Skip to main content

Handelinge 18:1-17

Die Here self bemoedig Paulus in Korinte om sy werk voort te sit

Paulus vertrek, steeds op sy tweede sendingreis, van Atene na Korinte in die suide van Griekeland. Hy werk daar saam met Akwila en Priscilla, beide in die maak van tente as in die verkondiging van die evangelie. Met Silas en Timoteus wat by hom aansluit, het hy sterker gefokus op die verkondiging van die evangelie in die jaar en ‘n half wat hy daar gebly het. Die teenstand van die Jode lei tot ‘n breuk met hulle, maar die gemeente het van krag tot krag gegaan. Die Here Jesus het ook self vir Paulus onderskraag in ‘n visioen. Die Joodse teenstand het uiteindelik tot regsaksie gelei, hoewel dit op hierdie stadium nie tot enige optrede van die owerhede gelei het nie. Dit is in hierdie tyd wat Paulus sy briewe aan die Tessalonisense skrywe in reaksie op die nuus wat hy van Silas en Timoteus gekry het.

Teks en konteks

Uit sy eerste brief aan die Korintiërs blyk dit dat Paulus in Korinte aangekom het: “bewus van my swakheid, en met groot angs en huiwering” (1 Kor. 2:3). Hy verwys hier waarskynlik na die impak wat die voorafgaande gebeure in Filippi, Tessalonika, Berea en Atene op hom gehad het. In Filippi is hy geslaan en in die tronk gegooi (Hand. 16:11-40); in Tessalonika is hy sterk teengestaan deur die Jode (Hand. 17:1-9), sowel as direk daarna in Berea waarheen dieselfde Jode hom agtervolg het en ook daar uitgedryf het (Hand. 17:10-15); en sy bediening in Atene op die Areopagus het maar ’n flou respons uitgelok (Hand. 17:16-34).

Paulus se ontmoeting met die twee Joodse gelowiges Akwila en Priscilla lei egter tot ‘n baie vrugbare vennootskap tussen hulle. Hulle was tentmakers van beroep soos Paulus asook medewerkers in die evangelie.

Akwila en Priscilla moes vlug uit Italië weens die vervolging van alle Jode deur keiser Claudius in Rome (41-54 n.C.). Dit was nie soseer teen die Christene gemik nie, maar wel weens die konflik wat daar onder die Jode ontstaan het oor die Here Jesus Christus.

Suetonius, die Romeinse geskiedskrywer, skryf in The Life of Claudius (25.4) dat: “the Jews constantly made disturbances at the instigation of Chrestus”. Claudius het alle Jode daarom in 49 n.C. uit Rome verban. Die verwysing na die onenigheid vanweë “Chrestus” dui waarskynlik op die onenigheid onder die Jode oor Jesus as die Christus.

Elke Sabbat het Paulus in die sinagoge (die gebou is vandag steeds daar) “geredeneer” en probeer om Jode sowel as Grieke te oortuig van die waarheid van die evangelie.

Toe Silas en Timoteus van Macedonië af daar aangekom het, met ‘n groot geskenk van Filippi af (Fil 4:15), kon Paulus hom net op die verkondiging toespits en teenoor die Jode getuig dat Jesus die Christus is. Hulle onderhoud het waarskynlik van Akwila en Priscilla af gekom, omdat ons weet dat hulle vermoënd was en ‘n hele paar huise in verskillende stede besit het (o.a. in Efese – 1 Kor 16:19).

Maar omdat die Jode aangehou het om hom teen te staan en om lasterlike dinge te sê – moontlik in weerwraak vir wat in Rome gebeur het – het Paulus uiteindelik die stof van sy klere afgeskud en vir hulle gesê: “Julle bloed is op julle eie kop – sonder skuld daaraan sal ek van nou af na die heidene gaan.” Iets wat al tevore in Antiogië in Pisidië gebeur het, en later in Efese ook sou gebeur.

Paulus het die sinagoge dus verlaat en verder net met die gemeente gewerk in die huis van Titius Justus, wie se huis ironies genoeg langs die sinagoge was.

Op die koop toe het Krispus, die leier van die sinagoge, saam met sy hele huis tot geloof in die Here gekom en baie van die Korintiërs het weens sy bekering gelowig geword en is gedoop as lidmate van die gemeente. Dit lyk asof Paulus vir Krispus gedoop het (1 Kor 1:14), maar dit was ‘n uitsondering, omdat hy die bediening van die doop gewoonlik aan die gemeentes oorgelaat het.

‘n Wonderlike bemoediging val Paulus te beurt toe die Here een nag deur ‘n visioen vir hom bemoedig het om nie bang te wees nie, nie stil te bly nie, maar in die krag van die Here op te tree. Die belofte was dat God self hom sal beskerm en sukses in die bediening gee.

Paulus kon dus ‘n jaar en ‘n half die evangelie in Korinte bedien, selfs al was daar nog pogings om hulle stil te maak met die Jode wat die nuwe prokonsul, Gallio, van die streek Agaje, waarin Korinte was, probeer oortuig het om (moontlik anders as Claudius net) op te tree teen die Christene wat volgens hulle verdeeldheid gesaai het.

Gallio het egter nie geval vir dié teenstand nie, selfs sonder dat Paulus ‘n beurt gekry het om iets namens die Christene te sê, en hulle weggejaag. In weerwraak het die Jode vir Sostenes, die nuwe leier van die sinagoge, gegryp en hom voor die regbank geslaan. Dit was waarskynlik omdat hy ook in hierdie tyd tot bekering gekom het, want ‘n Sostenus raak hierna ‘n medewerker van Paulus en skryf selfs saam met hom die eerste brief aan die Korintiërs (1 Kor 1:1). Dit is dus heel moontlik dieselfde persoon.

Dit is ook van hier waar hy sy 2 briewe aan die Tessalonisense skrywe om hulle te bemoedig en die lering wat hy so ‘n paar maande tevore daar gegee het, aan te vul en te voltooi.

Boodskap en betekenis

Die tyd in Korinte was vir Paulus ‘n keerpunt in sy bediening. Na baie teenspoed en teëstand op hierdie tweede sendingreis voorsien die Here vir hom medewerkers in Akwila en Priscilla, sowel as finansiële ondersteuning vanaf Filippi, wat hom in staat stel om voltyds op die evangelieverkondiging te fokus.

Opeenvolgende leiers van die sinagoge in Korinte kom op die koop toe tot bekering en lê die fondasie vir ‘n sterk en groeiende gemeente, hoewel Paulus nog baie werk sou moes insit in hulle groei tot geestelike volwassenheid, soos ons in sy briewe aan hulle sal agterkom.

Maar, die wonderlikste ervaring hier is die direkte bemoediging van die Here in ’n visioen wat Hom van God se teenwoordigheid en beskerming oortuig het. Soos ‘n Elia op die berg Horeb gehoor het van die 7 000 mense wat hulle knieë nie voor Baäl gebuig het nie (1 Kon 19), hoor Paulus hier dat daar ‘n klomp mense in die stad is wat die Here dien.

Die Here self bou sy kerk en die koninkryk, en niks en niemand sal in die pad daarvan staan nie. Ook in ons eie omgewing en konteks.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar