Skip to main content

Spreuke 2:1-22

Soek wysheid met gespitse ore

Spreuke 2:1-8

Daar is twee maniere waarop die Bybel oor die verkryging van wysheid praat.

  • God gee wysheid vir dié wat Hom vertrou. God werk vir hulle selfs wanneer hulle slaap (Ps 127:2 – ’n Psalm van Salomo!).
  • God gee wysheid in die doelgerigte soeke na wysheid, ‘n verantwoordelikheid wat ons nie kan ontwyk nie. Om die waarheid te sê, dit is meermale hoe dit werk.

Dit is van laasgenoemde doelgerigte soektog wat Spreuke hier mee begin. Daarom sê die pa vir sy seun: hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in, roep en vra, soek en jy sal dit opspoor.

Die pa moedig dus sy seun in die “tweede lewensles” aan om wysheid met gespitste ore te soek, want dán sal hy agterkom dat God wysheid uitdeel, dat die eerste manier hoe ‘n mens wysheid bekom ook vir hom waar sal word. Die Here sal hom nie teleurstel nie. Wysheid is ’n gawe van God, saam met sukses, beskerming, en regverdigheid. Dan sal hy op die regte pad kan bly.

Dit is iets wat Jesus ook later sterk sou beklemtoon in sy bediening en onderrig, soos pragtig geïllustreer in die bekende uitspraak in die Bergrede: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.” (Matt 7:7-8).

Interessant is dat Jesus hierdie gawe van wysheid met die gawe van die Heilige Gees verbind, die goeie gawe van God (Luk 11:13), net soos wat dit hier in Spreuke 2 gedoen word. En Jakobus sê dat ’n mens wysheid van God kan afbid (Jak 1:5). Watter belofte!

Spreuke 2:9-19

Die pa herinner sy seun in die tweede lewensles daaraan dat wysheid kom na dié wat eerlik en onberispelik lewe. Dit is oor hulle pad wat die Wysheid die wag hou. Die Wysheid hou nie wag oor die paaie van dié wat verkeerde dinge verkondig nie; diegene wat die regte paaie verlaat en kies om donker paaie te loop; diegene wat kies om die wandade van slegte mense toejuig.

Daar is dus hierdie twee paaie. Die keuse vir die pad van gehoorsaamheid word beloon met die gawe van wysheid. Die keuse vir die pad van ongehoorsaamheid word beloon met die oorgawe aan dwaasheid.

Dit is ook hoe God se beskerming werk. Beskerming is nie net iets wat God gee sonder jou medewerking nie, maar ook iets wat gebeur deur die manier waarop jy lewe. Wanneer wysheid en kennis begin om jou lewe te vorm en te verryk, wanneer oordeelkundigheid en verstandigheid begin om jou lewe te beskerm en begelei, neem sy wysheid jou weg van die verkeerde dinge en mense (gee beskerming) en lei jou na die goeie, regverdige, opregte en onberispelike paaie wat volhoubare en vreugdevolle lewe moontlik maak (gee begeleiding).

Die keuse hiervoor is iets wat jou eie verantwoordelikheid is. Dit is nie iets wat iemand anders vir jou kan doen nie. Dit is selfs nie iets wat God sommer sonder jou medewerking kan doen nie, hoewel daar natuurlik ook ’n genade-kant van sy betrokkenheid by ons is.

Wysheid is dus aan die een kant ‘n gawe van God wat jy uit sy hand ontvang en ontgin in al sy fasette, maar ook iets aan die ander kant wat jy persoonlik moet toepas en ontplooi in jou praktiese lewe. Dit is in die ontvangs en in die ontplooiing, die vertroue op God en die persoonlike verantwoordelikheid neem – in jou soeke na oordeelkundigheid en verstandigheid – wat die beskerming en begeleiding gebeur.

Spreuke 2:20-22

Die pa werk in sy onderrig steeds met die idee van twee paaie. Die pad van goddeloosheid en losbandigheid eindig in die dood. Die pad van opregtheid en integriteit lei na die lewe.

Dit het aan die een kant te make met die tipe mense na wie jy moet luister, veral na gesagsfigure en rolmodelle in jou lewe wat goeie mense is, regverdig, opreg en onberispelik (vgl Spr 2:1, 9, 20, 21). Sulke mense moet jy uitkies, na hulle luister, en hulle navolg.

Natuurlik sluit dit ook mense in na wie jy nie moet luister nie: mense wat verkeerde dinge verkondig (vgl Spr 2:12), mense wat die regte paaie verlaat (vgl Spr 2:13), mense wat slegte dinge doen, en wie se paaie krom is (vgl Spr 2:14-15), sowel as die “slegte vrou” wat ’n simbool van enige buite-egtelike verhouding is, en natuurlik ook op ’n “slegte man” van toepassing is (vgl Spr 2:16-19).

Aan die ander kant sluit dit ook dinge in waarna jy moet luister, die inhoud wat Spreuke aanbeveel. Let op hoe Spreuke nie net ’n eenmalige luister na die wysheid aanbeveel nie, maar ’n onderskeidende proses, om jou in te span om te verstaan (vgl Spr 2:2), om insig en gesonde begrip (common sense) te soek (vgl Spr 2:2).

Maar Spreuke wil ook hê dat die lewenstyl van mense wat hierdie inhoud uitleef, nagevolg moet word (eerlikheid – Spr 2:7; onberispelikheid – Spr 2:7, 21; getrouheid – Spr 2:8; regverdigheid en billikheid – Spr 2:9,20; oordeelkundigheid en verstandigheid – Spr 2:11; goedheid – Spr 2:20; opregtheid – Spr 2:21). Dit is die inhoud van die tipe wysheid wat nagevolg moet word. Só word jyself natuurlik ook ’n voorbeeld wat ander kan navolg.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar