Skip to main content

1 Kronieke 21-22:1

Selfs in die oordeel is God se ontferming groot

Ons lees nou die soortgelyke verhaal in 1 Kronieke 21 wat op ‘n paar plekke verskil van die verhaal in 2 Samuel 24.

Teks en konteks

Die verhaal begin, anders as in Samuel, met die opmerking van die Kronis dat “Satan was teen Israel.” Let op dat die naam van Satan sonder lidwoord gebruik word wat beteken dat Satan hier as eienaam gebruik word, die eerste en enigste plek in die OT. Satan is die Hebreeuse naam en Duiwel die Griekse naam in die NT.

Waar die goeie én die bose vroeër soms beide as die werk van God beskryf is (vgl Eks 4:21 – farao se hardkoppigheid word aan God toegeskryf; Eks.4:24 – die Here wil Moses uitwis omdat sy kind nie besny is nie) word daar hier ‘n groter onderskeid gemaak tussen wat God doen en wat Satan doen, iets wat in die NT met die evangelies ten volle openbaar word.

Om die volk te tel, was natuurlik nie noodwendig sonde nie. Die Here het immers in die woestyn die opdrag aan Moses en Aäron gegee om die volk te tel (Num 1:2 vv). Die punt is dat Dawid egter nie so ’n opdrag van die Here ontvang het nie. Hy het God ook nie daaroor soos met sy oorloë geraadpleeg nie. ‘n Mens vermoed dat Dawid eintlik sy weerbare manne wou tel deurdat hy sy militêre held Joab aangewys het om dit uit te voer, hetsy ter wille van sekerheid óf ter wille van selftevredenheid.

Let op dat Joab net 10 stamme getel het, omdat hy glad nie saamgestem het met die volkstelling nie. Dit kan wees dat die Leviete nie getel is nie, omdat hulle nie militêre diens gedoen het nie, wat ironies genoeg bevestig dat die beweegrede vir Dawid se volkstelling eintlik militêr van aard was. Dat die Benjaminiete nie getel is, kan wees omdat Joab nie Saul se mense wou tel nie, of omdat hy die heiligdom by Gibeon wou vermy, maar ons weet nie regtig nie. Die detail word deur Samuel verswyg.

Hoe dit ook al sy, die volkstelling word ook aan die aanhitsing van Satan toegeskryf. Hoe Dawid tot oortuiging gekom het dat sy volkstelling verkeerd was, word nie deur die Kronis vertel nie, hoewel Samuel sê dat sy gewete hom gepla het.

Dawid word só deur Satan gebruik om die volk in diskrediet te bring by God, hoewel God die hele situasie omkeer met die versoening wat by die dorsvloer van Ornan (wisselspelling vir Arauna) gebeur. Dit is ook belangrik om te sien dat dit Gód is wat die straf uitdeel, nie die Satan nie. Mense skryf te maklik slegte goed aan die Satan toe – die aanhitsing tot sonde kom hier van Satan af, nie die gevolglike straf daarvoor nie.

Dit is ironies dat Dawid wou weet hoeveel weerbare manne hy het, en dat tienduisende van hulle weens sy sondige telling sterwe. Maar Satan het nie met die genade van God rekening gehou nie. Toe Dawid homself aan God se hand oorgee, eerder as aan sy vyande, ervaar hy dat God wel straf maar dat sy genade uiteindelik groter is as sy oordeel. En die plek waar die straf eindig, dít word die plek wat die Here uitkies vir sy woning op aarde.

Hiermee is die prioriteit van Jerusalem as plek vir die tempel ook bevestig. Gibeon, die plek waar die tabernakel op hierdie tyd was, en wat ook die plek is waar Salomo sy wysheid van die Here sou ontvang, word oorgesien. Aan die een kant omdat Dawid afgeskrik is deur die swaard van die engel van die Here. Aan die ander kant omdat God sy gebede verhoor en sy offers by Ornan se dorsvloer aanvaar het.

Boodskap en betekenis

Hierdie verhaal van Dawid se sonde met die volkstelling onderstreep ’n baie belangrike ding. Die genade wat die Here bewys aan Dawid en die volk met sy skuldbelydenis deur die oordeelsvoltrekking voortydig te staak by die dorsvloer van Ornan (Arauna), die Jebusiet – dié volk wat vroeër Jerusalem beset het.

Die verhaal onderstreep ook vir ons die belangrikheid van persoonlike skuldbelydenis: “Ek is die een wat gesondig het en heeltemal verkeerd opgetree het”. Daarsonder kan die genade van God nie omarm word nie.

Dat is ook waarom Dawid die dorsvloer en die omliggende land koop van Ornan, omdat dit deel van sy persoonlike restitusie geword het.

Die tempel wat hierna op die dorsvloer gebou word, word hierna ’n kragtige simbool van God se versoenende teenwoordigheid.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on 1 Kronieke 28-29Groete!
  • Wansen Engelbrecht on 1 Kronieke 28-29Baie dankie. Groetnis Wansen Engelbrecht Klerksdorp
  • Chris van Wyk on Genesis 1:1-2:3Is dit op 'n selfoon?
  • Johan Kirsten on Genesis 1:1-2:3Middag Chris. Ek merk dat as jy op die "menu" hierbo tik, die blok wat aan die linkerkant verskyn, blanko is. Daar is wel "onsigbare" skakels wat jou na die verskillende bladsye neem. Groete. Johan
  • Chris van Wyk on Psalm 11Dankie, Jenny. Ek het self weer baie moed uit dié Psalm 11 gekry. Veral uit die feit dat ons nie baie beheer het oor die fondamente nie, maar op God kan vertrou wat opregtes suiwer en goddeloses skroei, soos dit in die laaste deel van die Psalm uitgespel word. God kan oneindig meer doen as wat ons k…
  • Jenny on Psalm 11Baie dankie vir die boodskap wat weereens soos vorige boodskappe my help om deur baie swaar tye te kan kom. Die laaste jaar is daar so baie berge wat my toesak dat ek net kan vasklou aan God se woord en U maak dit makliker om sekere dinge beter te verstaan en net aan te hou glo en vertrou. Baie dank…
  • Chris van Wyk on Die Twaalf Kleiner ProfeteDankie Johan, waardeer.
  • Johan v Zyl on Die Twaalf Kleiner ProfeteHi Chris net so baie dankie vir die enorme werk wat jy in Bybelskool doen. Ek gebruik dit elke dag in my bediening hier in Lichtenburg Klipkerk. Ek het op 60 die Bybel herontdek met nuwe passie . Jesusliefde Johan v Zyl
  • Chris van Wyk on Salwing in die BybelEk is bly, Stoffie, dat ek kon help. Die waarhede in die Skrif is ons diepste en enigste beskerming teen dwaling.
  • Stoffie Van Dyk on Salwing in die BybelEk het die afgelope Sondag 'n diens bygewoon wat my baie ontstem het - mense in die gehoor is gesalf deur 'n "profetes", en snaakse dinge het gebeur. Hierdie hele skrywe oor die salfgebruik, en van die antwoorde op vrae was vir my baie leersaam omdat dit vir my Skriftuurlik is. Baie dankie
  • Chris van Wyk on 2 Samuel 18Dankie Lesley, waardeer.
  • Lesley Barnard on 2 Samuel 18Pragtig, ñ mooi toepaslike verduideliking.
  • Chris van Wyk on 2 Samuel 17Hi Hettie. Daar is twee letters in Hebreeus wat amper dieselfde geskryf word, maar verskillend uitgespreek word. Daar is die normale h wat uitgespreek word soos ons dit normaalweg doen. Dan is daar egter ook die letter ḥ (geskryf met 'n h met 'n punt onder) wat anders uitgespreek word. Die uitspraak…
  • Hettie Swart on 2 Samuel 17Baie dankie vir die oopbreek van die Woord. Ek sien dat my Bybel 35 vertaling na Husai verwys en nie Gusai soos in die Bybelstudie aangetoon word nie. Is dit verskillende uitsprake vir dieselfde mens? Help my reg asseblief.
  • Chris van Wyk on Josua 2 – Ragab se ontsag vir Jahwe spaar die verkenners se lewe👍