarom troos die Kategismus ons dat dié voorbidding tot by die Wederkoms sal duur:

totdat Hy terugkom om reg te spreek oor die lewendes en die wat alreeds gesterf het

Die engele in Handelinge en Jesus self in Matteus word as bevestiging van hierdie belofte aangehaal.

  • Lukas vertel vir ons dat die engele die verbaasde dissipels gerusstel oor Jesus se Wederkoms met die retoriese vraag: “Galileërs, waarom staan en staar julle na die hemel?” En dan die antwoord: “Hierdie Jesus, wat van julle na die hemel weggeneem is, sal net so terugkom soos wat julle Hom na die hemel sien weggaan het.” (Hand 1:11)
  • Dit is wat Jesus ook in sy laaste week op aarde gesê het in die profetiese rede: “Dan sal die teken van die Seun van die Mens aan die hemelruim verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rouklaag, en hulle sal die Seun van die Mens sien kom op die wolke van die hemel met krag en groot heerlikheid.” (Matt 24:30)

Dit is alreeds ‘n mondvol, maar Ursinus en Olivianus weet dat hierdie uitleg van die hemelvaart en die wederkoms nog vrae kan oproep by ons. Daarom gaan hulle verder met die vraag na Jesus se belofte in Matteus 28:20 dat Hy by ons sal bly tot by die einde.

47 Vraag: Is Christus dan nie by ons tot die einde van die wêreld soos Hy ons beloof het nie (Matt 28:20)?

Antwoord: Christus is ware mens en ware God.

Dit is die fundamentele dogma waarop ons Christologie gebaseer is. Jesus is ware mens. Jesus is ware God. Gebore uit ‘n maagd, ja. Maar, terselfdertyd deur die kragtige werking van God self. Dit is die belydenis wat die vroeë kerk teen die dwaling van Cerinthus bely het. Hoewel hy saam met die apostel Johannes in Efese opgetree het in die tweede helfte van die 1ste eeu nC het Hy Jesus se goddelikheid ontken. Hy het geleer dat Jesus nie God was nie. En Johannes het in sy eerste brief hierdie dwaling reguit aangevat. Jy het die gees van die antichris, as jy nie Jesus se Godheid sowel as sy mensheid handhaaf nie. Johannes het ook die Docetisme aangespreek wat terselfdertyd ontwikkel het, en die dwaling geleer het dat Jesus nie werklik ‘n mens was nie. Dit sogenaamde Gnostiese dwaling.

Daarteenoor bevestig Ursinus en Olivianus dat Jesus ware mens en ware God is. En dan brei hulle uit daarop:

Wat sy menslike natuur betref, is Hy nie meer op aarde nie  

En dit is uiters interessant hoe goed hulle die Bybelse getuienis hiervoor inspan. Hulle gebruik vyf verwysings uit die Bybel. Uit Hebreërs wat uitgebreid oor die priesterskap van Jesus geskryf het sowel as oor dinge wat Jesus self en sy dissipels van Hom gesê het.

  • Hebreërs maak die uiters belangrike en eintlik vanselfsprekende punt dat Jesus nie uit die stam van Levi was nie. Hy sou dus nooit as priester of Leviet diens kon doen nie: “As Hy dan op aarde was, sou Hy nie ‘n priester gewees het nie, aangesien daar priesters is wat die gawes volgens wet bring.” (Hebr 8:4) Jesus moes sy priesterskap in die hemel uitoefen.
  • Dit is iets waarvan Jesus bewus was, want Hy sê immers self in die gesprek met Simon die melaatse, toe die vrou Jesus se voet gesalf het, dat dit ’n goeie ding was wat sy gedoen het, want: “Die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie.” (Matt 26:11) Enige weldaad aan Hom was welkom, terwyl Hy op aarde was. Maar, daar sou ‘n tyd kom wat Hy in die hemel opgeneem sou word. Dit het Hy geweet.
  • Hoekom? Want, sê Jesus in sy laaste gesprek met sy dissipels: “Ek het van die Vader af gekom en in die wêreld ingegaan. Ek verlaat weer die wêreld en gaan terug na die Vader.” (Joh 16:28)
  • En net daarna bid Jesus: “Ek is nie meer in die wêreld nie, maar hulle is nog in die wêreld, en Ek kom na U. Heilige Vader, bewaar hulle wat U aan My gegee het in u Naam, sodat hulle, net soos Ons, een kan wees.” (Joh 17:11)
  • Ná Pinksterdag preek Petrus voor die tempel en plaas Jesus se woorde in ’n wyer eskatologiese konteks, en sê: “Die hemel moet Hom verwelkom tot op die tyd van die herstel van alle dinge, waarvan God lank gelede by monde van sy heilige profete gepraat het.” (Hand 3:21)

