Skip to main content

Matteus 20

Jesus spel koninkrykswaardes vir leiers en die geloofsgemeenskap uit

Matteus 20 belig die radikale waardes van die Koninkryk van die hemele. Jesus vertel die gelykenis van die arbeiders in die wingerd, wat God se oorvloedige goedheid en geregtigheid illustreer deurdat Hy almal, ongeag die kortstondigheid van hul bydrae, met dieselfde genade beloon. Sy oproep tot diensbaarheid as die hoogste vorm van leierskap word beklemtoon in sy antwoord aan die moeder van Jakobus en Johannes, wat ‘n plek van eer vir haar seuns vra. Die genesing van twee blindes aan die einde van die hoofstuk wys op Jesus se mag, en deernis, en hoe die geloof lyk wat Hom eer.

Teks en konteks

Jesus vertel die gelykenis van die werkers in die wingerd (Matteus 20:1-16)

Jesus illustreer dat dissipelskap nie oor status of tydsduur gaan nie deur ‘n gelykenis. Die koninkryk van die hemele is soos ‘n grondeienaar wat werkers deur die dag huur – vroegmôre, nege-uur, twaalfuur, drie-uur, en vyfuur. Ten spyte van verskillende ure se arbeid, kry almal dieselfde loon: ‘n silwer denarius. Toe die wat langer gewerk het kla oor onregverdigheid, antwoord die grondeienaar dat hy sy belofte nagekom het en vra waarom hulle jaloers op sy goedheid is.

Boodskap en betekenis
Die gelykenis wys dat almal in die koninkryk gelyk behandel word. Die Joodse leiers se aanspraak op voorrang weens hulle wetsgetrouheid word uitgedaag. Net so moet dissipels verstaan dat geen status of lang diens jou meer verdienste gee in God se oë nie. God se genade is vir almal, sonder onderskeid.

Jesus kondig sy dood en opstanding die derde keer aan (Matteus 20:17-19)

Terwyl Jesus op pad na Jerusalem is, voorspel Hy weer sy naderende lyding en kruisdood. Hy beskryf hoe die leierpriesters Hom sal oorlewer, hoe Hy verneder en gekruisig sal word, en hoe Hy op die derde dag sal opstaan.

Boodskap en betekenis
Jesus herinner sy dissipels dat sy Messiaanse rol dié van ‘n lydende kneg is. Triomf sal eers na lyding kom. Hierdie aankondiging bevestig die vervulling van die Skrifte en beklemtoon dat God se plan deur selfopoffering uitgevoer word.

Jesus leer die dissipels om te dien en hulle lewe vir ander te gee (Matteus 20:20-28)

Die ma van Jakobus en Johannes vra dat haar seuns ereposisies langs Jesus in sy koninkryk kry. Jesus reageer deur te vra of hulle sy lydensbeker kan drink. Hulle bevestig hul bereidheid, en Jesus erken dat hulle wel sal ly ter wille van die evangelie. Tog beklemtoon Hy dat posisies in sy koninkryk deur die Vader toegeken word. Die ander dissipels raak verontwaardig, maar Jesus herinner hulle dat grootheid in diensbaarheid lê. Hy illustreer dit deur na sy eie lewe te verwys: Hy het gekom om te dien en sy lewe as losprys vir baie te gee.

Boodskap en betekenis
Ware grootheid in die koninkryk van God word deur nederigheid en diensbaarheid bepaal. Jesus bevestig sy identiteit as die Lydende Messias en wys dat dienende leierskap die kern van sy roeping is. Die dissipels word geleer om selfopofferend te leef soos Hy.

Jesus genees twee blindes op pad uit Jerigo (Matteus 20:29-34)

By Jerigo roep twee blinde mans na Jesus vir genade. Hulle spreek Hom aan as “Here” en “Seun van Dawid,” wat sy Messiaanse identiteit erken. Die skare probeer hulle stilmaak, maar hulle roep harder. Jesus vra wat hulle van Hom verlang, en op hul versoek genees Hy hulle oë. Die mans sluit by Jesus se volgelinge aan.

Boodskap en betekenis
Die genesing van die blindes is nie net ‘n daad van deernis nie, maar simboliseer ook geestelike verligting. Waar die blindes Jesus as Messias erken, bly die skare en godsdiensleiers geestelik blind. Jesus se gehoorsaamheid aan sy roeping, om blindes te laat sien, bevestig sy rol as die vervulling van profetiese Skrifte (Jes 29:18; 35:5).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Onlangse kommentaar