Skip to main content

Openbaring 5

Die Lam van God is waardig om God se agenda uit te voer

Die hemelse erediens wentel nie net om die aanbidding van God op sy troon nie. Vanuit die erediens in die hemel neem God beheer van alles wat is en was en wat kom. Hy bepaal die agenda en die verloop van die ontplooiing van die gebeure in die heelal deur sy Seun. Die hemelse erediens het dus ’n beslissende invloed op die aarde.

Teks en konteks

In God se hand is daar ’n boekrol wat binne en buite vol geskryf is en met sewe seëls goed verseël is, sodat niemand dit sonder meer kan oopmaak en dié agenda in werking kan stel nie. Trouens, dit is net iemand wat die volle verlossingspad reeds geloop het, wat reeds die mensdom met God versoen het, wat die verdere verloop van die verlossingsplan vir die heelal kan bekendmaak en in werking stel.

Jesus is die Leeu van Juda, die Lam wat geslag is

Een van die ouderlinge wys dan vir Johannes op die Enigste een wat die boekrol uit God se hand kan neem en die seëls daarvan kan breek, dit is die Leeu van Juda, die nakomeling van Dawid, die Lam wat geslag is, Jesus. Hy is waardig om die boekrol te neem, want Hy is die Verlosser en daarom die Bemiddelaar van die verlossing. En soos Hy die seëls hierna gaan breek, gaan die inhoud van die boekrol nie net bekend word nie, maar ook deur Hom in werking gestel word.

Belangrik: die boekrol van Openbaring 5 is iets anders as die boekrolletjie waarvan Openbaring 10 gaan praat. Nie net word verskillende Griekse woorde gebruik om die twee boekrolle te beskryf nie – biblion in Openbaring 5 en biblaridion in Openbaring 10. Maar die boekrol van Openbaring 5 is ook die een wat Jesus gebruik in die ontplooiing van God se plan vir die heelal. Die boekrolletjie van Openbaring 10 is weer die een wat Johannes kry waarmee God hom bemagtig om namens Hom te praat.

Jesus word hier met twee metafore beskryf: as ’n Leeu en as ’n Lam.

  • Hy is die Leeu in terme van sy afstamming uit die Messiaanse linie, uit die stam van Juda, die nakomeling van Dawid.
  • Hy is die Lam in terme van sy kruisdood waarmee Hy met sy bloed mense vir God gekoop het uit elke geslag en taal en volk en nasie.

Maar, belangrik, Hy neem die boekrol in ontvangs, die agenda van God se plan vir die heelal, as die Lam wat geslag is. Die weerloosheid van ’n lam, die offervaardigheid van sy bereidheid om geslag te word, bly dus steeds die uitstaande kenmerk van die styl waarin Hy die heerskappy wat God Hom toevertrou, uitvoer.

Alles wat bestaan, aanbid die Lam

Die sewe horings van die Lam dui egter ook daarop dat Hy omvattende mag het en dat die sewe Geeste, die Heilige Gees, boonop in sy volheid in Jesus woon. Hy kan dus sorg dat dié agenda van God ten uitvoer gebring word.

Soos die vier lewende wesens saam met die 24 ouderlinge voor die Skeppergod neergeval en Hom aanbid het, val hulle ook nou neer voor die Lam om Hom te aanbid. Dit bewys sy goddelike status.

Saam met hulle is daar egter nou ook nog miljoene engele, sowel as die hele skepping, wat Hom aanbid in die volgende sirkel rondom die troon.

’n Uitstaande kenmerk van die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge se aanbidding is dat hulle nie net die lier (die Griekse woord is kithara, waar ons ons naam vir die ghitaar vandaan kry!) in hulle aanbidding van God inspan nie, maar ook die gebede van die heiliges. Die gebede word in die simboliese vorm van ’n goue wierookbak voor God gebring.

Die gebede van die heiliges

Van hierdie gebede sal nog twee keer in Openbaring gewag gemaak word wat onderstreep dat gebede nie net God verheerlik nie, maar ’n bepaalde invloed het op die koers wat God met die wêreld inslaan.

  • Hier in Openbaring 5:8-10 wentel die gebede waarskynlik om die loflied vir die Lam.
  • In Openbaring 6:9-11 wentel die gebede van die martelare om die klaaglied dat reg sal geskied op aarde.
  • In Openbaring 8:3-5 lui die gebede van die gelowiges onder andere die sewende seël se sewe trompette en hulle oordele

Dit laat ’n mens onmiddellik dink aan die lof- en klaagpsalms in die vyf Psalmboeke en ook die vloekpsalms wat deel van die klaagpsalms vorm. En motiveer ‘n mens om meer erns te maak met die Psalms in jou stiltetyd!

Boodskap en betekenis

Let op hoe die drie lofliedere – van die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge; van die miljoene engele; van alle skepsels – nie net die voortreflikheid van die Lam besing nie – krag, rykdom, wysheid, sterkte, eer, heerlikheid, lof – maar ook die agenda van God vir sy mense uitspel, soos in Openbaring 1, dat hulle ’n koninkryk van priesters vir God gemaak is, wat as konings oor die aarde sal heers. ‘n Wonderlike werklikheid en ’n hoopvolle belofte.

Die enigste reaksie wat hier pas, is om hierdie Jesus, die Lam van God, te aanbid en aktief deel te neem deur volhardende gebed vir sy uitvoering van God se plan.

Hierdie plan van God sluit natuurlik verlossing en oordeel in en help ‘n mens die rol en betekenis van die vloekpsalms in die lig van die boodskap van vergifnis wat Jesus gebring het, beter verstaan.

Die oordeel van God bly steeds ‘n perspektief in ons gebede wat ons voor die Here in ons gebede moet bring.

Soos die eerste gelowiges bv. in Handelinge 4 gebid het dat die Here ag sal slaan op die dreigemente en vervolging wat die ongelowige Joodse raad teen hulle van stapel stuur, waarmee hulle bid dat God teen hulle teëstanders sal optree, maar dan ook te vra dat die Here hulle as gelowiges in staat sal stel om die bediening van verlossing met vrymoedigheid aan almal te verkondig, ook aan die teëstanders.

Dieselfde perspektiewe lê agter Jesus se profetiese rede waar Hy die oordeel van God verkondig oor dié wat nie tot inkeer kom nie, maar ook die weg van verlossing uitspel (Matt 23-25).

So ook Paulus wat ons oproep tot ‘n lewenstyl van seën vir die vervolgers in die hoop dat hulle tot inkeer sal kom, maar tegelykertyd die wraak vir die kwaad wat mense gelowiges aandoen aan God se oordeel oorlaat (Rom 12).

Op soortgelyke wyse begelei die gebede van gelowiges hier die verlossende oordeel van God in Openbaring (Openb. 5:8 vv.), waarin hierna met die oopmaak van die vyfde seël die Here ook vir wraak gevra word vir die dood van martelare vir hulle geloof (Openb. 6:9-11). Dieselfde sal gebeur met die sewende seël waar die gebede van die heiliges die sewe trompette van God se oordeel begelei (Openb. 8:1-5).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…