So, wat Jesus se menslike natuur betref is Hy nie meer op die aarde nie, maar, sê Ursinus en Olivianus:

maar wat sy Godheid, majesteit, genade en Gees betref, gaan Hy nooit meer van ons af weg nie

En hulle gebruik hiervoor net Jesus se eie woorde in Johannes en Matteus, waarvan die laaste aan sy Groot Opdrag verbind is.

  • Jesus sê in sy laaste gesprek met die dissipels: “Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.” (Joh 14:18) En let op dat dit net ná die belofte van die Heilige Gees in die verloop van daardie gesprek was. Jesus sê nie net dat Hy die Gees stuur nie, maar dat Hyself na die dissipels toe kom. En ons sien ‘n hele paar verhale in Handelinge van Jesus se verskyning, veral aan Paulus.
  • Dit is dan ook die belofte wat Jesus aan die einde van sy Groot Opdrag gee: “en hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd.”(Matt 28:20)

Maar, weet Ursinus en Olivianus, al die vrae is nie daarmee beantwoord nie, en vra dan die volgende vraag.

48 Vraag: Maar as die mensheid nie oral is waar die Godheid is nie, word die twee nature in Christus dan nie van mekaar geskei nie?

Antwoord: Nee, glad nie.

‘n Belangrike dogma. Een wat reeds in die Geloofsbelydenis van Athanasius volledig beantwoord is. Ek haal net artikel 34-37 aan:

  1. En alhoewel Hy God en mens is, is Hy nogtans nie twee nie maar een Christus. 35. Hy is een, nie deur verandering van die Godheid in die vlees nie maar deur die aanneming van die mensheid in God. 36. Hy is in alle opsigte een, nie deur vermenging van die wese nie maar deur die eenheid van die Persoon. 37. Want soos die redelike siel en die vlees een mens is, so is God en mens een Christus.

Dan gaan die Kategismus aan en sê:

Die Godheid kan immers deur niks ingeperk word nie en is orals teenwoordig

Hulle haal uit Jeremia sowel as uit die Handelinge van Lukas aan:

  • Jeremia vertel vir ons hoe God oor Homself praat in twee uitsprake. Die eerste is: “Of kan iemand in geheime plekke wegkruip, en Ek hom nie sien nie?” Die tweede is:  “Vul Ek nie die hemel en die aarde nie?” (Jer 23:24) Twee uiters belangrike uitsprake oor God se alomteenwoordigheid.
  • Stefanus haal in Handelinge 7 uit Jesaja 66:1-2 aan om dieselfde van God te bely. Hy is in gesprek met die Jode wat heilig is oor hulle tempel. Maar, sê Stefanus vir hulle, julle dink te klein oor God: “Die hemel is my troon, en die aarde die voetbank vir my voete. Watter soort huis sal julle vir My bou, sê die Here, of waar is my rusplek?” (Hand 7:49) Om net daarna terwyl hy gestenig word die Here Jesus self te sien wat in die hemel aan die regterhand van God staan.

Ursinus en Olivianus besef dus dat as dit van Jesus waar is – dat Hy saam met God die hemele bewoon, omdat Hy inderdaad God is – wat dan van sy mensheid? Hulle antwoord dit as volg;

Hieruit moet volg dat die Godheid wel buite sy aangenome mensheid is

Ons beweeg hier op ‘n terrein wat nie so maklik is om te sê nie, want ons begrip is beperk. Hulle gebruik hier vier verwysings uit die Evangelies van Johannes en Matteus, sowel as ‘n verklaring van Paulus oor Jesus om dié punt te maak.

  • Paulus verwoord die vroeë kerk se belydenis oor Jesus as God-mens deur in sy brief aan die Kolossense te sê: “Want in Hom woon die hele volheid van die Godheid liggaamlik.” (Kol 2:9) Hy verset hom dus teen die Gnostiek en die antichriste van sy tyd wat op een of ander manier óf Jesus se Godheid óf Jesus se mensheid misken het. Die volheid van God self woon in Jesus, liggaamlik. Terloops, dit is hoekom dit ook so belangrik is dat Jesus liggaamlik uit die dood opgestaan het, anders was sy menslike natuur nie meer opgeneem en ingetrek in sy Goddelike natuur nie.
  • Dié belydenis is onder andere gebaseer op wat Jesus van Homself gesê het in die gesprek met Nikodemus, soos die Kategismus dit aanhaal: “En niemand het na die hemel opgevaar nie behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, dit is die Seun van die Mens.” (Joh 3:13)
  • Trouens, Jesus openbaar in sy gesprek voor die opwekking van Lasarus sy beperkinge as mens – Hy kon nie op twee plekke gelyk wees nie – sowel as sy almag as God, want Hy kan Lasarus uit die dood opwek:  “en ter wille van julle is Ek bly dat Ek nie daar was nie, sodat julle kan glo. Maar kom ons gaan na hom toe.” (Joh 11:15)
  • Soos die engele later ook vir die vroue by die graf sê en sy liggaamlike opstanding beklemtoon: “Hy is nie hier nie, want Hy is opgewek, soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar Hy gelê het.” (Matt 28:6)

Maar, dit is nie al nie! Ursinus en Olivianus herinner ons terselfdertyd daaraan dat Hy

tog ook daarin is en persoonlik daarmee verenig bly.

Dit wil sê, Jesus is God en mens, tegelykertyd, verenig, met sy menslike natuur meer beperk, en sy Goddelike natuur onbeperk.

En dan sluit hulle af met die vraag na watter beteken dit nou alles vir ons het.

49 Vraag: Watter nut het die hemelvaart van Christus vir ons?

Hulle spel drie voordele van die hemelvaart uit as ‘n opsomming van die betekenis van die hemelvaart.

Antwoord: Ten eerste dat Hy in die hemel ons Voorspraak by die Vader is

Hulle gebruik twee duidelik verwysings na Jesus as Eerste Voorspraak uit Johannes se eerste brief sowel as uit Paulus se brief aan die Romeine, hoofstuk 8, wat hulle ook by Vraag 46 gebruik het.

  • Johannes sê: “My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, sodat julle nie moet sondig nie; en wanneer iemand sondig, het ons Jesus Christus, die Regverdige, as Parakleet by die Vader.” (1 Joh 2:1)
  • En Paulus verklaar liries: “Wie sal ons veroordeel? Dit is Christus Jesus wat gesterf het; meer nog – wat opgewek is, wat ook aan die regterhand van God sit en wat ook vir ons intree.” (Rom 8:34).

Dan fokus hulle op die waarde wat juis sy menslike natuur vir ons in die hemel het.

Ten tweede dat ons ons menslike natuur in die hemel as ‘n betroubare waarborg het dat Hy, as die Hoof; ook ons, sy lede, na Hom toe sal neem

Ursinus en Olivianus gebruik drie verwysings uit die Evangelie van Johannes en een uit Paulus se brief aan die Efesiërs om dié punt te maak.

  • Hulle verwys na Jesus se wonderlike boodskap oor wat vir ons wag in die hemel in sy laaste gesprek met die dissipels: “In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek voor te berei.” (Joh 14:2)
  • Hulle verwys ook na Jesus se begeerte in sy Hoëpriesterlike gebed tot God: “Vader, Ek wil hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My kan wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het, omdat U My van voor die grondlegging van die wêreld liefgehad het.” (Joh 17:24)
  • Hulle verwys ook na Jesus se gesprek met Maria Magdalena dat Hy na die hemel opvaar ter wille van hulle. Jesus het vir haar gesê: “Moenie My langer vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader opgevaar nie. Maar gaan na my broers en sê vir hulle, ‘Ek vaar op na my Vader, en julle Vader, en na my God en julle God.’” (Joh 20:17)
  • Hulle bevestig ook deur die lering van Paulus dat dit reeds ook ons eie status verander het. Paulus sê: “Ja, Hy het ons in Christus Jesus saam opgewek, en saam laat sit in die hemel.“ (Ef 2:6)

Maar, daar is meer. Die hemelvaart het ook op aarde vir ons betekenis.

Ten derde dat Hy sy Gees as waarborg na ons toe stuur

Hulle brei op die gawe van die Gees as waarborg uit deur weereens na Jesus se laaste gesprek met sy dissipels te verwys, sowel as na Petrus se toespraak op Pinksterdag en Paulus se tweede brief aan die Korintiërs.

  • Jesus kondig die gawe van die Gees aan in die eerste deel van sy gesprek met sy dissipels: “En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ‘n ander Parakleet gee, sodat Hy vir ewig by julle kan wees.” (Joh 14:16)
  • Hy brei in hoofstuk 15 daarop uit en verkondig spesifiek dat dit ‘n voordeel van sy hemelvaart (sy weggaan) sal wees: “Ek vertel julle egter die waarheid: Dit is voordelig vir julle dat Ek weggaan. As Ek nie weggaan nie, sal die Parakleet nie na julle kom nie. As Ek egter weggaan, sal Ek Hom na julle stuur.” (Joh 16:7)
  • Petrus kan met blydskap die vervulling van hierdie belofte verkondig op Pinksterdag: “Nadat Hy tot aan die regterhand van God verhoog is en die belofte van die Heilige Gees van die Vader ontvang het, het Hy die Gees uitgestort, en dit is wat julle sien en hoor.” (Hand 2:33)
  • En Paulus kan die waarde daarvan vir ons uitspel. Dit is God: “wat ons ook verseël en die Gees as waarborg in ons harte gegee het.” (2 Kor 1:22)
  • Want, sê Paulus, Hy het vir ons ‘n plek saam met Hom in die hemel gegee. Die Gees is die waarborg daarvan: “Hy wat ons juis hiervoor voorberei het, is God, wat aan ons die Gees as waarborg gegee het.” (2 Kor 5:5)

Hulle sluit die antwoord oor die betekenis van die hemelvaart só af:

deur wie se krag ons soek na wat daar bo is, waar Christus is en aan die regterhand van God sit, en nie na wat op die aarde is nie

Dit is natuurlik daardie bekende teks uit Kolossense wat hulle ook alreeds gebruik het in Vraag 46.

  • As julle dan saam met Christus opgewek is, streef na dit wat daarbo is, waar Christus aan die regterhand van God sit.” (Kol 3:1)

Dit is die inhoud van Sondag 18 waarop Sondag 19 volg wat die res van betekenis van Jesus se hemelvaart uitspel as die Geloofsbelydenis sê dat Hy sit aan die regterhand van God die Vader en wat daarop volg.

Jy kan dit self nagaan in die verwysings wat ek hierna gee. Die hele Kategismus is hier beskikbaar.

Sondag 19

50 Vraag: Waarom word daar bygevoeg: en sit aan regterhand van God?

Antwoord: Christus het na die hemel opgevaar sodat Hy Hom daar as die Hoof van sy Christelike kerk (Ef 1:20-23; Kol 1:18) kan betoon, deur wie die Vader alles regeer (Matt 28:18; Joh 5:22).

51 Vraag: Watter nut bring hierdie heerlikheid van ons Hoof Christus vir ons?

Antwoord: Ten eerste dat Hy deur sy Heilige Gees die hemelse gawes in ons, sy lede, uitstort (Hand 2:33; Ef 4:8). Ten tweede dat Hy ons met sy mag teen alle vyande beskerm en bewaar (Ps 2:9; 110:1, 2; Joh 10:28: Ef 4:8).

52 Vraag: Hoe word jy getroos deur die wederkoms van Christus om die lewendes en die dooies te oordeel?

Antwoord: Dat ek in alle droefheid en vervolging dieselfde Persoon met gespanne verwagting as Regter uit die hemel verwag (Fil 3:20; Luk 21:28; Rom 8:23; Tit 2:13; 1 Tess 4:16) wat Hom tevore in my plek voor die regbank van God gestel en alle vervloeking van my weggeneem het. Verder: dat Hy al sy en my vyande in die ewige verdoemenis sal werp (Matt 25:41; 2 Tess 1:6), maar my, saam met al die uitverkorenes, na Hom in die hemelse blydskap en heerlikheid saamneem (Matt 25:34; 2 Tess 1:7)


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (4)

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: