Skip to main content

1 Samuel 15

Om te luister, is beter as die vet van ramme

Saul se verhaal is, soos Eli s’n, ‘n verhaal van verspeelde kanse. Hier gee die Here deur Samuel vir Saul ‘n manier om reg te maak wat hy tevore verbrou het. Saul verkwis egter die geleentheid, deur Agag, die Amalekitiese koning, se lewe te spaar en boonop onder valse voorwendsels van die beste buit vir homself te neem. Geen wonder dat die Here sê van Saul: “Ek is spyt dat Ek Saul as koning aangestel het, want hy het van My af weggedraai en my opdragte nie uitgevoer nie.” Dat Saul die “gesteelde” buit vir die Here wil offer, maak nie sy ongehoorsaamheid ongedaan nie. Om te luister, is immers baie beter in die oë van die Here as die vet van ramme wat aan Hom geoffer word.

Teks en konteks

Samuel het ’n laaste keer probeer om Saul te laat luister na die woorde van die Here. Die opdrag aan Saul was om die Amalekiete met die banvloek te tref. Dié banvloek was teen alles en almal gerig vanweë hulle ongeprovokeerde aggressie teen God se volk in die woestyn. God se belofte aan Abraham was dat Hy hulle sal seën wat hom (en sy nageslag) seën, “maar wie jou verwens, sal Ek vervloek.” Die woord wat hier met “verwens” vertaal word, beteken om iemand te minag, of as waardeloos te hanteer, of te vervloek. Dié belofte gaan dus nou in ‘n negatiewe sin in vervulling vir die Amalekiete. Wie God se volk minag, kry met Homself te doene.

Saul tree kragdadig op en sorg selfs dat die Keniete gespaar word weens die goeie band wat daar tussen hulle was sedert die tyd in die woestyn. Sy probleem kom egter as hy self besluit wat met Agag, die koning, en die beste kleinvee en beeste gebeur.

Die Here se droefheid oor Saul eggo sy droefheid oor die mens in Genesis 6: “Ek is spyt dat Ek Saul as koning aangestel het, want hy het van My af weggedraai en my opdragte nie uitgevoer nie.”

Samuel was ontsteld en het die hele nag deur probeer om die Here te oortuig om Saul nie te verwerp as koning nie, maar tevergeefs. Toe hy self egter hoor dat Saul sowaar vir homself ‘n gedenkteken opgerig het, het Samuel geweet die koëel is deur die kerk.

Toe Samuel vir Saul berispe oor “die geblêr van kleinvee… en die gebulk van beeste” wat verkondig dat Saul ongehoorsaam was, het Saul probeer om die situasie tot sy voordeel aan te wend deurdat hy kwansuis dié diere aan die Here wou offer. Let op hoe hy die skuld ook op die manskappe plaas.

Samuel draai egter nie doekies om nie en verkondig aan Saul dat die Here nie brandoffers en maaltydoffers soek nie. Hy soek gehoorsaamheid aan sy opdragte. Wanneer ‘n mens opstandig raak en eiesinnig jou eie kop volg, pleeg jy die sonde van waarsêery, aanbid jy jou eie afgode. Saul se ongehoorsaamheid is ‘n eksplisiete verwerping van die woord van die Here. Daarop reageer die Here nou deur Saul as koning te verwerp.

Saul se sondebesef wentel nie – soos Dawid wel later doen – om die besef dat hy teenoor die Here self gesondig het nie, maar net om die impak wat dit op homself sal hê in die oë van sy manskappe. Hy vra vir Samuel om hom te vergewe, in plaas daarvan dat hy dit van die Here vra.

Toe Samuel omdraai om te loop, en Saul die soom van sy mantel gryp, het dit geskeur. Waarmee Samuel verder die boodskap vir Saul gee dat die koningskap van hom afgeskeur is en aan iemand gegee is wat beter is as Saul – dws, wat beter na die Here sal luister as Saul.

Samuel verkondig dan ‘n perspektief op die “Ewige van Israel” – dit kan ook met die “Heerlikheid van Israel” vertaal word – as Iemand wat nooit sy woord breek nie. Want, sy woord duur vir ewig, so heerlik en weergaloos is dit. Hy is nooit spyt oor enigiets wat Hy sê nie. Sy woord is onverbreekbaar en onverhandelbaar. Hy is immers nie ‘n mens dat Hy woorde sou uitspreek wat nie uitkom nie (vgl Num 23:19 waar Bileam dieselfde oor God verkondig).

Die ongemaklike waarheid van verwerping begin stadig maar seker deurdring na Saul en probeer nog ‘n laaste keer om Samuel te oortuig om saam met hom te gaan na die oudstes van sy volk, sodat hy nie voor hulle verneder word nie. Let op hoe hy nou van die Here as “u God”, dws Samuel se God, begin praat. Tog probeer hy vir oulaas tog voor die Here in aanbidding buig, maar verniet. Die hemel het vir hom toegegaan.

Samuel wys dan dat hy nie iets van Saul vra wat hy nie self bereid is om te doen nie, en het Agag stukkend gekap voor die Here in Gilgal, die einste plek vanwaar hulle die land oorspronklik ingeneem het.

Samuel het teruggekeer na sy huis in Rama en tot die dag van sy dood nie weer interaksie met Saul gehad nie, al het hy oor Saul getreur. Die tafel was nou gedek vir die volgende episode in die verhaal van die konings van Israel waar God die man na sy hart sou kies, koning Dawid. Daarvan lees ons in hoofstuk 16.

Boodskap en betekenis

Dit roer my dat Samuel die hele nag deur die Here smeek om uitkoms, want hy was lief vir Saul en die volk, en sou tot die einde van sy lewe daaroor treur. Maar dit verontrus my dat Saul kan dink hy hét gedoen wat die Here gevra het, maar net nie raaksien dat halwe gehoorsaamheid uiteindelik geen gehoorsaamheid is nie. Soos die Here sê: “om te luister is beter as die vet van ramme.”

Hierdie gedeelte onderstreep dus die belangrikheid van gehoorsaamheid aan God se opdragte. Saul se gedeeltelike nakoming van God se opdragte dien as ‘n waarskuwingsverhaal. God soek heelhartige gehoorsaamheid. Terwyl Saul regdeur vergeefs probeer om Samuel te oortuig dat hy gehoorsaam was, rasionaliseer hy só eintlik sy ongehoorsaamheid, onder andere deur sy optrede op ‘n skelm manier as ‘n offer aan God te probeer regverdig.

Die gedeelte bied ook insig in die karakter van God. God se opdrag om die Amalekiete te vernietig, mag dalk hard of buitensporig voorkom, maar dit dien om sy heiligheid, soewereiniteit en gesag oor alle nasies te onderstreep. Dit openbaar aan die een kant God se verbintenis tot die hantering van sonde onder die nasies teenoor sy volk, maar aan die ander kant ook die eis dat sy volk met integriteit sal optree. Want, dieselfde maatstaf geld uiteindelik vir die volk sowel as die nasies. God soek gehoorsaamheid aan sy wil.

Die gedeelte herinner ons ook daaraan dat God se weë nie altyd ooreenstem met menslike oorwegings nie. Dit roep ons op om op God se geopenbaarde wysheid te vertrou en ons in alles aan sy gesag te onderwerp en nie ons eie kop te volg nie.

Die ongelukkige nadraai van hierdie geveg met die Amalekiete is dat die vyandskap tussen die Amalekiete en die Israeliete met hierdie oorwinning oor koning Agag verdiep het. Eeue later sou dit amper tot ‘n volksmoord lei in die tyd van Ester waar Haman, ‘n nasaat van Agag, Mordegai, ‘n Benjaminiet, dws ‘n nasaat van Saul se stam, wou uitwis en saam met hom die hele Joodse volk. Gelukkig het die Here vir Ester kon gebruik om dié ramp te verhoed, ‘n ingrype van God wat tot vandag toe gevier word deur die Jode met die Purim fees.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar