Skip to main content

2 Samuel 5:17-25; 1 Kronieke 14:8-17

Dawid staan sterk in Israel en verslaan die Filistyne

Ons lees twee Skrifgedeeltes wat uitwei oor Dawid se trotsering van sy eerste uitdaging as koning asook oor sy eerste oorwinning oor die Filistyne as koning van die hele Israel: 2 Samuel 5:17-25; 1 Kronieke 14:8-17. Die beskrywing van die God van Dawid in die eerste helfte van 2 Samuel 5 as die “God van die (leër)magte” word hier opgevolg deur ‘n praktiese demonstrasie van God wat vír Dawid en vír die volk in die oorlog met die Filistyne optree.

Teks en konteks

Die stryd teen die Filistyne verhewig onmiddellik as reaksie op die verenigde front wat Israel nou kan monster in die voortslepende oorlog tussen hulle. Dawid wyk uit na ‘n bergvesting om sy troepe bymekaar te kry op ‘n veilige plek. Dit is ook dan die plek waar Dawid die Here raadpleeg. Hy doen dit nougeset regdeur hierdie oorlog met die Filistyne. Sonder die raad van die Here wil hy nie optree nie. En let ook op hoe die raad van die Here telkens by die situasie aanpas. Dit bly dus die Here se oorlog wat Dawid aanvoer.

Soos in 2 Samuel 2 voor sy verblyf in Hebron, gebeur die raadpleging van die Here in ‘n gesprek, waarin Dawid die Here (in gebed?) vra wat hom te doen staan, en die Here duidelik (hoorbaar?) antwoord. Só het Saul dit ook gedoen (1 Sam 14:36) hoewel die Here hom later nie meer geantwoord het toe Saul verwerp is en hy sy toevlug tot nekromansie geneem het nie (1 Sam 28:7).

Nekromansie of dodebesweerdery het plaasgevind deur mediums en spiritiste wat die geeste van die dooies geraadpleeg het, iets wat Jesaja met minagting ‘n gefluister en gemompel noem – Jesaja 8:19. Die Here het dié praktyke verafsku en ten sterkte verbied (Deut 18), iets wat ons vandag nog in gedagte moet hou.

In die eerste rondte gee die Here hom die opdrag om die Filistyne aan te val met die belofte dat Hy hulle in Dawid se hand sal gee. Dawid het ervaar dat die Here vóór hom deur sy vyande gebreek het soos water waarvoor niks stand kan hou nie. Daarom het hy daardie plek Baäl-Perasim genoem. Die naam Baäl word hier in sy betekenis van “Here” of “Baas” gebruik en met God se deurbrekende krag – Perasim in Hebreeus – verbind.

Ironies genoeg dat die Filistyne hulle gode in hulle haas met die vlug voor Dawid net daar gelos het! 2 Samuel 5 vertel vir ons dat Dawid en sy manne hulle afgode saamgeneem het, en 1 Kronieke 14 gee die verdere detail dat hulle dit verbrand het. Anders sou ‘n mens Dawid se optrede verkeerd kon interpreteer.

Die Filistyne het egter weer moed bymekaar geskraap en weer die vallei van Refaïm beset. Hierdie keer verander die Here sy plan toe Dawid Hom raadpleeg, en gee Dawid die opdrag om rondom hulle te trek sodat hulle van agter af aangeval kan word by ‘n bos van balsempopuliere.

Maar, die Here self het op die Filistyne toegeslaan wat Dawid kon hoor soos ‘n geluid van ‘n wind wat deur die bos trek. Die geluid was Dawid se teken om hulle van agter af aan te val en hy behaal ‘n groot oorwinning daar oor die Filistyne. Trouens, hy kon hulle verdryf van Geba tot by Geser.

Die Here bevestig hiermee Dawid se koningskap deur aan die een kant duidelike leiding te gee, en aan die ander kant – soos Kronieke dit vermeld – Dawid se roem te laat uitkring na al die nasies toe. Hy het nou regtig ‘n internasionale faktor geword waarmee die nasies rekening moes hou.

Boodskap en betekenis

Die raadpleging van die Here sowel as God se daadwerklike optrede in reaksie op die raadpleging staan uit in hierdie twee gedeeles. Dit lyk in hierdie geval dat God deur Dawid in gebed geraadpleeg is, terwyl die raadpleging op ander plekke in Dawid se verhale primêr geassosieer word met die profete of sieners (1 Sam 9:9) wat die Here se stem kon hoor en interpreteer.

Soms is die priesters ingespan in hierdie raadpleging van die Here deur middel van die urim en die tummim (moontlik 2 edelstene) in die borsplaat van die hoëpriester (Eks 28:30) waarvan die een steen waarskynlik as ja, en die ander as nee gedien het. Die profete het weer die efod gebruik. ‘n linnekleed wat hulle aangetrek het wanneer hulle die Here geraadpleeg het.

Soms was die Engel van die Here betrokke by sulke raadpleging, soos by Elia toe die Here hom na Samaria gestuur het (2 Kon 1:3). Ander kere het die Here deur drome sy wil bekend gemaak. Salomo hoor byvoorbeeld die Here se stem in ‘n droom (1 Kon 3), soos ook die geval was met Josef vroeër in die Genesis verhale.

Die Here het dus op verskillende wyses met verskillende mense gewerk, wat gepas het by hulle amp en God se bedoeling daarmee. Profete en konings het die Here anders geraadpleeg en gehoor as priesters. Selfs die profete en konings het nie God op dieselfde manier gehoor nie. Soms wat die kommunikasie sigbaar, ander kere hoorbaar en nog ander kere deur drome.

Soos wat God se woord al hoe meer in die Woord neergepen is, en deur die geestelike leiers as gesaghebbend (kanonies) aanvaar is, het die skriftelike leiding van die Here ‘n al hoe groter rol begin speel in die raadpleging van God. Vergelyk bv vir Josia wat sy hervormings in die tyd van Jeremia deurvoer op grond van die Skrif en die begeleiding van die profetes Gulda.

Met die koms van Jesus wat aan sy mense sy Gees gegee het, werk die Gees nou deur die Woord en gebed om ons te begelei. Dank die Here vandag vir die leiding wat Hy steeds vir ons as sy kinders gee.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar