Skip to main content

1 Konings 20

Agab kry dit nie reg om aan God alleen gehoorsaam te wees nie, al bewys Hy hom soveel genade

Van hier af in die verhaal van Agab hoor ons minder van Elia. Ons sal nog van hom hoor in die verhaal van Nabot en sy wingerd in 1 Konings 21. Maar ander profete tree na vore in hierdie tyd, soos Miga in 1 Konings 22, en nog ander onbekende profete, voordat ons weer van Elia lees met sy hemelvaart in 2 Konings 1-2.

In hierdie verhaal van die konflik met koning Ben-Hadad van die Arameërs in Damaskus is dit juis ‘n onbekende profeet, ‘n man van God, wat telkens die Here se wil aan Agab oordra. Twee keer luister Agab daarna, en geniet die oorwinnings wat die Here vir hom gee. Hy luister egter nie enduit nie, en volg uiteindelik sy eie kop met die begenadiging van Ben-Hadad. Hy kry dit net nie reg om die Here alleen te vertrou en volg nie.

Teks en konteks

Dit wil voorkom asof Israel op dié stadium onderhorig aan die Arameërs (Sirië) was. Dit wil ook voorkom asof die skrywers van die Koningsboek Agab minag, deur net twee keer sy naam te gebruik, en die res van die tyd slegs van die koning van Israel te praat.

Ben-Hadad, die Arameër, het met twee-en-dertig konings, en ‘n sterk mag van perde en strydwaens van Agab skatte, vroue en seuns geëis. Agab het aanvanklik ingestem, maar toe Ben-Hadad daarop met ‘n verdere eis reageer, het hy teëgestribbel.

Let op hoe Ben-Hadad die oorwinning reeds vier deur saam met die ander konings (van kleiner koninkrykies) te drink. Dit bekom hom egter suur.

Die Here tree egter deur ’n onbekende profeet tot die stryd toe en laat Agab weet dat die Here self gaan optree sodat Agab kan weet dat die Here God is.

Die profeet begelei Agab in detail met die regte strategie in die oorlog teen Ben-Hadad en hy kan die aanslag op Israel afweer.

Die profeet kom dan weer na Agab met die voorspelling dat daar Ben-Hadad weer teen hom sal optrek, en gee weereens vir hom die regte strategie om dit af te weer.  Hierdie keer is die doel van die Here se hulp nie net om Agab van sy bestaan te oortuig nie, maar ook die ander konings.

Let op hoe selfs die muur wat op die vyand val ‘n getuienis van God se beheer van alles op aarde is.

Maar, met die oorlog in die vlakte, word Ben-Hadad teen die wil van die Here deur Agab begenadig. Hy beskou ewe skielik vir Ben-Hadad as “sy broer”! Hy sluit daarom eerder ’n verdrag met Ben-Hadad, wat veral ekonomiese voordele vir hom ingehou het, en ignoreer die Here (vgl die soortgelyke optrede van Asa in 1 Konings 15).

Die profeet se optrede om die Here se toorn hieroor aan Agab te verkondig is ietwat bisar, maar tog baie effektief, en laat Agab “nors en tierend” (2020-vertaling), ’n bedruktheid wat ook in die volgende verhaal van Nabot en sy wingerd ’n rol sal speel.

Boodskap en betekenis

Ek kan dit op ’n manier nie kleinkry dat soveel onomwonde bewyse van God se bereidheid om Agab te help aan hom gegee word, en Agab steeds nie tot gehoorsaamheid aan God alleen beweeg word nie.

Drie van die sewe tekens in hoofstuk 17-18 was spesifiek aan sy adres gerig – die droogte, die vuur, die reën – en hier word hy twee keer in die oorlog gehelp. Maar, Agab kry dit net nie reg om God se hulp na waarde te skat nie, en ignoreer God se direkte bevele waar dit sy eie selfsugtige begeertes in gedrang bring.

Ons gaan dit ook sien in die verhaal van Nabot se wingerd waar dit ook blyk dat hy ‘n lafaard is wat sy vrou sy vuilwerk laat doen.

Die Here het uit sy pad uit gegaan om Agab ter wille te wees. Dit blyk uiteindelik verniet te wees. Agab verkwansel God se genade vir die bevrediging van sy eie begeertes.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar