Skip to main content

Psalm 59

Breek hulle stadig af deur u mag

Psalm 59 is die derde Psalm in die reeks, Psalm 57-59, wat op die wysie van “Moenie verwoes nie” vir die koorleier aangedui word. Die Psalm word verbind met die verhaal van Saul wat opdrag gegee het dat Dawid se huis omsingel word om hom dood te maak. Daarom lees ons dit op dié punt in die kronologiese leesplan.

Dit is dus ’n diep persoonlike Psalm in ’n situasie van groot gevaar. Telkens word die historiese situasie egter ook wyer geïnterpreteer as metafoor vir die bedreiging van die nasies (vers 6, 9) en het die Psalm ook betekenis vir die geloofsgemeenskap (vgl. die meervoud in vers 12 “ons Beskermer” en die hoop op die universele getuienis van God se verlossing in vers 14).

Teks en konteks

Ons vind dié verhaal in 1 Samuel 19, terwyl Dawid nog vir Saul in sy huis op die lier gespeel het. Saul het dié dag met sy spies in sy hand gesit toe ”’n boosaardige gees wat deur die Here gestuur is,” oor Saul gekom het, en hy geprobeer het om Dawid met die spies dood te maak. Dawid het egter gekoes en gevlug vir sy lewe na sy eie huis. Saul het toe van sy mense na Dawid se huis toe gestuur “om hom dop te hou en hom in die môre dood te maak.”

Dawid se vrou Migal, Saul se dogter, het hom egter gewaarsku dat hy moet vlug anders word hy doodgemaak. Sy het hom deur die venster laat afsak en hy het só ontsnap. Migal het gemaak asof hy nog daar is en ‘n afgodsbeeld op die bed met ’n bokhaarnet om die kop gedraai en dit met ’n kombers toegemaak. Toe Saul se mense vir Dawid die volgende oggend kom soek, het sy gesê hy is siek. Saul het hulle egter beveel om hom met bed en al na hom te bring sodat hy Dawid kon doodmaak. Toe eers het hulle agter gekom Dawid is weg. Saul was baie kwaad vir Migal, maar sy het sy gramskap ontwyk deur Dawid te beskuldig dat hy haar met die dood gedreig het.

Met dié historiese agtergrond in ag genome, is die Psalm ’n diep persoonlike worsteling van Dawid met die geweld van sy vyande terwyl hy nêrens oortree het nie. “Ek is onskuldig en tog bestorm hulle my.” Telkens word die gevaar van die nasies egter bygetrek waarmee die Psalm ook betekenis vir die geloofsgemeenskap gekry het.

Die Psalm kan in drie dele verdeel word: vers 2-6, vers 7-14, vers 15-18 – onder andere as gevolg van die Selas, asook die herhalende inhoud van vers 7 en 15 wat telkens ’n nuwe deel van die Psalm inlei:

Red my van my vyande, my God – vers 2-6.

Dawid bid vir God se hulp om hom te red, beskerm en bevry van sy vyande en teëstanders, mense wat onreg doen en moord wil pleeg. Dawid is ontsteld omdat hy nie oortree het nie en hulle hom onskuldig bestorm en aanval. Anargie heers. Daarom vra hy hulp van God. Let op hoe hy God met ’n omvattende beskrywing aanspreek: “U is die Here God, die Almagtige, die God van Israel!” Daarmee fokus hy vervolgens op God se hulp ook vir die gevaar van die nasies: “Moenie genade betoon aan sulke lae verraaiers nie.” Harde woorde!

Breek hulle stadig af deur u mag en laat hulle ondergaan – vers 7-14.

Dawid vergelyk die vyande met grommende skuimende-mond honde wat hom omsingel. Hy put krag uit God se spottende houding teenoor hulle, waarin hy woorde uit Psalm 2 aanhaal (wat ons later sal lees), en daarmee ook die nasies weer in spel bring. Op God wil Dawid sy hoop gevestig hou, want Hy is sy veilige vesting. Interessant genoeg wil hy nie hê dat die vyande/nasies eensklaps uitgewis sal word nie, maar eerder stadig, sodat hulle straf nie ongemerk sal verbygaan nie en almal terdeë daarvan bewus sal kan wees. Hy vra ook dat hulle eintlik met hulle eie woorde en houding gevang sal word, sodat dit duidelik blyk dat hulle hul straf verdien. Nogal ’n interessante perspektief. ’n Skielike dood sou vermoedelik die gevaar kon inhou dat mense vir hulle jammer kon voel, inplaas daarvan om terdeë bewus te wees van die regverdigheid van hulle lotsbestemming, juis vanweë die stadige verloop van die proses. “Dan sal almal weet dat God oor sy volk Jakob en oor die hele aarde regeer.” Nogal ’n belangrike perspektief wat rekening hou met die voordeel van die wiele van geregtigheid wat stadig draai …

U is my veilige vesting – vers 15-18.

Weereens word die vyande met honde vergelyk met die byvoeging dat hulle aan die tjank gaan as hulle nie genoeg kry nie! Let ook op dat hulle werk in die donker gedoen word. Daarteenoor sal Dawid elke môre teenoor God jubel, want hy is ’n kind van die dag. God is vir hom ’n veilige vesting (twee keer herhaal om dit te beklemtoon). Daarom wil hy God se eer en trou besing.

Boodskap en betekenis

Dít is ’n Psalm om te gebruik in tye van groot aanvegting, veral in persoonlike krisisse, maar ook wanneer ’n gemeenskap onder beleg is van anargie en wetteloosheid. Onthou dat die Psalm vir jou “woorde vir jou woede” gee, maar dat jou gebed vir jou vyande uiteindelik eerder hulle transformasie in die oog het. “Laat hulle ondergaan” kan dan gebid word as “laat hulle dade ondergaan” terwyl steeds vir die inkeer van die vyande en die omkeer van die uitwerking van hulle dade gebid word. En onthou dat daar voordele is in die wiele van geregtigheid wat stadig draai. Die impak van die verandering is groter as dit langsamerhand tot stand kom. Geduld en vertroue is die wagwoord!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar