Skip to main content

Jesaja 32-33

Die Here is ons Koning en ons God

As kroon op die belofte van ‘n omkeer vir die volk wat deur vertroue en gebed te weeg gebring sal word, belowe God ‘n koning wat reg sal regeer saam met ‘n amptenary wat reg sal laat geskied. Die koning sal met die Gees van Bo toegerus wees (Jes 32:15); Hy sal God self wees (Jes 33:22).

In 6 perikope word aspekte daarvan uitgespel:

  1. Jesaja 32:1-8 – Die koning voed mense op om reg te lewe
  2. Jesaja 32:9-20 – Die Gees vestig reg en vrede
  3. Jesaja 33:1-6 – God is die Een op wie jy kan vertrou
  4. Jesaja 33:7-9 – Die oordeel ontsien niemand nie
  5. Jesaja 33:10-16 – Net dié wat reg bly doen, sal beskerm word
  6. Jesaja 33:17-24 – Die Here is ons Koning!

Teks en konteks

Jesaja 32:1-8

Die profeet skets ‘n droom-prentjie van die effek wat die koning wat God sal stuur op die mense sal hê. Let op hoe die beskerming en versorging van die land se mense voorop staan in die koning en sy amptenare se agenda. Dit het ‘n opvoedende effek op die mense wat hulle menswaardigheid bou. Dit laat ‘n mens dink aan wat nodig is vir enige samelewing om voorspoed te beleef: 1) veiligheid, 2) sosiaal-maatskaplike ontwikkeling en 3) onderwys en opvoeding.

Hoe mooi klink die ideaal nie: “’n dwaas sal nie meer as eerbaar beskou word nie en ‘n skurk nie meer as edel beskryf word nie”(32:5). Goed sal goed wees, en kwaad kwaad. Niemand sal daaroor meer enige twyfel hê nie. Let ook op die onderskeid tussen ‘n dwaas en ‘n skurk. Die dwaas weet nie van beter nie; die skurk buit ander se dwaasheid tot sy eie voordeel uit. Daarteenoor staan die eerbare en edel mens wat weet hoe om te leef, en opkom vir wat eerbaar is. Die toppunt van dit alles is dat die koning hulle ook in die regte verhouding met God bring, wat die sentrum van alle wysheid is.

Jesaja 32:9-20

Die profeet keer terug na die huidige situasie en kritiseer die vrouens met ‘n skerp tong! Die rede daarvoor lê in hulle onbesorgdheid en selfversekerdheid wat tot die oordeel van die Here sal lei. Die verwysing na Ofel (vers 14), dui waarskynlik ‘n heuwel in Jerusalem aan, waarop die paleis gebou was (2 Kron 33:14).

Dit sal egter verander wanneer die “Gees van Bo af op ons uitgestort word”, wat die vrede sal herstel deurdat almal sal fokus op die doen van dít wat reg is.

Die belofte van die Gees is iets wat reeds in Jesaja 11:2 voorspel is, en aan die “takkie” gekoppel is, en weer in Jesaja 44:3 geëggo sal word. Dit is ‘n gedagterigting wat uitgebrei word deur Esegiël (39:29) ‘n bietjie meer as ‘n eeu later. Ook Joël (2:28), net voor die ballingskap, borduur hierop voort. Sy voorspelling word met Pinkster in verband gebring (Hand 2), iets wat Jesaja reeds in die 8ste eeu aangeroer het.

Jesaja 33:1-6

‘n Oordeelsboodskap word ook uitgespreek oor die verwoester – soos telkemale al in Jesaja gedoen is – gekoppel aan die gebed van God se mense, wat op Hom vertrou om reg in Sion te laat geskied. Let op hoe diepsinnig God beskrywe word: “Hy is die Een op wie jy jou lewe lank kan vertrou!” Hy is die kosbare besitting wat werklik kan help!

Jesaja 33:7-9

Jesaja keer terug na die situasie in Jerusalem en beskrywe die nood wat die land beleef weens die verdrag wat verbreek is (waarskynlik met Assirië – vgl 2 Kon 18:14: Hiskia het sy deel nagekom, 10 ton silwer betaal, maar Sanherib het steeds Jerusalem beleër). Saron is die naam vir die kusvlakte ongeveer waar Tel Aviv vandag is; Basan is ‘n berg op die Golan hoogte; Karmel is ook ‘n berg, dié een waar Elia die Baälgodsdiens so beslissend uitgedaag het (1 Kon 18).

Jesaja 33:10-16

Dié nood is nie net vanweë die bedreiging van buite nie, maar ook weens die volk se sonde. Let op die ooreenkoms van die volk se woorde (strooi, kaf) met Jesaja wat ook bewus geword het van sy lippe wat reiniging nodig het (Jes 6). Die oordeel oor hulle sal as getuienis dien van God se mag. Net die mens wat opreg is in wat hy sê, en reg en eties bly in wat hy doen, sal ‘n skuilplek hê in die oordeel wat kom.

Jesaja 33:17-24

Jesaja keer hier terug na die tema waarmee hy die gedeelte begin het, die koning wat sal kom en hulle sal red. Die verwoesting van die oordeel sal vervaag as ‘n onwerklike herinnering, en ‘n era van vrede en veiligheid sal aanbreek met die eintlike koning, Jahwe, wat nie net as Koning sal optree nie, maar ook as die Regter en Leidsman, temas wat in die NT met Jesus se koninkryk verbind word (bv. Hebr 12:4). Vergifnis en genesing sal almal se deel wees.

Boodskap en betekenis

Die droom van ‘n volk wat die Here vertrou en met verwagting bid, sowel as die regering van ‘n koning wat sy eer daarin sal stel om reg te regeer saam met ‘n amptenary op die koop toe wat reg sal laat geskied, klink regtig na ‘n Utopia.

Maar, dit is presies wat God hier belowe en wat ons weet in Jesus Christus bewaarheid is. Hy is die Een wat met die Gees van Bo toegerus is (Jes 32:15). Hy is die Een wat God self is (Jes 33:22). Ons deel dus alreeds in die vervulling van hierdie droom.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar