Skip to main content

1 Samuel 17

Van skaapwagter tot soldaat

Dawid beweeg hier van skaapwagter tot soldaat deur sy dapper konfrontasie met die Filistynse reus, Goliat. Hy demonstreer daarmee dat hy geskik sal wees om Israel se volgende koning te word. Dawid verslaan Goliat in die Naam van die Here met die toerusting van ‘n skaapwagter en neem Goliat se wapenrusting in besit as teken van die deurslaggewende oorwinning van Israel oor die Filistyne. Dit was Israel se eerste oorwinning met Dawid as leier en soldaat.

Teks en konteks

Die Filistyne en Israeliete het weerskante van die Ela-vallei wes van Bethlehem stelling ingeneem met Goliat, ’n enorme Filistynse baasvegter uit Gat, ’n Filistynse stad, wat een van die Israeliete uitgedaag het tot ’n tweegeveg wat die oorlog sou beslis vir almal. Goliat kan moontlik ‘n titel wees wat hom as magtige kryger beskryf. Die Hebreeuse teks gee sy lengte as ongeveer 3 meter weer (die Griekse vertaling, die LXX, het 2 meter). Hy was tot die tande toe gewapen. Sy harnas alleen het ongeveer 100 kg en sy vegspies ongeveer 8 kg geweeg as ’n mens die gewig omskakel na moderne ekwivalente.

Sy dreigemente oor ’n tydperk van veertig dae het die Israelitiese soldate paniekbevange en baie bang gemaak. In dieselfde tyd het Isai sy jongste seun, Dawid, as ’n tussenganger gebruik om heen en weer te beweeg om kos vir hulle te bring en nuus oor die oorlog terug te neem, ook om Saul met sy musiek te kalmeer (vgl vers 15).

Dawid het dus die lasterlike dinge gehoor wat Goliat die Israeliete toesnou en onmiddellik die kloutjie by die oor gesit: “dat hy ‘n bespotting maak van die gevegslinies van die lewende God.”

Ten spyte van sy broer Eliab se minagtende teenstand doen Dawid navraag na watter voordeel daar is vir iemand wat Goliat sou verslaan. Saul het dit te hore gekom en hom laat roep. Waarop Dawid vir Saul moed inpraat dat hy bereid is om teen Goliat te veg. Dawid brei uit oor die wyse waarop hy sy pa se kleinvee van leeus en bere beskerm het om Saul te oortuig om hom toe te laat om teen die “onbesnede Filistyn”wat God uitdaag, te gaan veg. Hy het ‘n vaste vertroue gehad dat God hom sal red uit die hand van hierdie Filistyn.

Saul stem in en probeer hom toerus met wapenrusting, maar dit sou Dawid se planne in die wiele ry. Daarom weier hy dit en gaan met dieselfde toerusting wat hy as skaapwagter teen die ongediertes sou gebruik die Filistyn tegemoet.

Ook Goliat het Dawid geminag en hom vervloek by sy gode. Maar Dawid het hom beroep op die Here, die Heerser oor alle magte, die God van die gevegslinies van Israel, wat aan almal sal bewys dat Hy God is deur Dawid se oorwinning oor Goliat.

Dit is dan ook presies wat gebeur met Dawid wat Goliat met een van die vyf gladde rivierklippies uit sy slingervel neervel en die doodslag toedien deur sy kop met sy eie swaard af te kap. “Die oorlog behoort aan die Here.” Dit is immers ‘n heilige oorlog.

Dit breek die mag van die Filistyne en Israel kon ‘n groot oorwinning oor hulle behaal. Dawid het die kop van die Filistyn geneem en dit na Jerusalem gebring. Die Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:9).

Dawid word só ‘n bevelvoerder in Saul se leër. Dit is onduidelik waarom Saul aan die einde van hierdie hoofstuk na meer inligting oor Dawid vra, aangesien ons uit 1 Samuel 16 weet dat hulle mekaar reeds geken het (vergelyk ook 1 Samuel 17:15 wat wys dat Dawid reeds ‘n paar keer by Saul was). Dit kan wees dat Dawid se dapperheid by hierdie geleentheid veroorsaak het dat Saul meer aktief in hom belang begin stel het as wat hy voorheen gedoen het. Vandaar die vraag.

Boodskap en betekenis

Daar is opvallende ooreenkomste tussen die verhale van Dawid en Josef. Hulle was albei jonger as die ander broers – Dawid die jongste, en Josef die tweede jongste. Hulle word gestuur om kos te bring vir hulle broers en te hoor hoe dit gaan. Die broers minag hulle vermoëns. Hulle word egter as leier saangestel bo hulle broers. Hulle red die broers en die volk uit gevaar. Albei se sukses word aan God toegeskryf.

Ons leer dus uit hierdie verhaal dat Dawid se geheim gelê het in sy onwrikbare geloof in ‘n lewende Here. Hy weier om te buig voor die uitdaging van Goliat. Dit is dié Here wat hom gered het uit die kloue van die leeu en die beer. Dit is dié Here wat hom ook sal red in die geveg met Goliat.

Vir die dieperdelwers: in 2 Samuel 21:19 word ‘n Elganan genoem wat vir Goliat doodgemaak het. Dit is egter nie in konflik met hoofstuk 17 se verhaal van Dawid wat Goliat verslaan het nie, want in 1 Kronieke 20:5 word gesê Elganan Goliat se broer doodgemaak het.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…