Skip to main content

Esegiël 23

Ohola en Oholiba, die twee susters Samaria en Jerusalem het dieselfde pad geloop

Op soortgelyke wyse as in hoofstuk 16 word die twee ryke van Israel – met die hoofstede Samaria en Jerusalem – op afgryslik metaforiese wyse as die twee owerspelige susters, Ohola en Oholiba, beskrywe. Dié twee het aan die Here behoort, maar hulle het gesmag na ander minnaars en só ontrou aan die Here geraak. Daarom het die Here hulle gestraf as voorbeeld wat ander moes afskrik.

Die kru en onkuise taal getuig van Esegiël se passie vir die eer van God en sy afgryse aan die verbondsverbreking van beide dele van die volk. Die metafoor ontvou in vier dele.

Teks en konteks

Esegiël 23:1-10 – Ohola (Samaria) is in die mag van haar minnaars, die Assiriërs oorgegee

Die hele geskiedenis van Ohola en Ohiliba is uit die Here se perspektief een van owerspel reg van die begin af. Hulle het in Egipte reeds hulleself aan afgodery – onsedelikheid in terme van die metafoor – blootgestel. Metafories dui die twee name op die twee ryke van Israel met Samaria en Jerusalem as hoofstede. Albei name, Ohola en Oholiba, is van die Hebreeuse naam vir “tent” – die naam wat ook vir die tabernakel gebruik is – afgelei wat implisiet beteken dat die afvalligheid/onsedelikheid om afgodediens gegaan het.

Ohola (Samaria) het uiteindelik in ‘n verbintenis met die Assiriërs gegaan en die prys daarvoor betaal. Die oordeel van ballingskap. Dit moes as ‘n teken en waarskuwing aan almal dien: “Die straf wat sy ondergaan het, het van haar ‘n voorbeeld gemaak wat vrouens moes afskrik.” (23:10).

Esegiël 23:11-21 – Oholiba (Jerusalem) het eers gesmag na die Babiloniërs en toe na die Egiptenare

Oholiba (Jerusalem) was eintlik nóg erger. Nie net het sy niks geleer by haar ouer suster Ohola (Samaria) nie, maar sy het haar verontreinig met nie net die Assiriërs nie, maar die Babiloniërs en die Egiptenare ook. Die verskuiwing van haar lojaliteit van die Babiloniërs na die Egiptenare het nie net die Babiloniërs ‘n teësin in haar laat kry nie, maar ook die Here ‘n teësin in haar gegee: “Sy het gesmag na die wellustinge onder hulle wat so goed bedeeld was soos donkiehingste en perdehingste.” Die NET Bible vertaal meer letterlik: “She lusted after their genitals—as large as those of donkeys, and their seminal emission was as strong as that of stallions.” (23:20).

Esegiël 23:22-35 – Die Here straf Oholiba vir haar aanstootlike gedrag en onsedelikheid

Daarom straf die Here vir Oholiba (Jerusalem) deur die gramskap van die Babiloniërs teen haar op te wek. Die Babiloniërs en Galdeërs was natuurlik verskillende name vir dieselfde mense. Saam met die mense van Pekod (Aramese stam naby die Tigris), Soa (nomadiese stam in Mesopotamië) en Koa (Mesopotamiese stam) en dié wat oorgebly het van Assirië, sal hulle Jerusalem uit die noorde aanval en die Jode straf: “volgens hulle gebruike.

Let op hoe God se werk en dié van die vyand oorvleuel: “Ek gee my woede teen jou vrye teuels: hulle sal hulle op jou wreek en jou neus en jou ore afsny.” (23:25). Die rede daarvoor? “Jou afstootlike gedrag, jou onsedelikheid doen dit aan jou. Jy het in jou ontrou ander nasies nagevolg en jou met hulle afgode verontreinig.” (23:29-30).

Die beker wat haar suster moes drink, is nou ook die lot van Jerusalem. Die skrilheid van die oordeel word met ‘n kriptiese gedig uitgedruk wat as volg letterlik vertaal kan word (23:32-34 – die koppeltekens beteken dat dit aanmekaar geskrywe word in Hebreeus):

“Beker van-jou-suster jy-sal-drink

diep en-wyd.

Jy-sal-wees vir-lag en-spot

baie bevat.

Dronkenskap en-kommer jy-sal-vol-wees

beker-van-vermorsing en-verlatenheid.

Beker van-jou-suster, Samaria,

jy-sal-drink dit en-ledig;

En sy-skerwe jy-sal-knaag

En-jou-borste jy-sal-uitmekaar-skeur.”

Die diepste rede lê egter in die gebroke Godsverhouding: “Omdat jy My vergeet het en jou rug vir My gedraai het, sal jy die straf vir jou aanstootlike gedrag en jou onsedelikheid dra.” (23:35).

Esegiël 23:36-49 – Albei volke dra die straf vir hulle sonde met afgode

Die laaste deel van sy boodskap word gerig aan albei ryke van die volk. Hulle afvalligheid in terme van afgodery sowel as die gruwelike gebruik van kinderoffers het die Here se toorn laat ontvlam. Die teken van God se teenwoordigheid by hulle, die heiligdom in Jerusalem, is ontheilig. Die teken aan ander dat hulle aan God behoort, die sabbat, is eweneens ontheilig. Hulle het die dinge wat God hulle gegee het om Hom mee te vereer, wierook en olie, vir afgode gebruik.

Die flirtasie met die laaste volk wat genoem word, Seba (Jemen), word opgevolg met ‘n volksvergadering wat metafories gesproke hulle stenig soos dit owerspeliges betaam (Lev. 20:10-27). Die Here oordeel die volk en vernietig die stede en voer hulle in ballingskap weg as ‘n teken van sy oordeel en as ‘n waarskuwing aan almal dat Hy sulke afstootlike gedrag nie duld nie.

Boodskap en betekenis

Dit is moeilik om dié hoofstuk te lees. Die taal is skokkend en eksplisiet, meer nog in Hebreeus as in Afrikaans. Maar, dit is natuurlik doelbewus. Daarmee druk Esegiël onomwonde die Here se afgryse oor die verbondsverbreking van sy volk uit. Afvalligheid in terme van afgodery sowel as die gruwelike gebruik van kinderoffers stuit die Here teen die bors. Dit tas sy eer aan en daarmee kan Hy nooit vrede maak nie.

Ons sal goed doen om aan die een kant hierin die Here se afgryse oor die sonde raak te sien. Sonde en afvalligheid dompel ‘n mens in die diepste van ellende. Dit dryf ‘n wig in tussen ons en God. Dit is daarom ‘n waarskuwing selfs vir ons eie tyd.

Maar, ons moet aan die ander kant ook uit die NT raaksien dat die Here se verlossing juis vir dié dinge bedoel is. Dít is waarvoor die Here Jesus gekom het. Daar is niks wat só erg is, dat die Here dit nie kan vergewe nie. Daarin lê ons hoop en verwagting.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…