Skip to main content

Psalm 35

Gebed om redding in aanvegting

Die Psalm kan miskien die beste verstaan word teen die agtergrond van een of ander internasionale konflik wat Dawid met sy buurstate gehad het, waarskynlik een van Dawid se bondgenote, wat teen hom gedraai het. Die regstaal veronderstel een of ander vorm van verdrag wat verbreek is.

Die situasie het oënskynlik so versleg dat oorlog onvermydelik geraak het, en die hele geloofsgemeenskap ingetrek word in voorbereiding vir die oorlog. Daarom pas dit in die tyd van die oorlog teen Ganun van die Ammoniete (en uiteindelik die Arameërs) wat die ooreenkomste met Dawid verbreek het.

Dit is egter ook ‘n Psalm wat betrek kan word in enige ervaring van aanvegting, hetsy geestelik of ‘n konflik spesifiek in ‘n regskonteks.

Teks en konteks

Die Psalm kan in drie dele verdeel word.

Vers 1-10 skets die gebedsvoorbereiding vir oorlog

Dawid bid hier dat die Here self sal optree en sal veg teen dié wat teen hom veg. Sy eerste handeling in sy eie voorbereiding vir die oorlog waarin hy gewikkel is, is om die Here tot die stryd op te roep. Sonder die Here se bewapening sal hy nie kan slaag nie.

Dawid skets die onredelikheid van sy vyande en vervolgers en vra dat die Here self sal optree – in die persoon van die Engel van die Here – om hulle te keer. “Sê vir my: “Ek is jou verlossing!” (vers 3). Dan sal hy die Here kan loof en aan almal kan verkondig dat daar niemand soos die Here is nie.

Vers 11-18 skets die agtergrond vir die oorlog

Dawid verklaar sy onskuld en is openlik oor sy worsteling met die onreg van die vyandige optrede teen hom: “oor iets waarvan ek niks weet nie.”. Hy kontrasteer hulle venyn en skoorsoekery met sy eie omgee en gebed vir hulle. Hy het selfs vir hulle gebid asof hulle vriende was in roubeklag oor ‘n verlies wat hulle ervaar het.

Hulle val hom egter sonder rede en met groot geweld aan om hom uit mekaar te skeur. Hy vra daarom vir optrede deur die Here: “17My Heer, hoe lank gaan U toekyk? Red my lewe van hulle vernietiging.” (vers 17) “Dan sal ek U prys in ‘n groot vergadering, tussen ‘n menigte mense sal ek U loof.” (vers 18)

Vers 19-28 sluit die Psalm af met ‘n verdere gebed vir verlossing en oorwinning

Dawid bid dat sy vyande hulle nie oor hom sal verheug nie en hulle haat en bedrog nie hom sal skade berokken nie. Hy beroep homself op ’n God wat nie blind of doof is nie. En vra hy dat God nie ver van hom af sal bly nie (vers 22). Laat eerder dié wat vir sy saak veg, bly wees, en dié wat hom leed wil aandoen, teleurgestel word. Mag hulle aanhoudend sê: “Groot is die Here, wat vrede vir sy dienskneg begeer!” Dawid sal dan die hele dag oor dié God kan nadink en sy geregtigheid loof.

Boodskap en betekenis

Hierdie Psalm pas baie goed in ‘n konteks van vervolging, veral waar dit in regsake teen gelowiges gebeur. In die laaste gesprekke van Jesus met sy dissipels op pad na Getsemane waar Hy verraai sou word, skets Hy die dilemma van gelowiges wat in die wêreld gehaat sal word. En Hy gebruik terme wat ontleen is aan hierdie Psalm (vgl Joh 15).

Waar Dawid egter vir verlossing gevra het uit die situasie, en vir uitwissing van die vyand, kies Jesus om sy dissipels op te roep om hulle met Homself te identifiseer. En Jesus was op pad om te sterf aan die kruis as ‘n offer van versoening. Dit is wat Hy van ons ook verwag, dat ons sal bid vir verandering, selfs by ons vyande.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…