Skip to main content

1 Samuel 12

Om na God te luister is die essensie van die geestelike lewe

Samuel se optrede in hoofstuk 12 herinner ‘n mens aan Moses se optrede in Deuteronomium 29-30 waar Moses ook die volk in ‘n verbondshernuwing begelei, en sy afskeidswoord daarna gelewer het. Samuel verdedig hier sy bediening sedert sy jeug aan die volk Israel en roep hulle weereens op tot bekering met die boodskap: om na God te luister is die essensie van die geestelike lewe. Dit geld vir hom as profeet-priester-rigter. Dit geld ook vir elke lid van die volk.

In sy toespraak roep Samuel hulle as getuies op dat hy onkreukbaar onder hulle opgetree het, en dat dit hulle eie keuse was om soos die ander volkere ‘n koning te wil hê (vers 1-5). Hy dring daarom by hulle aan om die Here te bly gehoorsaam met ‘n verwysing na God se leiding in die lewe van Moses en Aäron en van die ander rigters (vers 6-11). Hy waarsku hulle dat hulle “bose” versoek vir ‘n koning hulle van God kan laat vergeet (vers 12-15), en doen daarom ‘n wonderteken van donderslae en reën – soos Elia jare later (1 Kon 18) – om die waarskuwing onomwonde te onderstreep (vers 16-19). Samuel sluit af met ‘n voorneme om steeds vir hulle voorbidding te doen dat hulle nie sal wegdraai van die Here en sy stem sal verontagsaam nie (vers 20-25).

Teks en konteks

In Samuel se afskeidsboodskap lê hy in vers 1-5 klem op die feit dat hy sedert sy jong dae as tussenganger God se wil aan hulle verkondig het, sowel as hulle versoeke na Hom gebring het. Hy was getrou en sonder korrupsie – anders as Eli se seuns (1 Sam 2:22), en ook anders as sy eie seuns (1 Sam 8:3) – tot in sy gryse ouderdom.

Samuel se seuns het eintlik net so droog gemaak soos Eli s’n. Samuel se seuns het nie daarin geslaag om die tradisie van leierskap wat deur hul vader gevestig is, te handhaaf nie. Gevolglik was Samuel se seuns “by” die mense (vers 2) eerder as om “by” Samuel te wees (vers 1), dws om sy rol as woordvoerder teenoor die volk te vervul.

Maar, die verskil tussen Samuel en Eli was dat Samuel steeds leierskap aan die dag gelê het, en Eli nie. Hy het nie die volk se wil gevolg nie, maar die Here s’n. Ironies egter dat sterk profetiese leierskap nie die volk tevrede stel nie en dat hulle kies vir ‘n oorerflike koningskap sisteem ten spyte van die gebreke van Eli en Samuel se kinders.

Nou sou ‘n ander leier egter begin oorneem, die koning wat hulle verkies het. Samuel roep hulle daarom as getuies op om sy integriteit te erken. Wat hulle dan ook doen voor die Here.

Bly aan die Here gehoorsaam

In vers 6-11 dring Samuel daarom by hulle aan om die Here te bly gehoorsaam. Want dit is Hy wat in die lewe van al die vorige leiers die Koning was en die volk gelei het van die Uittog uit Egipte tot met die Intog in Kanaän en verder. Samuel verwys na Moses en Aäron en na drie van die ander rigters sowel as na homself. God het Hom daarmee as die Groot Weldoener bewys wat telkens geluister het na die behoeftes van die volk en vir hulle gegee het wat hulle nodig het. Selfs wanneer hulle Hom vergeet het, en Hy hulle oorgelewer het aan hulle vyande, was dit gemik daarop om hulle tot bekering te begelei, sodat hulle die Baäls en Astartes kon verwerp, en in God se teenwoordigheid veiligheid in hulle eie land kon ervaar.

Samuel is dus eerlik oor die tragedie van die volk se vergeetagtigheid die afgelope paar eeue en die onafwendbare negatiewe reaksie van die Here telkens daarop. Die drie konflikte waarna hy verwys, was dié binne die land met Jabin van Hasor, dié met die Filistyne in die weste en dié met die Moabiete in die ooste, sonder om daarmee volledig te probeer wees (1 Sam 12:9).

Samuel noem drie rigters waarvan Jerubbaäl (Gideon) teen die Midianiete, Bedan (dit is moontlik Barak wat teen Jabin geveg het – vgl Rigters 4), en Jefta teen die Moabiete geveg het, sowel as natuurlik hyself wat teen die Filistyne die volk gelei het (1 Sam 12:10).

Die Griekse en Siriese vertaling van die Hebreeuse OT verwys nie na Bedan nie, maar na Barak, soos ek dit ook hier aantoon. Baie verklaarders stel dáárom voor dat Barak eintlik die persoon is na wie Samuel hier verwys, veral omdat die konflik met Jabin hier genoem word, en dit Barak was wat saam met Debora hom oorwin het. In die Joodse Targum word weer na Simson verwys in die plek van Bedan wat moontlik beteken dat daar verskillende tradisies hieroor was.

