Skip to main content

Romeine 15

Bemoedig, aanvaar en bou mekaar in eensgesindheid op

Paulus sluit in hoofstuk die negende hoofdeel van sy boodskap oor die praktyk van die Christelike lewe af met die laaste twee perspektiewe. Die negende perspektief is dat gelowiges mekaar moet bemoedig en opbou in eenheid (15:1-6). Die tiende perspektief is dat hulle mekaar moet aanvaar soos Christus dit met hulle gedoen het (15:7-13). In die res van die hoofstuk sluit hy sy boodskap af met die tiende hoofdeel daarvan wat handel oor sy roeping en reisplanne (15:14-33).

Bemoedig en bou mekaar tot eensgesindheid op (15:1-6)

Die negende perspektief is dat gelowiges mekaar moet bemoedig en opbou in eenheid om só mekaar se belange te dien met die oog op wat vir die ander goed is. Soos Christus nie Homself behaag het nie, moet ons dit ook vir mekaar doen.

Paulus maak ‘n uitspraak van Dawid op Christus van toepassing dat, soos met Dawid van te vore, die beledigings wat vir God bedoel was, Hom getref het (Ps 69:10). Daarin moet ons Christus navolg.

Paulus verduidelik dat hierdie toepassing van die uitspraak van Dawid op ons situasie vandag ook met die res van die Skrif gedoen kan word:

“Alles wat vroeër opgeteken is, is tog vir ons tot lering opgeteken, sodat ons hoop kan hê deur die volharding en die bemoediging wat ons uit die Skrif ontvang.”

Dit is hoe God volharding en bemoediging bewerk onder ons sodat ons eensgesind kan wees in ons gehoorsaamheid aan die Here Jesus tot lof van die Vader.

Aanvaar mekaar soos Christus julle ook aanvaar het (15:7-13)

Die tiende perspektief is dat hulle mekaar daarom sal aanvaar soos Christus hulle ook aanvaar het, tot eer van God.

Dit geld Jode en nie-Jode, want Christus het ‘n Dienaar van die besnedenes geword ter wille van die waarheid van God, sodat Hy die beloftes aan die vaders kon bevestig.

Maar, terselfdertyd wou Hy die nasies beweeg om God oor sy ontferming te verheerlik. Paulus bevestig dit met vier aanhalings uit die Wet, Psalms en Profete:

  • “Daarom sal ek U loof onder die nasies, en tot eer van u Naam sal ek ‘n lofpsalm sing.” (2 Sam 22:50; Ps 18:50 – dit is uit dieselfde Psalm van Dawid wat beide in Samuel as in die Psalmboek opgeneem is)
  • “Wees bly, nasies, saam met sy volk.” (Deut 32:43)
  • “Loof die Here, alle nasies! Prys Hom, alle volke!” (Ps 117:1)
  • “Daar sal ‘n loot van Isai kom, en Hy sal opstaan om oor die nasies te regeer; en op Hom sal die nasies hoop.” (Jes 11:10)

Paulus sluit af met ‘n innemende gebed:

“Mag die God van hoop julle deur julle geloof met alle blydskap en vrede vervul, sodat julle hoop oorvloedig kan word deur die krag van die Heilige Gees.”

Paulus is geroep om Christus aan die heidene te verkondig (15:14-21)

In die eerste deel van die tiende hoofdeel van Paulus se boodskap handel Paulus oor sy roeping om Christus aan die heidene te verkondig.

Let op hoe beskeie Paulus is teenoor die Romeinse gelowiges – hulle is ook self vol goedheid en beskik oor volledige kennis – en half verskoning vra vir sy uitgesprokenheid (anders as met die Korintiërs!), maar tog trots is op die priesterlike bediening, deur woord en daad, deur kragtige tekens en wonders, wat God aan hom toe vertrou het, sodat die heidene, van Jerusalem en omgewing tot by Illirikum in die noorde van Griekeland, ‘n aanneemlike offer, geheilig deur krag van die Heilige Gees, kan wees.

Sy roeping is gefundeer in Jesaja se profesie vir die nasies dat: “hulle wat nie van Hom vertel is nie, sal sien, en hulle wat nie gehoor het nie, sal verstaan.” (Jes 52:15)

Alle lof kom in elk geval God toe wat wonderlike dinge deur sy bediening gedoen het.

Paulus beplan om die kerk in Rome te besoek op pad na Spanje (15:22-29)

In die tweede deel van die tiende hoofdeel van Paulus se boodskap spreek hy die hoop uit om Rome te besoek. Hy wil dit as ’n soort tuisbasis gebruik vir sy droom om ook in Spanje die evangelie te gaan verkondig.

Paulus vra vir gebed vir homself in sy bediening (15:30-33)

In die derde deel van die tiende hoofdeel van Paulus se boodskap vra hy dat hulle vir hom sal bid dat dit goed sal gaan tussen al die ongelowiges in Jerusalem met sy voorgenome besoek daar met die gawes van Macedonië en Agaje in Griekeland, hoewel ons uit die verhaal van Handelinge agterkom dat dinge nie so maklik vir hom uitgewerk het nie.

Hy is uiteindelik na twee jaar in die tronk in Sesarea in boeie na Rome en het ook twee jaar in huisarres daar gespandeer.

Hoewel die Bybelse gegewens niks verder daaroor sê nie, het hy volgens die vroeë kerklike geskiedenis uiteindelik wel in Spanje uitgekom.

Hy sluit sy tiendelige hoofboodskap af met ‘n “Amen!”

Boodskap en betekenis

In Romeine 15 moedig Paulus gelowiges aan om mekaar tot eensgesindheid te bemoedig en op te bou, en mekaar te aanvaar soos Christus hulle aanvaar het. Paulus rig ook ‘n oproep tot aanvaarding tussen Jode en nie-Jode, met vier Skrifaanhalings wat bevestig dat God se genade vir alle nasies bedoel is. Hy deel sy roeping om Christus aan die heidene te verkondig, trots op die vrug van sy bediening deur die krag van die Heilige Gees. Paulus hoop om Rome te besoek op pad na Spanje en vra vir gebed ter ondersteuning van sy bediening. Hy sluit af met ‘n gebed vir blydskap, vrede en oorvloedige hoop deur die krag van die Heilige Gees.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…