Skip to main content

Psalm 109

U is goed en getrou, moet U nie doof hou nie

Dit lyk asof die Psalmis in Psalm 109 waarskynlik in ‘n soort godsdienstige hofgeding aangekla word, hoewel daar min detail oor die klagtes self gegee word. Liefdeloosheid, vervolging, en vervloeking word wel as aanklagte teen hom ingebring (Ps 109:16-17), maar dit is volgens die Psalmis van alle waarheid ontbloot. Dit lyk ook asof daar skuldeisers betrokke is by die saak teen hom (Ps 109:11).

Teks en konteks

Die Psalmis se pleitrede aan God begin met ‘n kort lofprysing: “U is die God wat ek altyd loof”, iets wat hom herinner daaraan dat God bestaan en dáár is vir hom. En hy vervolg met ‘n ewe kort en kragtige pleidooi: “moet tog nie my gebede onverhoord laat nie.” (Ps 109:1). Letterlik staan daar: “moet U nie doof hou nie” (2020-vertaling). Inderdaad: God is immers daar. Moet net nie stibly nie, Here!

In drie dele bied die Psalmis dan ‘n konteks vir die aanklag (Ps 109:2-5), beskryf hy die vyandige houdings van diegene wat hom aankla (Ps 109:6-19), en hef ‘n roerende smeekgebed tot God aan dat God sal optree en dinge sal regstel (Ps 109:20-31). Weereens is dié Psalm besonder geskik as model wanneer ‘n mens in ‘n soortgelyke situasie kom: 1) Beskryf vir die Here die konteks, 2) brei uit oor die houdings van die aanklaers, en 3) pleit dat Hy dit sal regstel.

BESKRYWING VAN DIE KONTEKS: Psalm 109:2-5 – Die Psalmis skryf oor die goddeloosheid en leuens wat in hulle aanklagte na vore kom: “Hulle getuig vals teen my, met woorde vol haat tref hulle my van alle kante, sonder enige rede val hulle my aan.” (109:2-3). Hy stort sy hart uit voor die Here dat die liefde waarmee hy ander hanteer het met vyandskap beantwoord is. Hulle vergeld hom met kwaad vir goed en met haat vir liefde, al was hy dit een wat vir die aanklaers gebid het.

‘n Situasie wat ‘n mens natuurlik onmiddellik aan die Here Jesus se ervaring tydens sy bediening en veral met sy kruisiging laat dink. In Jesus se woorde: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Luk 23:43). ‘n Mens hoor Psalm 109:4: “My liefde beantwoord hulle met vyandskap, en dit terwyl ek nog altyd vir hulle gebid het,” weerklink.

BESKRYWING VAN VYANDIGE HOUDINGS: Psalm 109:6-19 – Die houding van die “goddelose mense en leuenaars” word uitvoerig beskryf en ingelei met die frase: “en hulle sê” (Ps 109:6-19). Dit is duidelik dat die aanklaers die man speel en nie die bal nie. Daarom wil hulle ‘n misdadiger as regter aanstel sodat hy die Psalmis kan skuldig bevind, maak nie saak wat die feite van die saak is nie.

Let op dat sy gebed vir hulle selfs teen hom gebruik word! Die aanklaers wil duidelik hê dat die Psalmis uit die weg geruim moet word sodat sy familie grondloos as bedelaar kan rondswerf. Alles wat hy gehad het, moet deur die skuldeisers opgeraap word sodat daar niks oorbly nie.

Selfs sy familie moet geen deernis ontvang nie, sodat hulle van die aardbol af kan verdwyn, weens sy gewaande liefdeloosheid, vervolging, en vervloeking. Let op die boeiende metafore: “om mense te vervloek, is vir hom soos klere dra, soos water drink, soos olyfolie aansmeer. Laat sy vloek hom aankleef soos sy klere, soos ‘n gordel wat hy deurentyd dra!” Waarskynlik ‘n beter beskrywing van hulleself, maar steeds treffend.

Weereens is dit moeilik om die situasie rondom die kruis van Jesus te vergeet in ‘n mens se nadenke hieroor. Die vroeë kerk het ook vers 8: “laat iemand sy amp oorneem”, van toepassing gemaak op die verkiesing van ‘n ander apostel in die plek van Judas Iskariot (Hand. 1:20).

SMEEKGEBED OM VERLOSSING: Psalm 109:20-31 – Die Psalmis keer nou sy aandag na die optrede van die Here. Hy wil hê dat hulle vyandige wense vir hom op hulle eie koppe sal neerkom. Sy appél is dat die Here sal optree eerstens soos Hy inderdaad is, goed en getrou. In die tweede plek pleit hy dat die Here sal raaksien dat sy Naam ook op die spel is, en dat Hy sal help dat die Psalmis en wat met hom gebeur nie God se Naam in diskrediet sal bring nie.

Hoor hoe roerend pleit hy: “Soos ‘n skaduwee wat lank word, is my einde naby.” Help my, voordat dit te laat is, sodat mense in die derde plek kan agterkom dat God dáár is, en dat dit sy hand is wat die Psalmis uit sy nood gered het. Hy soek ‘n omkeer in sy situasie dat dit eerder die teenstanders sal wees wie se: “vernedering hulle aankleef soos hulle klere.” Dán sal die Psalmis God weer vryuit kan loof voor die groot geloofsgemeenskap.

Boodskap en betekenis

Wat die Psalmis dryf tot hierdie sterk roepgebed – “Moet U nie doof hou nie” – is die feit dat hy staatmaak op twee goed:

  • Hy maak staat op wie God in sy wese is, dat God goed is, en getrou. Soos hy in die tweede deel van vers 21 sê: “U is goed en getrou, red my tog.
  • Hy maak staat daarop dat God wil hê dat sy Naam geëer sal word. Daarom vra hy in eerste deel van vers 21: “Handel met my só dat u naam geëer sal word.” Hy maak staat daarop dat God sy ingrype in die lewe bekend wil maak. Daarom vra hy in vers 26-27: “Red my in u troue liefde, dat mense kan weet dat dit u hand is.

Hierdie twee gedagtes kan op ‘n kragtige wyse ons eie gebede struktureer.

  • Bid op grond van God se karakter dat Hy uitkoms sal gee.
  • Bid op grond van God se eer dat jou lewe nie tot sy diskrediet en oneer sal lei nie, veral nie waar daar vals getuienis, haatspraak en vyandskap teenoor jou gepleeg word nie. Natuurlik moet jy jou daarvoor gee om eerlik en opreg die Here te dien en aan Hom lojaal te bly, sodat niemand van jou kwaad kan praat nie.

Maar verandering begin by die werk wat God in ons hart doen en namens ons in die gemeenskap. God is selfs in staat om die harte van teëstanders te verander, al is dit eers in die NT wat dié besef in die lewe van Jesus volledig deurbreek.

Terloops: Jesus het natuurlik vir ons in die NT gewys dat die wraak ons nie toekom nie, maar vir God. Daarom het Hy geleer dat ons ons vyande moet liefhê en vir hulle moet bid, soos Hy inderdaad aan die kruis gedoen het.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.