Skip to main content

Psalm 81

Maak jy jou mond wyd oop, dan vul Ek dit!

Psalm 80 is reeds vroeër hanteer by 2 Kronieke 31, omdat dit waarskynlik geskryf is in die tyd tussen die Assiriese ballingskap in 722/1 vC en die beleëring van Jerusalem deur Sanherib in 701 vC. Dit pas dus goed in die tyd van Hiskia.

Ons fokus vervolgens op Psalm 81 wat weereens ’n “liturgiese preek” is en wat:

  • ’n oproep tot lof bevat (vers 2-6),
  • ’n lerende gedeelte (preek) wat God se voorsiening, die volk se koppigheid, maar ook God se gereedheid om te help as hulle sou luister op die tafel sit (vers 7-15) en
  • ’n appèl aan die einde om die Here te dien, insluit, omdat dit God se voorsiening vir hulle sal ontsluit (16-17).

Teks en konteks

Jubel tot eer van God ons sterkte – vers 2-6

Dis interessant dat lof meermale die eerste oproep aan die volk van God is, selfs wanneer daar spesifieke dinge is wat aangespreek moet word. Lofprysing kom voor skuldbelydenis, soos dit ook in die verhaal van die teruggekeerde ballinge in Nehemia 8 die geval was. Hulle moes hulle hartseer bedwing nadat die Woord hulle aangespreek het en eers die Here loof en prys, vóór hulle in skuldbelydenis en boetedoening voor Hom vergader het.

Israel word hier tot feestelike lofprysing aangemoedig met sang, tamboeryne, liere en harpe op hulle onderskeie feeste. Die ramshoring moet geblaas word om die verskillende feeste aan te kondig: nuwemaan, volmaan en so meer (vgl. Paulus wat sê dat dít in die nuwe bedeling tot ’n einde gekom het – Kol. 2:16). Dit is God se instelling wat as dure plig op hulle gelê is reeds van die begin van hulle roeping as Godsvolk.

Vers 6b lui eintlik soos volg: “In ’n taal wat ek nie ken nie, hoor ek …” (2014 vertaling) wat dui op die feit dat die liturg (profeet/priester) ’n openbaring van God ontvang het wat hy nou aan die volk meedeel as gesaghebbende woord van God.

Israel, luister na My – vers 7-15

God se boodskap word dan in drie dele gelewer: God se oorvloedige voorsiening in die verlede (vers 7-11), die volk se koppigheid om na Hom te luister (vers 12-13) en God se gereedheid om te help as hulle sou luister (vers 14-15).

Let op hoe swaar tyd in Egipte in herinnering geroep word met die metafoor van die mandjies wat hulle kon neersit, waarmee God se verlossing uit Egipte geteken word. Die gawe van die wet in die woestyn word met die stem uit die donderwolk geskets, die teenstand van die volk met die versoeking by Meriba. Die wet self word in herinnering geroep met die verwysing na die eerste twee gebooie (vers 10).

Maar ná die geskiedenisles van God se voorsiening verander die fokus na die bevestiging van ’n belofte wat steeds vir hulle geld: “Maak jy jou mond wyd oop, dan vul Ek dit.” Die uitnodiging is dus vir elkeen wat na dié woord luister en daarop reageer, ook vandag nog.

Dan word teruggegaan na die geskiedenis van Israel se koppigheid wat nie na God wou luister nie en daarom deur die Here gelos is om hulle eie kop te volg, al was dit tot hulle skade.

Tóg is die Here onmiddellik gereed om te help as hulle maar net wou luister. Hy sal dan verseker ingryp en hulle vyande verslaan.

God sal julle voed met die beste koring – vers 16-17

Die liturg sluit af met die appèl op die volk om te kies om na Hom te luister (vers 16-17). “Dié wat voorgee dat hulle die Here dien, maar Hom haat, hulle straf sal vir altyd duur.” “Maar vir julle sal Hy voed met die beste koring, julle versadig met heuning uit ’n rots.”

Boodskap en betekenis

Dit is onmoontlik vir my om dié Psalm te lees sonder om die verhaal van George Müller te onthou. Ek haal uit die “Bybel vir die Lewe. 24/7” ’n kort deel van sy lewensverhaal aan:

“1835 was ’n slegte jaar vir die Müllers. George se vrou, Mary, se pa is oorlede en hulle vyftien maande oue babaseun het siek geraak en gesterf. Mary was depressief en George het erge maagprobleme ontwikkel. Die ergste was dat hulle geen geld oor gehad het nie. In hierdie tyd het hy en sy vrou ’n sagte hart ontwikkel vir al die weeskinders in Engeland, maar hoe begin jy ’n kinderhuis sonder geld? Toe lees George Psalm 81:11. Hy het op God alleen vertrou en nooit in al sy jare vir iemand geld gevra nie. Die Here het gesorg dat hy in sy leeftyd vir 10 000 weeskinders kon omgee.” (my beklemtoning)

Inderdaad: “Wat julle nodig het, sal Ek in oorvloed gee” (vers 11). ’n Belofte uit dié Psalm wat menige lewe al aangeraak en verander het. Trouens, in die oorspronklike Hebreeus staan daar: “Maak jy jou mond wyd oop, dan vul Ek dit”! Die prentjie van ’n klein voëltjie in ’n nessie wat wag vir die kos wat sy ma of pa bring, inspireer my verbeelding om dieselfde, en méér, van God te verwag!

Ek gaan vandag tegemoet met die belofte van die Here: “Maak jy jou mond wyd oop, dan vul Ek dit”!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…