Skip to main content

2 Samuel 5:17-25; 1 Kronieke 14:8-17

Dawid staan sterk in Israel en verslaan die Filistyne

Ons lees twee Skrifgedeeltes wat uitwei oor Dawid se trotsering van sy eerste uitdaging as koning asook oor sy eerste oorwinning oor die Filistyne as koning van die hele Israel: 2 Samuel 5:17-25; 1 Kronieke 14:8-17. Die beskrywing van die God van Dawid in die eerste helfte van 2 Samuel 5 as die “God van die (leër)magte” word hier opgevolg deur ‘n praktiese demonstrasie van God wat vír Dawid en vír die volk in die oorlog met die Filistyne optree.

Teks en konteks

Die stryd teen die Filistyne verhewig onmiddellik as reaksie op die verenigde front wat Israel nou kan monster in die voortslepende oorlog tussen hulle. Dawid wyk uit na ‘n bergvesting om sy troepe bymekaar te kry op ‘n veilige plek. Dit is ook dan die plek waar Dawid die Here raadpleeg. Hy doen dit nougeset regdeur hierdie oorlog met die Filistyne. Sonder die raad van die Here wil hy nie optree nie. En let ook op hoe die raad van die Here telkens by die situasie aanpas. Dit bly dus die Here se oorlog wat Dawid aanvoer.

Soos in 2 Samuel 2 voor sy verblyf in Hebron, gebeur die raadpleging van die Here in ‘n gesprek, waarin Dawid die Here (in gebed?) vra wat hom te doen staan, en die Here duidelik (hoorbaar?) antwoord. Só het Saul dit ook gedoen (1 Sam 14:36) hoewel die Here hom later nie meer geantwoord het toe Saul verwerp is en hy sy toevlug tot nekromansie geneem het nie (1 Sam 28:7).

Nekromansie of dodebesweerdery het plaasgevind deur mediums en spiritiste wat die geeste van die dooies geraadpleeg het, iets wat Jesaja met minagting ‘n gefluister en gemompel noem – Jesaja 8:19. Die Here het dié praktyke verafsku en ten sterkte verbied (Deut 18), iets wat ons vandag nog in gedagte moet hou.

In die eerste rondte gee die Here hom die opdrag om die Filistyne aan te val met die belofte dat Hy hulle in Dawid se hand sal gee. Dawid het ervaar dat die Here vóór hom deur sy vyande gebreek het soos water waarvoor niks stand kan hou nie. Daarom het hy daardie plek Baäl-Perasim genoem. Die naam Baäl word hier in sy betekenis van “Here” of “Baas” gebruik en met God se deurbrekende krag – Perasim in Hebreeus – verbind.

Ironies genoeg dat die Filistyne hulle gode in hulle haas met die vlug voor Dawid net daar gelos het! 2 Samuel 5 vertel vir ons dat Dawid en sy manne hulle afgode saamgeneem het, en 1 Kronieke 14 gee die verdere detail dat hulle dit verbrand het. Anders sou ‘n mens Dawid se optrede verkeerd kon interpreteer.

Die Filistyne het egter weer moed bymekaar geskraap en weer die vallei van Refaïm beset. Hierdie keer verander die Here sy plan toe Dawid Hom raadpleeg, en gee Dawid die opdrag om rondom hulle te trek sodat hulle van agter af aangeval kan word by ‘n bos van balsempopuliere.

Maar, die Here self het op die Filistyne toegeslaan wat Dawid kon hoor soos ‘n geluid van ‘n wind wat deur die bos trek. Die geluid was Dawid se teken om hulle van agter af aan te val en hy behaal ‘n groot oorwinning daar oor die Filistyne. Trouens, hy kon hulle verdryf van Geba tot by Geser.

Die Here bevestig hiermee Dawid se koningskap deur aan die een kant duidelike leiding te gee, en aan die ander kant – soos Kronieke dit vermeld – Dawid se roem te laat uitkring na al die nasies toe. Hy het nou regtig ‘n internasionale faktor geword waarmee die nasies rekening moes hou.

Boodskap en betekenis

Die raadpleging van die Here sowel as God se daadwerklike optrede in reaksie op die raadpleging staan uit in hierdie twee gedeeles. Dit lyk in hierdie geval dat God deur Dawid in gebed geraadpleeg is, terwyl die raadpleging op ander plekke in Dawid se verhale primêr geassosieer word met die profete of sieners (1 Sam 9:9) wat die Here se stem kon hoor en interpreteer.

Soms is die priesters ingespan in hierdie raadpleging van die Here deur middel van die urim en die tummim (moontlik 2 edelstene) in die borsplaat van die hoëpriester (Eks 28:30) waarvan die een steen waarskynlik as ja, en die ander as nee gedien het. Die profete het weer die efod gebruik. ‘n linnekleed wat hulle aangetrek het wanneer hulle die Here geraadpleeg het.

Soms was die Engel van die Here betrokke by sulke raadpleging, soos by Elia toe die Here hom na Samaria gestuur het (2 Kon 1:3). Ander kere het die Here deur drome sy wil bekend gemaak. Salomo hoor byvoorbeeld die Here se stem in ‘n droom (1 Kon 3), soos ook die geval was met Josef vroeër in die Genesis verhale.

Die Here het dus op verskillende wyses met verskillende mense gewerk, wat gepas het by hulle amp en God se bedoeling daarmee. Profete en konings het die Here anders geraadpleeg en gehoor as priesters. Selfs die profete en konings het nie God op dieselfde manier gehoor nie. Soms wat die kommunikasie sigbaar, ander kere hoorbaar en nog ander kere deur drome.

Soos wat God se woord al hoe meer in die Woord neergepen is, en deur die geestelike leiers as gesaghebbend (kanonies) aanvaar is, het die skriftelike leiding van die Here ‘n al hoe groter rol begin speel in die raadpleging van God. Vergelyk bv vir Josia wat sy hervormings in die tyd van Jeremia deurvoer op grond van die Skrif en die begeleiding van die profetes Gulda.

Met die koms van Jesus wat aan sy mense sy Gees gegee het, werk die Gees nou deur die Woord en gebed om ons te begelei. Dank die Here vandag vir die leiding wat Hy steeds vir ons as sy kinders gee.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…