Dit kan ook wees dat hierdie Bedan een of ander rol gespeel het waarvan Samuel en sy mense geweet het, maar dat dit net nie opgeteken is nie. Daar is bv ’n Bedan wat in Kronieke juis in die konteks van Gilead genoem word as ’n seun van die stam Manasse (1 Kron 7:17). Dit is presies waar Saul se komende oorwinning teen die Filistyne plaasgevind het.

Hoe dit ook al sy, die Here se ingrype het telkens die gewenste uitwerking gehad.
Die tragedie is telkens omgeskakel in ‘n triomf deur die Here. Deur hierdie rigters het die Here die volk telkens bevry uit die mag van die vyande rondom hulle “en julle het veilig gewoon.” (1 Sam 12:11).

Die Here bly koning

Samuel spreek daarom die volk in vers 12-15 verder aan oor hulle behoefte aan ‘n koning, omdat uit sy perspektief die Rigterstyd eintlik bewys dat die Here nie net die Koning oor hulle is nie, maar in staat is om die anargie hok te slaan deur die mense wat Hy daarvoor opgewek het.

Samuel was baie bang dat in plaas daarvan dat die vreemde nasies van tyd tot tyd oor hulle sou heers, dit nou die verskillende konings – al was hulle uit eie geledere – sou wees wat oor hulle heers. Dit wou hy voorkom, maar die aandrang op ‘n koning van die volk se kant af was net te groot. En die Here het dié verandering goedgekeur nadat die volk herhaaldelik daarvoor gevra het.

Daarom het Samuel vir Saul en later Dawid as konings gesalf. ‘n Instelling wat sy voordele gebring het, maar uiteindelik ná die verdeling in twee ryke tot twee ballingskappe gelei het.

Maar, nou is die slag geslaan, en die koning aangewys. Hulle moet nou net nie in hulle “bose” keuse van ‘n koning uiteindelik verder gaan en van God vergeet nie. Die Here bly immers Koning.

Wonders en voorbidding

Daarom doen Samuel in vers 16-19 ‘n wonderteken van donderslae en reën – soos Moses met die sewende plaag voor hom (Eks 9:23) en Elia jare later met die breek van die droogte (1 Kon 18) – om die waarskuwing onomwonde te onderstreep. Des te meer, omdat hierdie wonderteken tydens die koringoes in die vroeë deel van die droë seisoen (Mei-Junie) plaasgevind het.

Samuel sluit in vers 20-25 af met ‘n voorneme om steeds vir hulle voorbidding te doen dat hulle nie sal wegdraai van die Here en sy stem sal verontagsaam nie. Die “nietige afgode” bied geen voordeel nie. Hulle kan nie red nie, “omdat hulle nietighede is!”

Die Here sal sy volk nie in die steek laat nie, al doen Hy dit uiteindelik net ter wille van sy groot Naam. Die Here sal by sy besluit staan om hulle sy volk te maak.

Let op dat Samuel ‘n gebrek aan voorbidding as ‘n sonde teen die Here beskou. En saam met sy voorbidding onderneem hy om steeds voort te gaan om hulle die goeie en reguit pad” te leer, sodat hulle in ontsag vir die Here Hom in getrouheid sal dien met hulle hele hart.

Die groot dinge wat die Here vir hulle en hulle voorouers gedoen het in die verlede, moet hulle help om die Here in die hede te onthou. Veral, omdat aanhoudende verkeerde optrede die oordeel van die Here oor hulle en hulle koning sal bring. En met vers 25 onderstreep Samuel die onheilspellende werklikheid dat God hulle sou kon “wegvee” uit die land – soos met die ballingskappe inderdaad die geval sou wees.

Boodskap en betekenis

Die gedeelte bring ‘n bietjie perspektief op die ontsteltenis wat die voortdurende siklus van verval en verlossing by die volk Israel by ‘n mens bring. Die rigters wat uit die volk vir ‘n spesifieke doel geroep is, en wat net vir ‘n spesifieke tydperk gesalf is, het meesal goed gewerk. Die konings het miskien ‘n meer stabiele samelewing gebring, veral aanvanklik, maar het ook ‘n konteks van uitbuiting en korrupsie geskep deur die mag wat in die koning se hande geplaas is.

Die oordeel wat ons oor die tyd van die rigters fel, moet dus met hierdie meer positiewe perspektief getemper word. Met die koms van die Messias kry ons in ‘n sekere sin eintlik die bedeling van vóór die Rigterstyd terug met die Here Jesus Christus as Koning wat sy mense van hulle afvalligheid genees, en deur sy Gees genadegawes uitdeel waarmee Hy sy koninkryk vestig.

Let ook op die drie-ledige boodskap van Samuel wat 1) die volk waarsku teen afvalligheid, 2) hulle verseker van God se teenwoordigheid, en 3) ’n belofte gee dat hy sal volhard om vir hulle in te tree. Dit is wat ’n profeet moet doen!

Die waarskuwing van die donderslae en reën herinner ons aan die wyse waarop God baie keer die natuur inspan om ons aandag te vang en verandering by ons te bewerk. Die ontwrigting van die God-geordende patroon vir die natuurlike wêreld dra die boodskap dat die God-geordende patroon van ons verhouding met die Here ontwrig is. Soos Israel hier uit die regte verhouding met die Here beweeg het, só het die Here daarop gereageer deurdat die natuur uit sy regte verhouding met die mense beweeg het (Bergen, 1, 2 Samuel).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar