Handelinge 4
Die Heilige Gees maak die eerste gemeente vrymoedig en vrygewig
Handelinge 4 beskryf hoe die vroeë kerk se getuienis te midde van opposisie en vervolging voortduur, bemagtig deur die Heilige Gees. In die eerste perikoop (4:1-22) sien ons die konfrontasie tussen die apostels en die Joodse leiers ná die genesing van die verlamde man. Die tweede perikoop (4:23-37) beklemtoon die gebed van die gemeente vir vrymoedigheid en die vrygewigheid wat onder die gelowiges posgevat het. Saam illustreer hierdie gedeeltes hoe die vroeë kerk, deur die krag van die Gees, ‘n kragtige getuienis handhaaf ondanks teenstand en vervolging.
Teks en konteks
Die apostels voor die raad – Handelinge 4:1-22
Dit tref my hoe ’n belangrike rol die wonders en tekens speel in die eerste fase van die gemeente van Jerusalem se getuienis na hulle Joodse gemeenskap. Dit konfronteer die mense en veral die leiers met die aktiewe teenwoordigheid van God in die voortgang van die bediening van Jesus deur die kragtige werking van die Heilige Gees. Daarop reageer ’n hele paar duisend Jode met oorgawe deur hulle tot die Here te bekeer en deel van die gemeenskap van gelowiges te word.
Dit is egter nie die geval met die Joodse leiers nie. Hulle reageer met onthutste woede en sluit die apostels op. Wanneer die apostels egter vir hulle verduidelik met Wie se krag hulle die wonders en tekens doen, en hulle nie juis kan ontken dat daar iets wonderliks gebeur het nie, probeer hulle die impak daarvan omseil deur hulle te dreig om nie verder in die Naam van Jesus te preek en werk nie.
Die Joodse leiers is ook verbaas met die vrymoedigheid van die apostels omdat die apostels ongeleerd en eenvoudig (die Griekse woord is idiotes) was. Lukas verbind hierdie vrymoedigheid egter aan die werk van die Heilige Gees, iets wat ons weer sal sien in die gesamentlike gebed na hierdie episode.
Let weer op hoe die Woord ‘n konstante metgesel bly in hulle verwoording van hulle geloof teenoor die Joodse Raad, en in hulle verwerking van wat gebeur het in hulle gebede in die volgende perikoop van hoofstuk 4.
Die Gees vul die gemeente met vrymoedigheid in antwoord op gebed – Handelinge 4:22-31
Nadat die apostels vrygelaat is, vergader die gemeente eendragtig en bid, ironies genoeg, vir nog meer vrymoedigheid en die Gees se vervulling gee hulle presies dit. Let op hoe hulle die gebeure in die stad Jerusalem verbind aan wat Dawid lank tevore in Psalm 2 geskryf het, en dit deel van hulle gebed maak, dat God sal optree in situasie waarin hulle hul nou bevind, ’n tipe situasie wat Hy reeds lank tevore “voorspel” het. Hulle vra ook dat die tekens en wonders sal voortgaan, net soseer soos die vrymoedigheid waarmee hulle die boodskap van die evangelie verkondig.
Die Gees gee die gemeente vrygewigheid teenoor mekaar – Handelinge 4:32-37
Wat my veral tref, is dat hulle nie net in vrymoedigheid groei na buite toe nie, maar ook in vrygewigheid na binne toe. Hulle het die bande van vrees vir teenstand van buite afgegooi, maar ook die vreesagtigheid rondom hulle besittings en die behoud daarvan. ’n Groter passie het hulle beetgepak as die passie om oorlewing en sekuriteit. Hulle passie is om die Naam van Jesus oral te verkondig en heilig te lewe en heling te bring vir mense, alle mense.
Ons lees hier die eerste keer van Josef Barnabas wat met sy eie vrygewigheid hierdie proses aangevuur het en die gemeente in staat gestel het om sy werk behoorlik te kan doen, ook die werk oor grense heen wat na die vervolging sou begin gebeur. Barnabas – dit is die naam wat die gelowiges hom gegee het; dit beteken Bemoediger – sal hierna ’n groot rol speel in die gasvrye intrek van Saulus, toe niemand van hom iets wou weet nie, sowel as in die bearbeiding van die gemeente van Antiogië wat sou lei tot die uitkringende invloed van die evangelie deur die sendingreise.
Boodskap en betekenis
Handelinge 4 wys hoe die vroeë kerk se getuienis en eenheid sterker word in die aangesig van opposisie. Die apostels se vrymoedige verkondiging van Jesus en die gemeente se samehorigheid en vrygewigheid demonstreer hoe die Gees gelowiges toerus om God se werk voort te sit. Die krag van gebed, die sigbare werking van wonders, en die gedeelde passie vir die evangelie staan sentraal in die gemeente se lewe en getuienis.
‘n Paar verdere opmerkings oor Barnabas om sy bediening na waarde te skat
Die Here gebruik Barnabas se vrygewigheid om ’n stuk grond te verkoop en die opbrengs aan die gemeente in Jerusalem te skenk. Dit vorm deel van die platform wat geskep word om die Christelike geloof wêreldwyd te lanseer (Hand. 5).
Die kerk kon Saulus en sy bediening aanvaar weens Barnabas, die Bemoediger, wat hom gasvry ontvang het. Hy het vir Saulus as borg opgetree. Daarmee word die kerk uiteindelik gehelp om nie eksklusief Joods te bly nie, maar onder die Here se leiding grense oor te steek – uiteindelik ook na Europa en die verre Suidpunt van Afrika waar ons vandag nog deel in die vrug van die grensoorskryding (Hand. 11-12).
Die jong Johannes Markus het in Barnabas ’n begeleier en mentor van formaat gevind wat hom deur sy gawe van bemoediging in staat gestel het om met Paulus te versoen en die skrywer van die eerste evangelie te word (Hand. 16).
Dis onbekend hoe Barnabas in Jerusalem beland het. Het hy dalk vir die Pinksterfees opgedaag en toe die uitstorting van die Heilige Gees beleef? Het hy familie besoek, of in Jerusalem vir besigheid beland? Dit kan selfs wees dat hy reeds in Jerusalem gewoon het. Sommige mense meen selfs hy en Paulus het saam hul opleiding aan die voete van Gamaliël ontvang, dié dat hulle so goed oor die weg gekom het.
Hoe dit ook al sy, ons weet sy jong nefie, Johannes Markus, het tydens die begin van die Christelike kerk nog by sy ma Maria in Jerusalem gebly. Maria en Barnabas was dus óf broer en suster, óf aangetroude familie, d.w.s. swaer en skoonsuster. Barnabas is dus minstens danksy sy familieverbintenis met Maria ingetrek in die lewe van die vroeë Christelike gemeente in Jerusalem, en het ’n volgeling van Jesus Christus geword.
En ons weet dat hy só ’n stigterspionier van die kerk geword het wat ’n beslissende invloed op die wêreldwye gestalte van die kerk tot vandag toe uitgeoefen het. Barnabas verdien ’n plek in die harte van Christene oor die wêreld as ’n man wat uitnemend geslaag het daarin om sy gawes in diens van sy roeping in die kerk en koninkryk in te span. Hy was ‘n uitmuntende leier wat sy gawe van bemoediging tot beslissende impak in die lewe van die kerk en veral in ander leiers gebruik het.
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar