Skip to main content

Job 21

Waarom bly die goddeloses aan die lewe?

Job reageer weereens skerp op die drie vriende se ontleding van wat die lot van die goddelose is.  Hulle kommentaar op die lewe het nou sy volle aandag, want hy verskil wesenlik daarvan.  Hy kom in die eerste plek in opstand daarteen dat hy – volgens hulle – nie ongeduldig mag raak nie, want sy klag is dan juis nie teenoor mense nie (21:1-5).  Hulle moet dit tog kan sien en eerder stilbly van verbasing oor dít wat hom oorgekom het.

In sy eie perspektief op die goddeloses – let op die meervoud! – laat hy in die tweede plek sy direkte reaksie op Sofar se perspektief op die goddelose (in Sofar se oë is die goddelose natuurlik Job) sy fundamentele verskil daarmee hoor met ‘n reeks vrae wat om antwoorde vra (21:6-33).  Hy sluit in die derde plek af met ‘n finale vraag wat sy beswaar teen hulle sinlose praatjies verwoord wat hom op geen manier troos nie (21:34).

Waarom mag ek nie ongeduldig word nie? – 21:1-5

Dit is opmerklik hoe Job sy drie vriende se eenvoudige stellings oor die lewe aanvat met ‘n reeks ingewikkelde vrae.  Hy wil daarmee hulle gemaklike konsensus van hoe die lewe werk, ontsenu deur die ongemaklike vrae van die lewe voluit te vra.  Dit is immers duidelik in sy eie lewe dat die lewe nie eenvoudig is nie, maar kompleks en misterieus.  En in die verhaal van Job leer ons dat dit net mense is wat die ongemaklike vrae vra wat die hoop het om antwoorde daarop te kry, al is dit dan net om nog dieper agter te kom hoe kompleks en misterieus die lewe nou eintlik is, soos Job uiteindelik in die gesprek met God later sal agterkom.

Waarom bly die goddeloses aan die lewe? – 21:6-33

Job stem duidelik glad nie saam met hulle siening dat die goddelose aan die kortste end trek in hierdie lewe nie.  Sy ervaring is heeltemal anders, en dit word ook gerugsteun deur die ervarings van ander (21:29): “Waarom bly die goddeloses aan die lewe?” (21:7).

Dit is juis sy probleem dat die een mens sterf in sy volle krag en die ander in bitterheid, sonder dat daar ‘n onderskeid getref word (21:23-26), en ‘n mens hulle voorspoed en teenspoed nie kan koppel aan hoe hulle gelewe het nie.

Trouens, dit wil voorkom asof dit juis die goddeloses is wat voorspoed belewe, soos Job in 21:7-13 uitspel.  Hulle word oud en ryk en vernaam. Hulle kinders raak gevestig.  Hulle sien hulle nageslagte.  Daar is vrede in hulle huise.  Hulle vee floreer.  Daar is feestelikheid … al sê hulle vir God: “Laat staan ons, ons weier om u wil te ken … Watter nut het dit om Hom te aanbid?” (21:14-15).

Al is hulle voorspoed nie in hulle eie hande nie, sien ‘n mens nie so geredelik dat hulle lewenslampe voortydig uitgedoof word nie, dat die onheil hulle tref nie. Dit lyk asof God sy rampe opspaar vir die goddelose se kinders, maar die goddelose moet tog self weet wat hom tref, anders is hy salig onbewus daarvan dat dit God se straf is vir sy goddeloosheid! (21:19-21).

Job kan eintlik nie dit kleinkry dat God wat selfs die sterkste mense kan regeer, nie dié eenvoudige waarheid kan insien nie.  Moet hy wat Job is dit dan nou vir die Here leer?!

Wat natuurlik in dié proses van Job se gesprek gebeur, is dat die antwoord stadig besig is om vorm aan te neem.  Dit lê in die vrae wat hy vra, opgesluit, want die antwoord is dat voorspoed en teenspoed nie aan die uitkomste in die lewe gekoppel kan en mag word nie, maar aan God selfs, want Hy is die bron van lewe.  Voorspoed en teenspoed kom wel van Hom af, maar kan nie as getuienis (evidence) gebruik word om vroomheid of goddeloosheid in ‘n mens se lewe af te lei nie.

Wat navolgingswaardig is van Job se vrae, is dat hy nie probeer om God se manier van doen te verander nie, maar wel om dit te probeer verstaan.  Hy wil weet hoekom dit só is, want vir hom maak dit nie sin dat die goddelose dood gaan, sonder dat iemand hom aanspreek oor sy slegte gedrag en hy vergeld word vir wat hy gedoen het nie (21:31).

Die slotsom waartoe mense oor só ‘n man se lewe kan kom, is dat daar geen regverdigheid is nie, dat die graf eintlik ‘n lewende simbool bly van die feit dat niemand hulle verdiende loon kry nie.  En dit kan tog nie?  Vra Job.

Ook dié vrae van Job hou alreeds die antwoord in, want die Here sal uiteindelik aan Job openbaar dat God se mag juis geopenbaar word in die feit dat daar ‘n streep in die lewe getrek kan word deur die mag van die dood (40:1-9).  Alles onder die hemel behoort aan God en niemand kan teen Hom stand hou nie (41:1-2).  Job kan uiteindelik alles in God se hande los, want Hy sal sorg dat die reg seëvier.

Hoe kan julle my dan met sinlose praatjies probeer troos? – 21:34

Job het egter nog nie dié insig nie, daarom sluit hy af met ‘n verwyt aan die vriende dat hulle hom met sinlose praatjies probeer troos.  Vir hom is dit egter niks anders as bedrog nie.  Hulle probeer hom dinge wysmaak wat doodgewoon nie sin maak nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…