Skip to main content

Jesaja 13-14

God is in beheer van die wêreldgeskiedenis

Die boodskappe teen die nasies in hoofstuk 13-23 word meesal orakels genoem. Ons vind die term in die opskrifte van die profesieë teen Babel (13:1; 21:1), Filistyne (14:28), Moab (15:1), Damaskus (17:1), Egipte (19:1), Edom (21:11), Arabië (21:13), Jerusalem (22:1) en Tirus (23:1).  By die uitspraak teen Assirië word die woord eed afgelê gebruik om die oordeelsaankondiging te maak (14:24), en by Kus (18:1) word die woord ellende gebruik, wat weer in hoofstuk 28 en verder vir oordeelsuitsprake gebruik gaan word.

Die woord orakel (massâ – letterlik las [Engels: burden]) beteken ’n gewigtige uitspraak (die 1933-vertaling het dit vertaal met Godspraak). Soortgelyke versamelings profesieë teen die nasies vind ons ook in Jeremia 46-51 (teen Egipte, Filistyne, Moab, Ammoniete, Edom, Damaskus, Kedar en Gasor [Arabië], Elam [die Hoogland noord-oos van Babel]) en Esegiël 25-32 (teen Ammoniete, Moab, Edom, Filistyne, Tirus, Sidon, Egipte)

Teks en konteks

Jesaja maak hier ‘n aantal uitsprake teen Babel – Jesaja 13-14:23 (vgl Jes 21:1-10 ook), Assirië (Jes 14:24-27) en die Filistyne (Jes 14:28-32). Tussenin is daar ’n heilsprofesie vir die verenigde volk van Juda en Israel (Jes 14:1-4).

So ’n bietjie agtergrond oor die nasies wat hier genoem word:

  • Babel – In die tyd van Jesaja was hulle ’n toekomstige mag, die sogenaamde Neo-Babiloniese ryk van onder andere Nebukadnesar, wat Assirië se mag eers ’n eeu later kon breek, met die val van Nineve in 612 vC. Hulle wêreldryk het ongeveer 70 jaar geduur tot hulle op hul beurt deur die Persiese wêreldryk vervang is. Die profesie van Jesaja gaan dus eers in vervulling in 539 vC toe Babilon deur Kores van die Perse en Mediërs verower is. Die stad Babilon is in die huidige Irak.
  • Assirië – Dit was ’n baie groot empire wat sedert 1120 onder Tiglat-Pileser I vir 5 eeue die wêreldtoneel met opeenvolgende dinastieë oorheers het. Hulle beset op dié stadium ook die stad Babilon.
  • Filistyne – Dit was die seestrook langs Israel van Joppe in die noorde tot Gasa in die suide, vandag bekend as die Gasa-strook, waar steeds groot konflik tussen die Israeli’s aan die een kant en die Palestynse en Arabiese bevolking aan die ander kant heers.

Jesaja 13:1-22 Teen Babel. Let op na 4 goed:

  1. Dit is die hoogmoed en boosheid van die trotse stad Babilon wat gebreek word eerder as hulle afgodsdiens per se (vers 11). Net ’n klein oorblyfsel sal oorbly (skaarser as goud). Die res van die nasies wat in Babilon saamgetrek is, sal terugkeer na hulle eie lande.
  2. Die verwoesting word in kosmiese terme beskryf wat duidelik metaforiese taal is (vers 10, 13 – vgl Joël 2:30-31 soos aangehaal in Hand 2:19-20). Dit leer ons om nie te letterlik met sulke uitsprake om te gaan nie.
  3. Die wreedaardigheid van oorlog word baie grafies uitgebeeld – babatjies word papgeslaan en vrouens word verkrag (vers 16). Dit is inderdaad ’n wrede dag (vers 9). Die wreedheid lê egter in die dinge wat die leër doen, nie in die eerste plek in wat God doen nie.
  4. Die leër wat die verwoesting uitvoer (vers 4-5) word met die Mediërs geïdentifiseer (vers 17).

Jesaja 14:1-4a – Ontferming vir Juda en Jerusalem. Dit is interessant dat die orakel onderbreek word deur ’n heilsprofesie wat dui op die nuwe toekoms wat na die val van Babel vir die verenigde volk, Juda en Israel, sal aanbreek. Onthou net dat Jerusalem egter steeds ingesluit word by die oordeel orakels in hoofstuk 22. Hierdie verlossing kom dus eers ná die verwoesting.

Dit tref my hier hoe die beskrywing insluit dat Juda terug gehelp word deur ander – moontlik ‘n verwysing na die edik van Darius? – en dat ander volke by hulle aansluit. Teenoor die nasies in Babel wat teruggaan na hulle eie lande toe, sluit nasies hier aan by die Godsvolk. Die droom vir die nasies bly steeds lewendig, en is verbind aan wat God met sy volk doen.

Jesaja 14:4b-23 – Spotlied teen Babel. Daar is groot blydskap oor die val van die verdrukker. Dit tref my dat dit nie net die mense is wat bly is nie, maar metafories gesproke ook die doderyk en sy leiers (nogal ’n ironiese prentjie van dooie konings wat op trone in die doderyk sit!). Jesaja sê selfs die bome is bly oor die val van Babilon omdat hulle nie meer afgekap sal word vir die grootskaalse bouwerk in die stad nie (Jes 14:8)!

Babel word hier die helder môrester – in Latyn Lucifer – genoem en in metaforiese taal beskryf as ’n entiteit wat na goddelike status gestreef het (konings in daardie tyd was inderdaad soms as gode beskou), maar inteendeel ’n groot terminale val gehad het. Sy naam word nie eers in gedagtenis gehou nie (vers 20), so groot en volledig is sy val. Die koning word met ’n besem weggevee (vers 23)! ’n Mens vind ’n soortgelyke gedagtegang oor Tirus in Esegiël 28.

Jesaja 14:24-27 – Teen Assirië. Dieselfde lot as vir Babel sal die Assiriërs tref. Hoewel dit eintlik ’n soort nagedagte is – vergelyk die vorige oordeelsprofesieë teen Assirië in hoofstuk 10 (ellende wag vir Assirië – 10:5) – word dit hier ingesluit om die volledigheid van God se oordeel te beklemtoon. Dit berei die leser ook voor vir hoofstukke 15-23 wat in die tyd van die Assiriese oorheersing gelewer is.

Jesaja 14:28-32 – Teen die Filistyne. Hierdie orakel word gedateer in die jaar van koning Agas, kleinseun van Ussia, se dood (718 of 715 vC). Waarskynlik word hier verwys na pogings om onder die juk van die Assiriërs uit te kom, deur met Juda ’n alliansie te sluit, maar wat deur God gefnuik sal word. Daarteenoor sal die Here sy volk beskerm.

Boodskap en betekenis

Jesaja verkondig die oordeel van God oor die volke van die aarde. Hulle sal eendag beide die Here se soewereiniteit erken en deur Hom verantwoordelik gehou word vir hul dade. Maar Jesaja verkondig ook God se beloftes van herstel wat op sy oordeel sal volg.

Let op hoe Babilon reeds hier as die toekomstige onderdrukker van Juda genoem word. Op hierdie stadium is Babilon nog aan Assirië onderworpe en het hulle nie net Israel in ballingskap laat wegvoer nie, maar ook Juda bedreig in die tyd van Hiskia.

Die uiteindelike val van Jerusalem en die ballingskap na Babilon word ook deur Jesaja voorspel, maar hier profeteer Jesaja nog dat die Assiriërs sal terugdraai voordat hulle Jerusalem verower, soos wat ‘n paar jaar later in Hiskia se tyd gebeur het.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.