Skip to main content

2 Korintiërs 8-9

Vrygewigheid is regverdig

Hierdie twee hoofstukke, 2 Korintiërs 8-9, kan in drie dele opgedeel word. In die eerste gee Paulus vyf motiverings om die Korintiërs tot vrygewigheid aan te moedig (2 Kor. 8:1-15). In die tweede gee Paulus ‘n sesde motivering terwyl hy veral oor Titus se besoek aan hulle uitwy (2 Kor. 8:16-24). In die derde gee hy ‘n verdere sewe motiverings om die Korintiërs tot die vrygewigheid van ‘n mildelike dankoffer aan te moedig (2 Kor. 9:1-15).

Ons lees die twee hoofstukke as ‘n eenheid. Ek gaan veral die dertien motiverings uitlig met ‘n paar opmerkings oor die gee van dankoffers vandag.

Vyf motiverings vir vrygewigheid – 2 Korintiërs 8:1-15

  1. Paulus begin met die voorbeeld van die vrywillige vrygewigheid van die arm gemeentes in Masedonië (Filippi, Berea, Tessalonika), die noordelike provinsie van Griekeland (2 Kor. 8:1-5). Dit is ‘n teken van God se genade in hulle lewens!
  2. Paulus volg dit op met die feit dat die Korintiërs eintlik ‘n oorvloed in alles het wat hulle kan motiveer om vrygewig te wees (2 Kor. 8:7).
  3. Paulus herinner hulle aan die voorbeeld van Christus wat arm geword het dat hulle ryk kon wees (2 Kor. 8:9).
  4. Hy herinner hulle ook aan die feit dat hulle al vroeër begin het om dié gawe voor te berei en aan die feit dat hulle die eerste was wat gewillig was om iets te doen (2 Kor. 8:10).
  5. Hy herinner hulle ook daaraan dat God deur só ‘n gawe ewewig bring in die Christelike gemeenskap wat ook in die toekoms tot hulle eie voordeel kan wees (2 Kor. 8:13-15); Let op hoe hy in vers 15 aanhaal uit Eksodus 16:18 waar die Israeliete manna uit die hemel ontvang het en kon optel vir hulle behoeftes!

Paulus motiveer hulle deur die belofte dat Titus die geld korrek sal hanteer – 2 Korintiërs 8:16-24

  1. Paulus stel hulle gerus met die belofte dat Titus die geld korrek sal hanteer en dat dit by die regte plek sal uitkom: “ons is daarop gesteld om reg op te tree” (2 Kor. 8:21)! Saam met hom word daar ‘n ander broer gestuur wat die Korintiërs waarskynlik geken het, maar waarvan Paulus om een of ander rede nie vir ons die naam weergee nie. Ons weet dus nie wie hy is nie.

Interessant, daar is ook ander broers wat saam met Titus gestuur word, hoewel ons ook nie hulle name ken nie. Hulle word in die oorspronklike Grieks “apostels” genoem (2 Kor. 8:23). Dit beteken hier egter moontlik net dat hulle afgevaardigdes (gesante) van die gemeente was, eerder as tegnies gestuurdes van God, wat dan in ons vertalings met die woord apostels weergegee sou kon word.

Dit is ‘n verdere voorbeeld (vgl. Hand. 15) van die gebruik van die vroeë kerk om gevolmagtigde afgevaardigdes na ‘n ander gemeente of ‘n meerdere vergadering van die kerk te stuur vir die uitvoering van ‘n sekere opdrag – iets wat baie kerke vandag nog navolg.

Sewe verdere motiverings vir vrygewigheid – 2 Korintiërs 9:1-15

  1. Paulus gaan verder en herinner hulle dat hulle voorbeeld eintlik reeds die ander gemeentes aangespoor het om betrokke te raak. Paulus het met hulle gespog by die ander gemeentes deur te sê: “Agaje is al ‘n jaar reg om te help” (2 Kor. 9:2);

Let op dat in hoofstuk 8 hy die Korintiërs aanmoedig met die voorbeeld van die Masedoniërs in die noorde. In hoofstuk 9 herinner hy weer die Korintiërs (Agaje) in die suide daaraan dat hy hulle voorbeeld gebruik het om die Macedoniërs aan te moedig!

  1. Paulus waarsku hulle ook dat hulle baie skaam sal word as hulle nie gereed is as die broers kom om die dankoffer in te samel nie (2 Kor. 9:4).
  2. Met die aansporing dat dié wat karig saai, karig sal maai, wys Paulus hulle ook op die geestelike vrug van hulle dankbaarheid (2 Kor. 9:6);
  3. Hy herinner hulle ook daaraan dat God in staat is om hulle oorvloedig te seën sodat hulle ook verder kan bydra vir elke goeie werk (2 Kor. 9:8,10-11). Daarmee spel hy ook die fisiese vrug van hulle milddadigheid uit.
  4. Hy herinner hulle ook aan die boodskap van Psalm 112:9 dat sulke dankoffers ‘n teken van regverdigheid is: “(Die regverdige) deel uit en gee aan die armes; hy bly altyd vrygewig.” (2 Kor. 9:9)

Lees ook die konteks van Psalm 112 dat dié aksie van regverdiges goddeloses op hulle tande laat kners omdat dit die aansien van regverdiges verhoog! En onthou, daar word nie van die Here hier in die eerste plek gepraat nie, maar van sy regverdiges.

  1. Paulus motiveer hulle ook met die perspektief dat hierdie gawe tot groot dankbaarheid en eer aan God sal aanleiding gee (2 Kor. 9:11-13).
  2. Hy sluit af met die interessante laaste motivering dat dié mense wat hulle met die dankoffer sal help, ook vir hulle sal bid en na hulle sal verlang (2 Kor. 9:14)!

Hoe meer ons dus tot ‘n seën vir ander mense is, hoe meer seën sal ons self ontvang – wat ‘n bonus!

Die ding wat vir my uitstaan in al hierdie motiverings tot groter milddadigheids die klem op regverdigheid en dankbaarheid wat eintlik regdeur die twee temas is wat die gawe beskryf.

  • Vrygewigheid is ‘n teken van “die regverdige” (Ps 112). Dit bring ewewig in die gemeenskap van gelowiges, wat maar net ‘n ander manier is om regverdigheid te beskryf, en dit laat God regverdig optree teenoor almal. Om die waarheid te sê, daardeur skenk en skep Hy letterlik oorvloed!
  • Omdat die gawes uit dankbaarheid voortkom, kan dit letterlik as ‘n dankoffer beskryf word, want dit lei daartoe dat God gedank word.

Vrygewigheid word dus in die genadige en regverdige karakter van God begrond (2 Kor. 8:1,9) sowel as in sy voorsiening (2 Kor. 8:1,7; 9:8,10-11,15). En dit word as die normale Christelike praktyk voorgehou, soos dit reeds sigbaar was in die eerste gemeente in Jerusalem (Hand. 4:32).

Boodskap en betekenis

Baie mense vra dikwels hoeveel ‘n mens moet gee. Benewens die riglyn van die tiende wat eintlik regdeur die Bybel ‘n beginsel bly (hoewel die klem sterk skuif van ‘n wetlike voorskrif na een wat vrywillig gegee word) gee Paulus in hierdie twee hoofstukke ten minste die volgende vier riglyne wat jou kan begelei:

  1. ’n Mens moet jou beloftes gestand doen (2 Kor. 8:10; 9:3).
  2. Jy moet gee soveel as wat jy kan (2 Kor. 8:12, 9:6).
  3. Jy moet sélf, uit jou hart uit, besluit hoeveel (2 Kor. 9:7).
  4. Dít wat jy gee, moet in verhouding wees met dit wat God vir jóú gegee het (2 Kor. 9:10).

Die grootte van jou dankoffer berus dus op die genade en voorsiening van God, wat aan ons gee sodat ons weer vir ander mense kan gee.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.