Skip to main content

Handelinge 20:2b-3a; Romeine 1

God red dié wat glo, maar gee dié wat Hom verwerp aan sonde oor

Paulus besoek nie lank na die skryf van 2 Korintiërs in Macedonië weer Korinte (Lukas verwys met “Griekeland” waarskynlik Agaje) waar hy drie maande gebly het. Dit is hier in Korinte waar Paulus die brief aan die Romeine geskryf het naby die einde van sy derde sendingreis, ongeveer in die jaar 57 n.C. Hierna was hy op pad met die dankoffers wat gemeentes in Masedonië en Agaje bygedra het vir die gemeente in Jerusalem (vgl. Rom. 15:25-26 met 1 Kor. 16:1-7) .

Hy stuur die brief waarskynlik saam met Febe (Rom. 16:1-2 – Kenchreë is die oostelike hawe in Korinte), ook omdat hy graag met hulle hulp die evangelie verder sou wou vat na Spanje toe (Rom. 15:22-33). Priscilla en Akwila is reeds daar, waarskynlik deur Paulus gestuur om die gemeente te gaan ondersteun, omdat hulle ‘n huis daar gehad het. Hulle het gegaan al het dit hulle lewens in gevaar gestel weens die vervolging van Jode ‘n paar jaar tevore (Rom 16:3-5).

Die brief is gerig aan die gemeente in Rome, waarvan, hoewel hy nie by hulle stigting betrokke was nie, baie mense aan hom bekend was (Rom. 16:3-16). Die gemeente het waarskynlik tot stand gekom deur ‘n groep Jode van Rome wat op die eerste Pinksterdag die evangelie in Jerusalem gehoor het (vgl. Hand. 2:10). Die feit dat Paulus so baie van hulle geken het, kan ook moontlik beteken dat Paulus van hulle gestuur het om die gemeente verder te vestig en te laat groei (Frank Viola).

Teks en konteks

Na Paulus se inleidende groeteboodskap (1:1-7), dank hy God vir die geloof van die gelowiges in Rome (1:8-10) en gee twee redes vir sy skrywe (gedikteer aan Tertius – Rom. 16:22) :

  1. Hy wil Rome besoek (1:11-15) en
  2. Hy wil die boodskap van die evangelie bevestig dat daar redding is vir almal wat glo (1:16-17).

Die boodskap wat Hy aan hulle bring, deel hy in tien dele op:

  1. Alle mense het gesondig: heidene en Jode (1:18-3:18)
  2. Mense word deur geloof in ‘n regte verhouding met God gebring (3:19-4:25)
  3. Die resultaat van die regte verhouding met God is vrede met Hom (5:1-11)
  4. Die implikasies van die regte verhouding met God is oorwinning oor sonde (5:12-6:23)
  5. Die wet en sy funksies (7:1-25)
  6. Verdere implikasies van die regte verhouding deur geloof (8:1-39)
  7. God se plan om redding deur geloof alleen aan Jode en heidene aan te bied (9:1-33)
  8. Redding vir die Israeliete en die heidene in Christus (10:1-11:36)
  9. Hoe die gelowiges moet leef (12:1-15:13)
  10. Paulus en sy bediening (15:14-33)

Sy brief word afgesluit met uitgebreide groete aan 27 individuele mense en 3 families (16:1-27)

Paulus groet die gemeente in Rome (1:1-7)

Let op die manier waarop Paulus homself bekend stel. Hy is: “’n dienskneg van Christus Jesus, ‘n geroepe apostel, en afgesonder vir die evangelie van God.” Die verkondiging van hierdie evangelie is die spil waarom sy lewe draai.

Die inhoud van hierdie evangelie is deur die vroeëre profete in die heilige Skrifte belowe. Die evangelie van Jesus Christus is dus volledig in ooreenstemming met die heilige Skrifte.

Die inhoud van hierdie belofte in die Skrifte is vervul deur die geboorte van Christus Jesus. Hy is na die liggaam uit die nageslag van Dawid gebore, dws ware mens. Maar, Hy is ook op grond van sy opstanding uit die dood, soos aangedui deur die Gees van heiligheid, die Seun van God, dws ware God.

Jesus Christus self, ons Here, het Paulus in genade as apostel geroep om mense uit al die heidenvolke tot geloofsgehoorsaamheid te bring.

Paulus dank God vir die geloof van die gelowiges in Rome en wil hulle besoek (1:8-12)

Anders as met die Galasiërs, prys Paulus hierdie gemeente vir hulle geloof. Hy wil hulle besoek om wedersyds in die geloof versterk te word.

Paulus wil sy roeping en hartsbegeerte nakom (1:13-15)

Hy wil met sy besoek, soos op ander plekke, sy roeping en hartsbegeerte om mense vir Christus te wen, by hulle nakom. Hierdie roeping sluit die Grieke en die nie-Grieke (barbare of onbeskaafdes), die wyses en die onverstandiges in (vgl 1 Kor 9:19-23). Hy wil ook deur die gemeente gehelp word om na Spanje te reis (vgl Rom 15:24).

Deur die evangelie is daar redding vir elkeen wat glo (1:16-17)

Let op hoe opgewonde hy oor die ingeboude Goddelike krag van die openbaring van die evangelie van Jesus Christus is wat mense vryspreek van die toorn van God en in die regte verhouding met Hom bring. Hy skaam hom nie vir dié evangelie nie, want die krag daarvan is vir Jode sowel as Grieke: “vir elkeen wat glo.” Sola fide – deur geloof alleen.

In dié evangelie word geopenbaar dat om in die regte verhouding met God te kom “geheel en al op geloof berus,” soos daar geskryf staan: “Die regverdige op grond van geloof sal leef.” (vgl Hab. 2:4)

Alle mense weet van God vanweë die algemene openbaring in die Skepping (1:18-23)

Die eerste hoofdeel van Paulus se boodskap strek van Romeine 1:18-3:18, en verkondig die boodskap dat alle mense gesondig het: heidene en Jode. Dit fokus op die mensdom se verwerping van God (1:18-32), sowel as die Jode wat nie God se oordeel volgens die wet geslaag het nie (2:1-3:8). Almal is dus sondig, Jood en heiden (3:9-18).

Paulus het so pas in Romeine 1:16-17 die sentrale opmerking gemaak dat die evangelie van verlossing ‘n openbaring van God is. Dit word nou opgevolg in Romeine 1:18-32 met ‘n soortgelyke stelling dat God se toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van mense ‘n openbaring van God uit die hemel is.

Hierdie gedeelte beskryf daarom die toorn van God oor die goddeloosheid (asebia) en ongeregtigheid (adikias) van die hele mensdom (hfst. 2 sal uitwys dat die Jode ook daaraan skuldig is, omdat hulle die wet oortree).

Die tragedie van die mensdom is dat hulle God nie as Skepper erken nie ten spyte van die algemene openbaring. Omdat God se wese en werke vir almal sigbaar is, kan niemand hom- of haarself egter verontskuldig dat hulle nie geweet het nie, want die kennis van God is van altyd af sigbaar. Trouens, in hoofstuk 2 sal Paulus uitwys dat die wet van God in die harte van alle mense geskryf is (Rom. 2:15).

God is dus in die Skepping sigbaar, en sy wil in ons eie hart. Die mensdom kies egter om eerder afgode te dien. Hulle verruil die aanbidding van God as Skepper vir die aanbidding van die skepping en sy skepsels.

Dit is ‘n integrale argument vir alles wat hierna gaan volg. Die gevolg van hierdie verwerping van God deur die mensdom is God se driedubbele “oorgee”-aksie.

God gee die mensdom aan immoraliteit oor omdat hulle Hom verwerp (1:24-25)

God gee vanweë die verwerping die mensdom in die eerste plek oor aan seksuele immoraliteit (akatharsia) om mekaar se liggame op perverse en skandelike maniere te onteer (vers 24-25). Seksuele immoraliteit in al sy vorme is dus ‘n oordeel van God oor die sondigheid en afvalligheid van die mensdom.

God gee die mensdom aan skandelike drange oor omdat hulle Hom verwerp (1:26-27)

God gee vanweë die verwerping die mensdom in die tweede plek oor aan skandelike seksuele begeertes (pathê atimias) waar vrouens met vrouens en mans met mans teen-natuurlike seksuele omgang het en in hulleself die straf vir hulle dwaling ontvang.

Paulus gebruik die algemene woorde vir “manlik” (arsen) en “vroulik” (thelus) in sy beskrywing van selfdegeslag seksuele gedrag.

Dit is betekenisvol, want hy sou ander woorde kon gebruik het wat duidelik sou maak dat hy bv. van pederastie (mans wat seks het met seuns) praat. Die tipe selfdegeslag seksuele verkeer wat hier ter sprake is, is egter duidelik konsensueel en wederkerig en word nie as uitbuiting of mishandeling geteken nie. Vroue was in elk geval nooit by pederastie betrokke nie, maar tog word selfdegeslag seksuele verkeer tussen vroue ook afgewys.

Dieselfde geld die gebruik van “teen-natuurlik” (para fusin) om selfdegeslag seksuele gedrag in hierdie gedeelte te beskryf. Dit kom uit die Skeppingsverhale wat die huwelik tussen een man en een vrou as maatstaf neergelê het.

Soos William Loader sê: “With a fair degree of probability Paul would have had much in common with Philo and Josephus and other Jewish writers of his time, who, in addition to such common values, also equated the way things ought to be, nature (including what we might sometimes call convention), with how God made things to be, creation, and rejected excess.” (Sexuality in the New Testament).

God gee die mensdom aan korrupte denkwyses oor omdat hulle Hom verwerp (1:28-32)

God gee vanweë die verwerping die mensdom in die derde plek oor aan korrupte, onbetaamlike denkwyses (adokimov noun) wat na vore kom in allerlei sondige en onbetaamlike gedrag. Trouens, die mense doen nie net hierdie verwerplike dinge nie, maar praat dit goed dat ander dieselfde sondes pleeg.

God het dus besluit om die mensdom nie meer te beskerm van die vernietigende gevolge van hulle perverse keuse vir die skepping / skepsels eerder as die Skepper nie.

Boodskap en betekenis

Die mensdom is onherroeplik oorgegee aan God se oordeel… behalwe natuurlik as hulle sy roepstem in Jesus Christus hoor en in Hom glo. Jesus is God se geskenk om in die regte verhouding met Hom te kom deur geloof.

Deur in Jesus te glo kan ons God die Vader se toorn vryspring en deur die Gees gelykvormig aan die Seun gemaak word (Rom. 8:29). God het Jesus aan ons “oorgegee” om ons as sy kinders meer as oorwinnaars te maak (Rom. 8:32).

Die sterk uitsprake oor seksuele immoraliteit, skandelike seksuele begeertes en korrupte en verwerplike denke sal daarom op talle ander plekke in Romeine opgevolg word met ‘n uitleg van hoe ‘n gelowige dan met sy of haar liggaam, begeertes en gedagtes in die regte verhouding met die Here te kan lewe.

  • In Romeine 6:19 sal Paulus sê: “soos julle julle ledemate (melê) in diens van onsedelikheid en losbandigheid gestel het om losbandig te lewe, so moet julle nou julle ledemate in diens stel van geregtigheid om heilig te lewe.”
  • In Romeine 12:1-2 sal Paulus gelowiges die opdrag gee om: “julle liggame (sômata) as ‘n lewende, heilige en aanneemlike offer vir God aan te bied. Dit is sinvolle godsdiens. Julle moet nie aan hierdie wêreld gelykvormig wees nie, maar verander word deur die vernuwing van julle denke, sodat julle goed kan onderskei wat die wil van God is — wat goed en aanneemlik en volmaak is.”
  • Dieselfde geld Romeine 13:14 se waarskuwing dat ons nie voorsiening moet maak vir ons “sondige natuur (sarkos) om sy drange te bevredig nie”.

In die loop van sy boodskap sal Paulus aan die een kant die oneffektiwiteit van die wet en die besnydenis uitwys om mense van God se toorn te vrywaar, en aan die ander kant die krag van geloof in Jesus Christus ten toon stel wat mense vryspreek van God se toorn en in die regte verhouding bring met Hom.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…