Die beoefening van die teenwoordigheid van God word veral met die 17de-eeuse boek Brother Lawrence-The Practice of the Presence of Godgeassosieer. In hierdie boek het Joseph de Beaufort briewe van en ’n paar gesprekke met Nicholas Herman opgeteken. Nicholas Herman is beter bekend as broer Lawrence, die naam wat hy gekry het in ʼn klooster in Parys waar hy as kok gewerk het. Broer Lawrence het ’n direkte benadering tot die geestelike lewe gevolg en dit was sy doel om álles wat hy gedoen en gedink het “in die Here” en “vir die Here” te doen en te dink.
Hierdie geloofsgewoonte behels om met ’n voortdurende en groeiende bewussyn van en sensitiwiteit vir die Here se teenwoordigheid te leef. Elke oomblik van elke dag is ʼn gawe van God se betrokkenheid in ons lewe. Dit nooi ons uit om in gemeenskap en eenheid met Hom te leef. Soos Paulus in Filippense 1:21 sê: “Want om te lewe, is vir my Christus.”
Jy kan hierdie geloofsgewoonte deur die volgende geloofspraktyke beoefen (die skakels sal mettertyd op die webtuiste bygevoeg word, soos ek dit publiseer – jy sal dit ook in jou Inbox kry). Onthou, werk eers vir twee weke met die eerste een, Beoefen die teenwoordigheid van God. Daarna die omgee en dienslewering ensovoorts:
Omdat hierdie geloofsgewoonte eintlik behels dat jy dit as ‘n lewenspraktyk beoefen, d.w.s. dat dit jou hele manier van lewe begin vorm, is hier net ’n paar voorstelle om jou gedagtes te prikkel. Jy moet eintlik jou eie spyskaart van geloofsgewoontes opstel – dit sluit die geloofgewoontes by die daaglike ondersoek sowel as die geestelike lees van die Bybel in – om jou te help om al hoe meer te groei in jou bewussyn van God se teenwoordigheid, totdat dit jou só volmaak van Homself, dat jy in Hom begin lewe.
Hier is dus net ‘n paar wenke. Daar is ook ‘n paar ander geloofgewoontes wat jy in dié tyd kan beproef hierna aangedui.
Ontwikkel ’n lewensritme wat jou deur jou dag heen aan God en sy teenwoordigheid herinner.
Stuur gereeld skietgebede op, soos Nehemia in die Ou Testament (Neh. 2:4).
Gebruik die gebed van die hart wanneer jy bid. Hierdie gebed laat jou fokus op God as die middelpunt van jou lewe. Bid dit gereeld.
Stel jou daarop in om alles wat jy doen bewustelik “vir die Here” te doen.
Oefen jou daarin om ander mense deur God se oë te sien. Hoe sou Hy reageer op die mens wat nou voor jou staan of jou pad op die een of ander manier kruis?
Wanneer jy die daaglikse ondersoek beoefen, doen moeite om na God te luister in die besonderhede van elke dag. Dieselfde geld vir die geestelike lees.
Kies vir jou simbole, skilderye, beeldhouwerke, en so meer, wat jou aan God se teenwoordigheid herinner. Sit of hang dit op opsigtelike plekke en doen moeite om elke dag daarna te kyk. Praat met die Here daaroor.
Hou rekening met die waarheid dat God werk deur alles wat met jou gebeur. Reageer daarom op alles wat met jou gebeur asof jy op God se betrokkenheid in jou lewe reageer (ʼn gedagte van Richard Niebuhr).
Beoefen die teenwoordigheid van die Here ook tydens die onderbrekings in jou lewe. Van die belangrikste dinge wat Jesus gedoen het, het Hy gedoen wanneer Hy deur iemand onderbreek is. Dink aan die Samaritaanse vrou by die put (Joh. 4), aan die vrou wat aan bloedvloeiing gely het (Matt. 9:20), en aan Jaïrus wat versoek het dat Jesus sy dogtertjie sou genees (Mark. 5:22).
Memoriseer ’n vers of ’n gedagte uit die Woord wat jou deur die dag kan herinner aan God se teenwoordigheid in jou lewe. Herhaal dit gereeld.
Ons het begin met broer Lawrence se leefstyl van practising the presence of God. Baie mense ken dit beter as die pasmaat daarvan, die gewoonte van geloofsgemeenskap. Hierdie geloofsgewoonte om die gemeenskap van gelowiges te beoefen en te vier, is egter net so noodsaaklik. Dít doen ons deur ons in te stel daarop om gasvrye ruimtes te skep waarin elke gelowige welkom is net soos hy of sy is. Volgens Joseph Myers sluit dit veral die persoonlike (vriendskaps-) ruimtes in, maar ook die wyer sosiale en openbare ruimtes. Ons moet bereid wees om oor grense heen uit te reik met hierdie geloofsgewoonte.
Die grootste motivering om hier op aarde ʼn geloofsgemeenskap te vestig, lê in die gemeenskap wat daar in die Drie-eenheid bestaan. God staan met Homself in ʼn verhouding. Dit gee vir ons ’n voorbeeld wat ons in ons verhoudings met mekaar kan navolg. In die praktyk gebeur dit waar egte verhoudings in liefde met en vir mekaar gevestig en gebou word. Ons moet saam wees. Die inhoud hiervan lê in al die “mekaar”-tekste wat in die Nuwe Testament voorkom: “aanvaar mekaar” (Rom 15:7); “vergewe mekaar” (Ef. 4:32); “praat mekaar moed in” (1 Tess 5:11), en “bid vir mekaar” (Jak 5:16). Dit is ons gedeelde taal.
Dit sluit ook in ’n verbintenis aan die roeping van ’n spesifieke gemeenskap. Sommige noem dit ’n verbondsgemeenskap (covenant community), en ons sien ʼn voorbeeld hiervan in die gemeente in Antiogië in Sirië (Hand 13).
Hier is ’n paar voorstelle om jou gedagtes te prikkel (ons fokus spesifiek op die “mekaar”-tekste in die Nuwe Testament):
Aanvaar mekaar: Gaan praat met iemand om vir hulle te wys jy aanvaar hulle. Aanvaarding beteken onder meer jy gun ander mense die reg om hulle standpunte oor ʼn saak te hê. Dit is maklik om selfs in jou aanvaarding steeds krities te wees. Een manier om dit te voorkom is om ’n lys te maak van iemand se positiewe eienskappe en dit vir daardie persoon te gaan gee. Wees eerlik en opreg.
Vergewe mekaar: Vra die Here om jou te help om iemand wat jou seergemaak het, te vergewe. Dit help om te onthou dat God jou vergewe het sonder dat jy iets daarvoor gedoen het of dit verdien. Jy sal ervaar dat vergifnis jou vrymaak van die verkeerde dinge wat aan jou gedoen is.
Praat mekaar moed in: Dink aan iemand wat swaarkry, moedeloos is of baie druk ervaar. Bid vir die regte woorde en gaan praat daardie persoon moed in. Bemagtig hom of haar, maar vermy dit om raad te gee.
Bid vir mekaar: Om vir mekaar te bid, bly een van die belangrikste maniere om aan mekaar verbind te bly. Kies een mens, vra vir hom of haar waarvoor jy vir hom of haar kan bid … en bid dan vir die persoon. Dit sal nog beter werk as julle vir mekaar bid.
Chris van WykonMatteus 27 – Jesus word oorgelewer en gekruisig, sterf en word begraweHi Alida, interessante vraag. Daar is baie spekulasie daaroor, maar uit die teks kan 'n mens net die volgende aflei: 1) Die voorhangsel van die tempel skeur wat aankondig dat die pad na God nou oop is deur die dood van die Here Jesus Christus. 2) Die grafte van die ontslape heiliges het oopgegaan as…
Chris van WykonMigaHi Cornelia, jy is welkom om hier in te skryf om my daaglikse bydraes te ontvang. Jy kan dit ook per Whatsapp ontvang. Kyk maar net vir die regte skakels op die voorblad. Jy kan ook enige boek in die Bybel hier deurwerk. Die skakels is op die boonste spyskaart (menu).
CorneliaonMigaWil my graag verdiep in God Se woord
Retha RouxonHoe werk die uitverkiesing?Baie dankie Chris vir hierdie waardevolle en breedvoerige uitleg. Ons behandel reeds die onderwerp van Uitverkiesing van hierdie week af in ons Bybelstudie onderrig en hierdie is goeie aanvulling wat ek alreeds bymekaar gemaak het. Groete
Andre PierreonAmos 5:1-6:14 – Vra na my wil, dan sal julle leweHi , dit is vir my wonderlik dat ek elke oggend om en by 04;00 uit die Bybel n gedeelte lees en dan u gedeelte gebruik om my Bybel-Studie aantevul . Ek kry baie insug en hulp waarvoor ek net baie, baie dankie wil se . Groete Andre du Plessis
Chris van Wykon2 SAMUEL 11:1-15Die Skrif is duidelik daaroor dat God nie sonde kan doen nie. Hy keur ook nie sonde ooit goed nie. Hy laat boonop geen sonde ongestraf nie (Eks 34). Dit is in dié lig wat 'n mens die profesie moet verstaan. God laat Dawid aan die gevolge van sy eie sondes oor, dit is dat Absalom onder andere in opst…