Skip to main content

Josua 15

Juda kry hulle erfdeel met besondere vermelding van Kaleb en Aksa sy dogter

Teks en konteks

Nadat Kaleb sy deel ontvang het, word ‘n proses van loting gevolg met lootjies (klippies, stokkies, potskerwe) wat ongesiens getrek is uit ‘n houer. Die houer kon ook geskud word totdat een klippie uitskud. Dit is aanvaar as ‘n beslissing van die Here, omdat dit in sy teenwoordigheid gedoen is.

Hierdie loting is onder andere gebruik vir die aanwys van diere vir die heiligdom (Lev 16:8), vir mense wat skuldig is (Jon 1:7), die uitdeel van werk (1 Kron 26:14), ‘n beslissing van die Here (Spr 18:18) en natuurlik ook grondgebied soos hier. Moses het dié proses reeds vroeër beveel (vgl Num 26). Ons tref dit ook aan in die NT met die keuse tussen twee kandidate om die dissipel Judas te vervang (Hand 1:26).

Die eerste gebied word aan Juda toegeken, die een waaraan die beloftes van leierskap gekoppel is (vgl Gen 47-48). Hulle kry die gebied in die suide van die land. Dit was geografies die grootste gebied met 60 stede waarvan Jerusalem egter eers in die tyd van Dawid onder hulle beheer gekom het. Kyk op die kaart wat ek vroeër gegee het om die grense te kan identifiseer.

Kaleb word weereens uitgesonder in die veldtog wat hy gevoer het teen Hebron en Debir (Kirjat-Sefer) om die belofte van die Here in besit te neem. Dieselfde drie reuse wat hy met die verkenning van die land raak geloop het – Sesai, Agiman en Talmai – het hy nou verdryf uit hulle gebied en dit in besit geneem.

Dat dié veldtog nie net om die mans gegaan het nie, is heel duidelik uit die kosbare kleinood van ‘n verhaal wat van Aksa vertel word. Kaleb het haar belowe aan die man wat Kirjat-Sefer (Debir) verslaan en inneem. Otniël was nie links nie, en het dié aanbod aanvaar en Aksa as bruid gekry in ruil vir sy rol in die oorlog. Haar toekoms binne die stamverband was dus gewaarborg. Sy het ook ‘n man gekry wat later ‘n groot rol as rigter sou speel (Rigt 3).

Aksa was egter besonder skerp en vooruitstrewend, en vra onmiddellik vir beter grond van haar pa. Sy wou landbougrond hê en het aangehou by Otniël om nie tevrede te wees met wat haar pa Kaleb vir hom gegee het nie. Sy kry presies wat sy vra, ‘n stuk vrugbare grond met standhoudende water uit ‘n aantal verspreide fonteine, beide in die berge as in die vlaktes.

Die skrywer lys dan die sestig stede wat deel van hierdie stamgebied geword het, maar lewer ook die stukkie kommentaar dat die mense van Juda dit nie kon regkry om die Jebusiete, die inwoners van Jerusalem, te verdryf nie. “Hulle woon vandag nog daar saam met die mense van Juda.

Benewens die feit dat dit wys hoe ‘n moeilike proses die “skoonmaak”-veldtog was, dui die kommentaar ook aan dat die boek gefinaliseer is vóór Dawid uiteindelik ongeveer vier eeue later Jerusalem finaal ingeneem het.

Boodskap en betekenis

Hierdie kort verhaal is van groot belang vir geleerdes wat in menseregte in die vroeë Israel belangstel. Kaleb se waardevolle geskenk aan Aksa staan as ‘n getuienis van die waarde van elke mens – beide vroue en mans – wat reeds met die Intog in Kanaän gegeld het (Creach in sy kommentaar). Kaleb se geskenk aan Aksa bevestig die perspektief wat die Genesis 1-2 verhaal vir ons bring, waar mans en vroue gesamentlik as die beeld van God beskryf word (Gen 1), en die Here harmonie in hulle verhouding gebring het met die instelling van die huwelik. Hulle was beide “helftes” as “helpers” vir mekaar (Gen 2).

Dit moet ons twee keer laat dink oor mense wat die patriargie as ‘n noodwendige onderdrukkende sisteem voorhou wat net mans bevoordeel het. Die Bybel praat baie meer genuanseerd daaroor en bly die rigsnoer vir ons vir nie net die huwelik nie, maar ook vir die verhouding tussen mans en vroue in die geloofsgemeenskap. Kaleb se hantering van sy dogter dui op ‘n gelykheid van geleenthede wat reeds in oud-Israel gegeld het.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda