Skip to main content

Nehemia 2

Nehemia betrek die koning by sy planne en motiveer die leiers in Jerusalem om te begin bou

Hoofstuk 2 fokus op Nehemia wat die geleentheid aangryp om die koning by sy planne te betrek (Neh 2:1-10) en die eerste verkenning van die situasie in Jerusalem sowel as die inwerkingstelling van Nehemia se planne (Neh 2:11-20).

Teks en konteks

Nehemia betrek die koning by sy planne – Nehemia 2:1-10

Ná die 4 maande se voorbereidende gebed en onderskeiding van die regte tyd vir optrede, kry Nehemia ’n opening met die koning wat hom vra waarom hy bedruk lyk. Die reël was dat niemand negatiewe emosies in die teenwoordigheid van die koning mag vertoon nie, só Nehemia was met reg bang vir wat die koning kon doen.

Nehemia se reaksie is besonder raak verwoord. Hy fokus op sy eie verbintenis aan Jerusalem – wat in puin lê en waarvan die poorte verbrand is – in term van sy voorvaders se grafte. Respek vir die dooies het die Perse ná aan die hart gelê. Die koning kon dus identifiseer met Nehemia se bedruktheid.

Let op hoe Nehemia steeds in gebedsafhanklikheid optree met ’n skietgebed wat hy na die Here opstuur, die eerste keer dat ons van só iets in die Bybel lees. Sy antwoord op die koning se vraag of daar iets is wat die koning vir hom kan doen, is duidelik vooraf beplan. Hy vra dus dat die koning hom sanksioneer om die stad te gaan herbou. Let op dat hy ook nie van die mure praat nie en ook nie die naam van die stad noem nie, want dit is juis wat Artaxerxes ’n tyd gelede geweier het weens die teenstand van die nie-Israeliete in Jerusalem (Esra 4). Die naam Jerusalem kon moontlik die koning herinner aan sy vorige optrede.

Die feit dat die koningin genoem word, beteken waarskynlik dat dié geleentheid ’n meer private een was en selfs dat sy Nehemia goedgesind was. Die volgende vraag van die koning wys in elk geval duidelik dat die koning Nehemia gaan ondersteun in sy planne. Nehemia smee die yster terwyl dit warm is en vra briewe aan die politici en staatsmasjinerie in die Judese gebied, sowel as aan die opsigter van die staatsbos sodat hy hout kan hê vir die herbou projek.

Die Here het Nehemia laat slaag – Hy “het sy goeie hand oor my gehou” – sodat die koning ook begeleidende offisiere en ruiters met hom saamstuur. Dit kontrasteer skerp met Esra se beskroomdheid om hulp van die koning te vra, omdat hy op die sorg van die Here alleen wou staatmaak. God eer egter albei leiers se afhanklikheid van Hom asook hulle manier van dinge doen.

Die teenstand teen dié onderneming word egter ook van die begin af deur Nehemia genotuleer, veral dié van die Samaritaanse goewerneur Sanballat (’n Goroniet van die dorpie Bet-Goron) en die Ammonitiese amptenaar Tobija. Later sal hy ook noem van die teenstand van die Arabiese leier, Gesem.

Nehemia verken die situasie en stel sy herbou planne in werking – Nehemia 2:11-20

Soos Esra 3 dae lank gerus het by sy aankoms in die stad, doen Nehemia dit ook voordat hy die volgende nag stilletjies die situasie gaan verken met net ’n paar man wat saam met hom gaan. Hier hoor ons duidelik dat hy ’n roeping van die Here ontvang het om die stad se mure te herbou, hoewel hy dit nog met niemand gedeel het nie. Dit was nog ’n hartsaak vir hom.

Hulle ry al met die muur langs en doen ’n deeglike bestekopname. Die volgende dag spreek hy die leiers van die stad toe en kry hulle instemming om die muur van Jerusalem te herbou, nie net ter wille van veiligheid nie, maar sodat “dié vernedering nie langer op ons rus nie.” Hy motiveer hulle met die verhaal van God wat sy goeie hand oor hom gehou het, sowel as met wat die koning gesê het. Die leiers reageer baie positief en die werk begin.

Sanballat, Tobija en Gesem-hulle begin egter ook onmiddellik met hulle teenstand en probeer die leiers onseker maak deur Nehemia se aanspraak op die koning se ondersteuning verdag te maak. Sy antwoord aan hulle maak egter eerder gewag van die Here se ondersteuning in dié projek as dié van die koning, iets wat hulle in elk geval geweet het. Hy onderstreep ook aan hulle die feit dat hulle geen aandeel, reg of historiese band met Jerusalem het nie. Die Jode sal dus nie van stryk gebring word deur hulle teenstand nie.

Boodskap en betekenis

Nehemia se gebed word gedra deur die vertroue dat God luister. Dit is die eenvoudige helder boodskap wat ons vandag moet hoor.

Nehemia maak staat daarop dat die Here luister. Hy haal die Woord aan in sy gebed, omdat Hy vertrou dat God luister. Dat hy staat kan maak op die beloftes van God in die Skrif.

Nehemia maak egter nie net staat daarop dat God die God van die hemel en aarde is – die Skeppergod – soos die Skrif dit beskryf nie. Hy maak nie net staat daarop dat God die God van die verlede is – die God van die geskiedenis – soos die Skrif dit beskryf nie.

Nee, Nehemia maak staat daarop dat God vandag kan optree en sy beloftes waar kan maak. Hy word nie afgesit deur die vorige bevel van die koning dat die Jode hulle werk aan die herbou van die stad moet stop nie (Esra 4), maar vertrou die Here dat daar ‘n wending sal kom, en die koning hom sal ondersteun in die roeping wat hy ontvang het om die mure van die stad te herbou.

Dit is die boodskap wat ons moet hoor, waarop ons moet vertrou. Dat God luister. Dit is ten diepste wat gebed is, ‘n gesprek met God wat gebaseer is op die vertroue dat Hy luister.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…