Skip to main content

Hebreërs 5:11-6:20

Gaan voort na volwassenheid en hou stewig vas aan die hoop wat voorlê

Die skrywer is egter bewus van die feit dat die dinge wat hy oor Jesus se Hoëpriesterskap wil sê gefokusde aandag van die gemeente gaan verg.  “Hieroor het ons baie om vir julle te sê wat moeilik is om te verduidelik.”  Dit verwys terug na die boodskap oor Jesus, meer spesifiek sy Hoëpriesterskap.  In Hebreërs 7-8 sal die skrywer meer daaroor sê, omdat dit só ’n belangrike en hoopvolle boodskap is, maar nou wil hy eers die problematiek aanspreek waarom dit so moeilik is om daaroor te praat.

Daarom brei hy oor twee dinge in dié gedeelte uit:

  • Hebreërs 5:11-6:12 – Fokus op geestelike volwassenheid
  • Hebreërs 6:13-20 – Fokus op God se belofte

Teks en konteks

Fokus op geestelike volwassenheid – Hebreërs 5:11-6:12

Hoekom is dit so moeilik om oor die dieper dinge te praat?  “Aangesien julle traag geword het om te luister.”  Hulle moes teen hierdie tyd al ander mense oor dié dinge kon leer, maar hulle traagheid (hardhorendheid) het ironies genoeg beteken dat hulle eintlik weer behoefte het aan melk, dinge wat maklik verteer, en nie die vaste kos van moeiliker leer en lewe kwessies nie.

Hulle was dus onervare in die boodskap van wat Jesus alles vir hulle beteken, veral met betrekking tot die vryspraak wat Hy gee.  Hulle het nie nodig gehad om dié vryspraak te herbesoek deur die eerste beginsels van die Christelike lewe te herbesoek nie – bekering, geloof, doop, handoplegging ensomeer nie.  Hulle het eerder nodig gehad om die volle betekenis daarvan te omarm en daaruit te lewe.  Wyse woorde!

Die ses aspekte van dié dinge wat maklik verteer – die melk in onderskeid van vaste kos, die basiese prediking oor Christus teenoor die dieper dinge van sy werk – wat hier aangeraak word, word in die oorspronklike Grieks eintlik in twee groepe op die tafel gesit (Fensham verdeel dit in drie groepe van twee elk).

  • Die eerste twee aspekte wat genoem word, hoort bymekaar, en word met die begin van die Christelike lewe verbind: om tot bekering te kom en in God te glo.
  • Die laaste vier aspekte is eintlik al vier sake waaroor gelowiges by die begin van die Christelike pad onderrig moet ontvang. Die woord onderrig pas dus eintlik by al vier, omdat dit letterlik soos volg vertaal kan word: “onderrig van die dope, oplegging van hande, opstanding uit die dood en van ewige oordeel.”  Let ook op die meervoud “dope”.

Hier is ’n verduideliking van wat elke aspek waarskynlik behels:

  1. BEKERING:
  2. Diebekering van dooie werke – dié “dooie werke” word ook in Hebreërs 9:14 aangeraak. Die skrywer spel nie presies uit watter dinge hy as “dooie werke” beskou nie. Uit die res van die NT boodskap kan ’n mens aflei dat dit in die eerste plek gaan oor die begin van die geloofspad met God, d.w.s. bekering as sodanig (Hand. 20:21; 1 Tes. 1:9: “hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien.”).  In die tweede plek gaan dit moontlik oor dinge wat sonder geloof in God gedoen word (Vgl. Jak. 2:14-26 wat oor die omgekeerde praat: “Want net soos die liggaam sonder asem dood is, só is die geloof sonder dade dood.”).  Christus se werk in ons binneste reinig ons harte van hierdie “dooie werke” sodat ons die lewende God kan dien (Hebr. 9:14).
  3. “Geloof in God” – Waar die bekering die omkeer van gelowiges beskryf, beskryf “geloof in God” die positiewe vasgryp van die boodskap van die Here Jesus Christus. Albei is nodig en noodsaaklik.
  4. ONDERRIG:
  5. “Dope” – die meervoud beteken dat dit nie net gaan oor wat ons in ons eie kerke as die doop leer ken het nie. Die vroeë kerk het immers uiteindelik net een doop erken, die doop in die Naam van Jesus (Ef. 4:5), soos in die Geloofsbelydenis van Nicea ’n neerslag gevind het: “Ons bely een doop tot vergifnis van die sondes.” Die term “dope” word hier egter waarskynlik gebruik vir sowel die Christelike doop as vir ten minste twee ander tipe “dope”.  In die eerste plek gaan hierdie ander dope waarskynlik oor die reiningsgebruike van die Jode.  bv. Hebreërs 9:10 – “verskillende reinigingsrites” – sowel as Markus 7:4 – “die was van bekers, kruike, koperhouers en eetbanke.”  Dit hang waarskynlik saam met Johannes 3:25 wat oor ’n konflik tussen die dissipels en die Fariseërs oor die “reiniging” praat.  In die tweede plek gaan dit waarskynlik oor die inlywingsrites wat met die woord “dope” uitgedruk kon word, soos in die misterie godsdienste en Joodse kultus die gebruik was (Robertson, A. T. Word Pictures in the New Testament).  Uiteraard sou hierdie “dope” ook die Christelike doop as sodanig ingesluit het.  Dit is die doop in die naam van Jesus wat die doop van Johannes vervang het.  Interessant genoeg lees ons net in een geval direk daarvan dat iemand wat die doop van Johannes ontvang het, óók die doop van Jesus ontvang het.  Die doop van Johannes was genoegsaam geag indien dit tot geloof in Jesus gelei het.  Waar die doop van Johannes gelei het tot ’n geloofsverbintenis aan Jesus was daar dus nie weer ’n ekstra doop gewees nie.  Ons lees bv. in Handelinge 18:23-19:7 hoe Priscilla en Akwila vir Apollos in Efese nog duideliker “onderrig”, maar nie weer doop nie, aangesien hy reeds die Here Jesus geken en self alreeds “deeglike onderrig gegee (het) oor die dinge wat op Jesus betrekking het.”  Hoewel hy dus net van die doop van Johannes geweet het en net dit ondergaan het, is hy nie weer oorgedoop nie.  Paulus daarenteen het in dieselfde tyd in Efese twaalf ander dissipels aangetref wat ook net met die doop van Johannes gedoop is, maar nie van al die dinge wat Jesus gedoen het en die uitstorting van die Heilige Gees wat al plaas gevind het, geweet het nie.  Hy het hulle toe in dié dinge “onderrig” en spesifiek ook “in die Naam van die Here Jesus” gedoop, omdat hulle kennis van Jesus regtig gebrekkig was.  Hy het hulle ook die hande opgelê om die Gees te ontvang, iets waarvan die Hebreërskrywer natuurlik ook hier praat.
  6. “Oplegging van hande” – hierdie gebruik is op verskillende maniere toegepas, dit was ’n algemene teken van seën (Matt. 19:13 – Jesus lê die kinders hande op en seën hulle), ’n teken van genesing (Mrk. 7:32 – Jesus genees ’n dowe deur sy hand op hom te lê), ’n teken van verkiesing (Hand. 6:6 – die “sewe” word daarmee vir die weduwee-versorging afgesonder), ’n handeling met die ontvangs van die Heilige Gees by die doop (Hand. 8:17 – die doop en handoplegging het baie keer saamgegaan), ’n teken van die bevestiging van ’n roeping (Hand 13:3 – Paulus-hulle word hande opgelê deur die gemeente en uitgestuur), en ’n teken met die ordening as dienaar in die gemeente (1 Tim. 4:14 – die raad van ouderlinge het Timoteus só georden/bevestig; 2 Tim. 1:6 – Paulus het Timoteus se roeping vroeër ook met handoplegging bevestig.  ook 1 Tim. 5:22 – Timoteus word gemaan om handoplegging in sy bediening versigtig te beoefen).
  7. “Opstanding uit die dood” – dit was ’n algemene en fundamentele lering van die vroeë kerk, soos ons dit beide in die bediening van Jesus (Joh. 5:29) en die bediening van die kerk sien (Hand. 24:15; 1 Kor. 15). Dit was die kern van die hoop van die geloofsgemeenskap, maar terselfdertyd ook iets wat hulle prediking aan die wêreld gekenmerk het.
  8. “Ewige oordeel” – dit was ook ’n algemene lering van die vroeë kerk, iets waarop Johannes uitvoerig uitbrei in die Openbaring aan Johannes, die laaste boek in die NT.

Dit is dié dinge wat hulle daar moet laat – nie noodwendig ignoreer nie, want dit is uiteraard die begin van die pad, maar nou moet afhandel en met rus moet laat – sodat hulle geestelike volwasse kan word en die aanvoeling kan bekom om te onderskei tussen goed en kwaad.  Soos die NET Bible dit vertaal: “But solid food is for the mature, whose perceptions are trained by practice to discern both good and evil.” (Hebr. 5:14).  Ons insig in dié dinge wat saak maak, is iets wat immers net kan groei as ons ons onderskeiding inoefen, as ons van onderskeiding ’n gewoonte maak.

Die begin kwessies van die Christelike geloof kan ’n mens dan juis verhinder om geestelik volwasse te word.  Hoekom?  Nie net omdat hulle só vasgevang kan word daarin dat hulle nie geestelik volwasse word nie, maar omdat dit eintlik onmoontlik is om iemand wat van dié dinge afvallig geword het – nádat hulle die hemelse gawe gesmaak het, deel gekry het aan die Heilige Gees, die goeie woord van God gesmaak het, sowel as die kragte van die komende bedeling – om dié mense weer opnuut tot bekering te bring. Hulle het wat hulleself betref eintlik die Seun van God opnuut gekruisig en openlik tot skande gemaak, sê die skrywer.

Die boodskap het dus nie sy vrug in hulle gedra nie, en deur weereens op die begin kwessies te fokus, gaan nie maklik enige verandering by hulle bring nie.  Dit sal net ’n wonder van God wees wat in sulke gevalle mense tot inkeer kan bring.

Ek hou van die manier waarop William Lane dit sê: “If those who have enjoyed a full and authentic Christian experience should then fall away, a renewal to repentance is impossible” (Word kommentaar).  Let op die “”should“, want die skrywer dink nie só iets is regtig moontlik nie.

Hy sê wel: “Dit is immers onmoontlik om hulle wat eenmaal verlig is, wat die hemelse gawe gesmaak, en deel gekry het aan die Heilige Gees, en wat die goeie woord van God gesmaak, en ook die kragte van die komende bedeling, en tog afvallig geword het, weer opnuut tot bekering te bring, aangesien hulle wat hulleself betref, die Seun van God opnuut kruisig en openlik tot skande maak,” (Hebr. 6:4-6 in BDV).

Hoekom sou ons dit só erg wees, as ‘n mens ter wille van die argument sou bedink?  Want dit sou beteken dat die lewende God aktief teengestaan word.  Dit is egter iets wat eintlik nie kan gebeur nie.

Daarom is die skrywer nie regtig bekommerd oor die geloofsgemeenskap in Rome nie, want hy is oortuig dat hulle die pad met God na volwassenheid sal stap: “Maar selfs wanneer ons só praat, geliefdes, is ons, wat julle betref, oortuig van beter dinge wat betrekking het op verlossing.” (Hebr. 6:9).  Die Here is immers nie onregverdig nie, sien raak wat hulle vir Hom en vir die ander “heiliges” doen.  Hy wil net baie graag hê dat elkeen van hulle enduit dieselfde ywer sal toon om die wedloop wat vir hulle voorlê te voltooi, soos dié wat hulle voorgegaan het.  In Hebreërs 11-12 sal hy verder daaroor uitbrei.

Fokus op God se belofte – Hebreërs 6:13-20

Die skrywer kan sy kommer oor hulle besweer deur homself en hulle te herinner aan die feit dat God se belofte van seën steeds van krag is.  Soos hy vir Abraham gesweer het met sy offer van Isak: “Ek sal jou beslis ryklik seën en jou veelvuldig laat vermeerder,” (Gen. 22) só belowe Hy dit nou vir die gelowiges in Italië, trouens vir alle gelowiges waar hulle hul ook mag bevind.

Dié besluit van God is onveranderlik: “Ons het hierdie hoop as ’n veilige en stewige anker van die siel wat tot aan die binnekant van die tempelgordyn ingaan.  Dit is waar Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan het en Hoëpriester vir ewig geword het volgens die orde van Melgisedek.”

Dit sal in Hebreërs 10 die basis word van sy oproep om op dié nuwe lewende weg deur die bloed van Jesus Christus na God te gaan en met Hom gemeenskap te hê.  Die tempelgordyn word daar met Jesus se liggaam verbind.

Boodskap en betekenis

Geestelike onvolwassenheid is ’n probleem in enige geloofsgemeenskap.  Wanneer mense traag word om te luister, raak hulle geestelike lewe oppervlakkig.  En dit beïnvloed die hele geloofsgemeenskap.  Dan kan dit maklik gebeur dat mense weer hulle toevlug neem tot die basiese beginsels van die Christelike geloof, dinge wat met bekering en geloof in God te make het, en dinge waaroor hulle eintlik alreeds kategetiese onderrig ontvang het.

En natuurlik moet dié dinge steeds die fondasie van elke gelowige se lewe wees, maar as dit ál is waaroor gesels word, as dit ál is waaroor opgewonde geraak word, word mense se aptyt vir die dieper dinge van die Here afgestomp.

Die Christelike wedloop gaan nie net oor die begin daarvan nie, die inlywing in die liggaam van Christus deur die doop en die ervaring van die krag van die Heilige Gees nie, hoe belangrik dit ook al is.  Dit gaan veral oor die inblywing in die liggaam van Christus, oor die vasgryp aan die Here Jesus, die Leidsman en Voleinder van ons geloof, om ten spyte van die uitdagings van versoekings en vervolgings te onderskei tussen goed en kwaad, en betrokke te raak by die uitbreiding en vestiging van God se koninkryk.  Daarin moet ons geoefen word.  Daarin moet ons mekaar ondersteun.  Daarvoor moet ons die Here vertrou – geduldig en gelowig.  Hy sal inderdaad ons daarin seën!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda