Skip to main content

Nehemia 8

Esra help die volk om mense van die Boek te word

Die muur is voltooi op die 25ste dag van Elul, die sesde maand (die maand is 29 dae lank). Almal het teruggekeer na hulle plekke. Vyf dae later op die 1ste dag van die sewende maand, Tishri, het die hele volk soos een man bymekaargekom in Jerusalem soos die wet hulle beveel het (Lev. 23:24) om ’n spesiale Sabbat vir die Here te vier.

Teks en konteks

Esra verskyn nou weer op die toneel, nadat ’n mens vir 13 jaar lank niks van hom gehoor het nie, presies hoekom weet ons nie. Moontlik was hy teruggeroep Babel toe – onthou hy was in opdrag van die koning na Jerusalem gestuur. Maar ons weet nie regtig nie.

Die volk vra Esra om vir hulle uit die wetboek van Moses te lees. Hy doen dit omtrent ses uur lank van ligdag af tot in die middel van die dag, met 13 (waarskynlik) priesters weerskante van hom en 13 Leviete wat gehelp het met die uitleg van die wetboek.

Interessant, ‘n vinnige leser kan teen 200 woorde per minuut die Pentateug in Hebreeus in ongeveer 6 uur 40 minute deurlees wat aandui dat die weergawe van die wet wat Esra hier lees baie ooreenkom in lengte met die Pentateug wat uiteindelik in ons Bybel opgeneem is.

Dit is een van die min plekke in die Bybel waar ons agterkom presies hoe die geloofsgemeenskap die Bybel gelees het. Die volk het van Esra geëis dat hy vir hulle help verstaan wat die wetboek van die Here sê sodat hulle dit kon doen (Neh. 8:2). As Esra aan hulle versoek voldoen en uit die wetboek begin lees, staan daar letterlik dat die “ore van die volk op die wet gerig was” (Neh. 8:4), so graag wou hulle verstaan!

Nadat die volk, al staande, na die eerste maraton voorlesing geluister het en in lofprysing gereageer het, het die leiers (Nehemia ingesluit), priesters en Leviete as ‘n span verder gegaan en in die proses van verstaansbegeleiding van die volgende stappe gebruik gemaak. Hulle het gefokus op:

  1. die verdere hardop lees van die teks,
  2. die verklaring daarvan,
  3. die verduideliking van die betekenis daarvan,
  4. totdat die volk dit verstaan het (Neh. 8:9).

En uit die verloop van die verhaal in die res van die hoofstuk word die gevolg van dié proses uitgespel in die nougesette navolging van wat hulle gehoor het. Hulle het regtig verstaan! Geen wonder dat hulle nou met reg mense van die Boek genoem kon word, want dít is inderdaad wat hulle geword het.

Die aanhoor van die wetboek van Moses se eise en voorskrifte het die volk egter hartseer gestem, omdat hulle op soveel wyses daaraan ongehoorsaam was. Nehemia-hulle stop dié gehuilery egter baie gou en moedig die volk aan om eerder hulle verbintenis aan Hom te vier met blydskap en ook die feestelikheid te deel met dié wat niks voorberei het nie.

Die woorde van Nehemia het een van die groot beloftes van die Bybel geword: “Moenie neerslagtig wees nie, want die vreugde van die Here, dit is julle toevlug.” In Engels: “the joy of the Lord is your strength.” Soos die NET Bible opmerk daaroor: “It’s their confidence in God’s goodness that sets them apart and makes them a robust people.” Want blydskap in die Here is ‘n genesing van die gees (vgl Spr 17:22). Dit gee jou krag om te volhard en die Here se beskerming te vertrou (vgl Ps 28:7-8). Soos ons alreeds by die Prediker geleer het: Genot is ‘n gawe van God (Pred 3:22). En soos Paulus later sal sê: “Wees altyd bly!” (1 Tess 5:16).

Op die tiende dag van dié maand moes hulle eintlik ook die versoendag vier (Lev. 23:27), maar ons lees nie eksplisiet dat hulle dié dag gevier het nie. Vyf dae later moes hulle egter die week lange huttefees (23:34) vier en hulle begin onmiddellik daarvoor voorbereidings tref.

Boodskap en betekenis

Hierdie huttefees was ook die fees waar Eli vir Elkana en Hanna gesien het, toe Hanna kom bid het vir ’n seun, en Eli vir haar ingetree het, en Samuel gebore is.  Eli het mos gedink dat sy dronk was, want dit was ’n fees waar die drank van blydskap gevloei het.  Dié fees het 7 dae geduur, sommige tekste (ook Nehemia) sê daar was ook ‘n 8ste dag, wat heel moontlik was om almal kans te gee om te herstel van die jolyt, voor hulle die tog terug huis toe sou aanpak.

Benewens die dankie sê vir wat die Here vir hulle in die hede gedoen het, het hulle die gebruik gehad om hutte op te rig met takke, bo op die dakke van die huise of in die tempel voorhowe, om ook terug te dink aan die tyd in die woestyn toe God vir hulle bewaar en gesorg het.  Vandaar die naam Loofhuttefees, soos sommige van ons dit vandag nog ken.  Dit was die laaste en grootste van die drie Joodse feeste: die Paasfees, die Oesfees (Pinkster – ook die fees van die weke – 7 weke na die begin van die oes – of die fees van die graanoes genoem) en die Loofhuttefees (wat alle oeste van die jaar gevier het).

Let ook op, hulle samekoms was ’n Ere-diens, ’n manier om God te dien. Maar dit is nie gehou in die tempel nie, maar op die markplein by die Waterpoort aan die oostekant van die stad!  Dit is gehou in die sentrum van hulle gemeenskapslewe!  Wat bedoel dat God se Woorde nie net vir die tempel gereserveer word nie (wat reeds herbou was, maar waar net mans kon kom), maar bedoel is om gehoor te word in die strate en die pleine en die Boardwalks!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.