Skip to main content

Nehemia 8

Esra help die volk om mense van die Boek te word

Die muur is voltooi op die 25ste dag van Elul, die sesde maand (die maand is 29 dae lank). Almal het teruggekeer na hulle plekke. Vyf dae later op die 1ste dag van die sewende maand, Tishri, het die hele volk soos een man bymekaargekom in Jerusalem soos die wet hulle beveel het (Lev. 23:24) om ’n spesiale Sabbat vir die Here te vier.

Teks en konteks

Esra verskyn nou weer op die toneel, nadat ’n mens vir 13 jaar lank niks van hom gehoor het nie, presies hoekom weet ons nie. Moontlik was hy teruggeroep Babel toe – onthou hy was in opdrag van die koning na Jerusalem gestuur. Maar ons weet nie regtig nie.

Die volk vra Esra om vir hulle uit die wetboek van Moses te lees. Hy doen dit omtrent ses uur lank van ligdag af tot in die middel van die dag, met 13 (waarskynlik) priesters weerskante van hom en 13 Leviete wat gehelp het met die uitleg van die wetboek.

Interessant, ‘n vinnige leser kan teen 200 woorde per minuut die Pentateug in Hebreeus in ongeveer 6 uur 40 minute deurlees wat aandui dat die weergawe van die wet wat Esra hier lees baie ooreenkom in lengte met die Pentateug wat uiteindelik in ons Bybel opgeneem is.

Dit is een van die min plekke in die Bybel waar ons agterkom presies hoe die geloofsgemeenskap die Bybel gelees het. Die volk het van Esra geëis dat hy vir hulle help verstaan wat die wetboek van die Here sê sodat hulle dit kon doen (Neh. 8:2). As Esra aan hulle versoek voldoen en uit die wetboek begin lees, staan daar letterlik dat die “ore van die volk op die wet gerig was” (Neh. 8:4), so graag wou hulle verstaan!

Nadat die volk, al staande, na die eerste maraton voorlesing geluister het en in lofprysing gereageer het, het die leiers (Nehemia ingesluit), priesters en Leviete as ‘n span verder gegaan en in die proses van verstaansbegeleiding van die volgende stappe gebruik gemaak. Hulle het gefokus op:

  1. die verdere hardop lees van die teks,
  2. die verklaring daarvan,
  3. die verduideliking van die betekenis daarvan,
  4. totdat die volk dit verstaan het (Neh. 8:9).

En uit die verloop van die verhaal in die res van die hoofstuk word die gevolg van dié proses uitgespel in die nougesette navolging van wat hulle gehoor het. Hulle het regtig verstaan! Geen wonder dat hulle nou met reg mense van die Boek genoem kon word, want dít is inderdaad wat hulle geword het.

Die aanhoor van die wetboek van Moses se eise en voorskrifte het die volk egter hartseer gestem, omdat hulle op soveel wyses daaraan ongehoorsaam was. Nehemia-hulle stop dié gehuilery egter baie gou en moedig die volk aan om eerder hulle verbintenis aan Hom te vier met blydskap en ook die feestelikheid te deel met dié wat niks voorberei het nie.

Die woorde van Nehemia het een van die groot beloftes van die Bybel geword: “Moenie neerslagtig wees nie, want die vreugde van die Here, dit is julle toevlug.” In Engels: “the joy of the Lord is your strength.” Soos die NET Bible opmerk daaroor: “It’s their confidence in God’s goodness that sets them apart and makes them a robust people.” Want blydskap in die Here is ‘n genesing van die gees (vgl Spr 17:22). Dit gee jou krag om te volhard en die Here se beskerming te vertrou (vgl Ps 28:7-8). Soos ons alreeds by die Prediker geleer het: Genot is ‘n gawe van God (Pred 3:22). En soos Paulus later sal sê: “Wees altyd bly!” (1 Tess 5:16).

Op die tiende dag van dié maand moes hulle eintlik ook die versoendag vier (Lev. 23:27), maar ons lees nie eksplisiet dat hulle dié dag gevier het nie. Vyf dae later moes hulle egter die week lange huttefees (23:34) vier en hulle begin onmiddellik daarvoor voorbereidings tref.

Boodskap en betekenis

Hierdie huttefees was ook die fees waar Eli vir Elkana en Hanna gesien het, toe Hanna kom bid het vir ’n seun, en Eli vir haar ingetree het, en Samuel gebore is.  Eli het mos gedink dat sy dronk was, want dit was ’n fees waar die drank van blydskap gevloei het.  Dié fees het 7 dae geduur, sommige tekste (ook Nehemia) sê daar was ook ‘n 8ste dag, wat heel moontlik was om almal kans te gee om te herstel van die jolyt, voor hulle die tog terug huis toe sou aanpak.

Benewens die dankie sê vir wat die Here vir hulle in die hede gedoen het, het hulle die gebruik gehad om hutte op te rig met takke, bo op die dakke van die huise of in die tempel voorhowe, om ook terug te dink aan die tyd in die woestyn toe God vir hulle bewaar en gesorg het.  Vandaar die naam Loofhuttefees, soos sommige van ons dit vandag nog ken.  Dit was die laaste en grootste van die drie Joodse feeste: die Paasfees, die Oesfees (Pinkster – ook die fees van die weke – 7 weke na die begin van die oes – of die fees van die graanoes genoem) en die Loofhuttefees (wat alle oeste van die jaar gevier het).

Let ook op, hulle samekoms was ’n Ere-diens, ’n manier om God te dien. Maar dit is nie gehou in die tempel nie, maar op die markplein by die Waterpoort aan die oostekant van die stad!  Dit is gehou in die sentrum van hulle gemeenskapslewe!  Wat bedoel dat God se Woorde nie net vir die tempel gereserveer word nie (wat reeds herbou was, maar waar net mans kon kom), maar bedoel is om gehoor te word in die strate en die pleine en die Boardwalks!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar