Skip to main content

Handelinge 16:6-40

Die Europese kerkgeskiedenis begin met die bekering van ’n vrou in Filippi

Soos die goeie nuus met die vorige sendingreis na Asië versprei het, stuur die Gees vir Paulus nou oor die grens na Europa in ‘n vyfde fase deur twee verdere sendingreise. Paulus se tweede sendingreis duur ongeveer 3 jaar en die evangelie versprei tot in Korinte in Griekeland (ongeveer 50–52 n.C.). Die derde sendingreis duur ongeveer 4 jaar waarin Efese in Asië (Turkye) ‘n belangrike sentrum word vir die verspreiding van die evangelie (ongeveer 53-57 n.C.).

Die resultaat is dat die kerk al hoe meer uit gelowiges uit die heidense volkere bestaan, die begin van die langtermyn kerstening van die Weste wat in die 4de eeu tot die verheffing van die Christendom as amptelike godsdiens van die Romeinse ryk gelei het.

Let op dat die evangelie God se saak is, dat Hy die toon aangee, en dat geen teenstand dit kan verhinder nie. Soos dit die geval was met die Joodse leiers (Hand. 5:39), en die ongelowige Jode (Hand. 9:1), en die kerk in Jerusalem (Hand. 11:17), en die sekulêre politieke leiers (Hand. 12:23), en die Judaïseerders in die kerk (Hand. 15:10), so kan nou ook die godsdienstige en politieke teenstand van die Grieke (Hand. 16 in Filippi, en Hand. 19 in Efese) God se redding nie keer nie. Hy skep vir Hom uit alle tale en nasies ’n volk om aan Hom te behoort.

Let ook op dat Lukas nou weer saamreis, soos die “ons” in Handelinge 16:10-17 (vanaf Troas) aandui. Dit sal weer die geval wees in Handelinge 20:5 (vanaf Troas) tot in Handelinge 21:19 (in Jerusalem) en dan weer in Handelinge 27:1-28:16 (van Sesarea tot in Rome). Lukas skryf hierdie dele dus as ooggetuie en die detail is volop en lewendig (moontlik het hy ‘n joernaal gebruik).

Teks en konteks

Paulus word deur die Gees van Jesus na Macedonië geroep – Handelinge 16:6-10

Paulus-hulle het deur die sentrale streke van Galasië en Frigië gereis, omdat hulle deur die Heilige Gees verhinder is om die woord in Klein-Asië in die suid-ooste te verkondig. Op sy derde sendingreis sou Paulus Efese sy sentrum maak in Klein-Asië vanwaar die evangelie wel daardie deel van wat ons vandag as Turkye ken, sou bereik.

Hulle is ook deur die Gees van Jesus verhinder om na die meer noordelike streke van Misië en Bitinië te gaan, moontlik omdat Petrus daar gewerk het (vgl 1 Pet 1:1). Daarom het hulle aan gereis tot by Troas (moderne Dalyan) aan die Middellandse See waar Lukas by hulle aangesluit het.

Daardie nag het Paulus ‘n visioen gehad van ‘n Macedoniese man wat om hulp gesmeek het. Dit het hulle oortuig dat God hulle geroep het om aan daar die evangelie te gaan verkondig.

Dit is opmerklik hoe nou en onlosmaaklik die verband is tussen Jesus en die Gees; dit is die Gees van Jesus wat hier Paulus lei om Europa te betree, aan die een kant deur hom te verhinder om sy eie kop te volg, en aan die ander kant deur ’n gesig wat die rigting aandui. Let op dat dit ’n gesamentlike besluit was: “omdat ons tot die oortuiging gekom het”.

Lidia kom tot bekering – Handelinge 16:11-15

Die viermanskap – Paulus, Silas, Timoteus en Lukas – het die see oorgesteek en na Filippi, ‘n Romeinse kolonie in Macedonië, gereis. Daar was nie ‘n sinagoge nie (jy het 10 mans nodig gehad daarvoor) en daarom het die Joodse gelowiges (ons lees hier net van vroue, moontlik getroud met Grieke), by ‘n bidplek by die rivier, die Gangitis, vergader.

En dan gebeur die wonder, die hele Europese kerkgeskiedenis begin met die verhaal van ‘n ryk vrou wat langs ‘n rivier in Jesus begin glo.

Dit is interessant hoe God ongewone mense gebruik in die verspreiding van die evangelie na nuwe gebiede. In Afrika was dit ‘n Ethiopiese eunug. In Europa was dit ‘n Grieks-Joodse vrou.

Sy nooi Paulus-hulle onmiddellik na haar huis, en so word haar huis die eerste huisgemeente in Europa, een van die mooiste gemeentes waarvan ons lees in die Nuwe Testament. Daar is geen gemeente wat die apostel so hoog geroem het as dié van Filippi nie, en geen gemeente van wie hy meer liefde ontvang het nie.

Ons lees regdeur die brief aan die Filippense hoe Paulus hierdie eerste Europese gemeente liefgehad het en dat hulle hom terug liefgehad het. Geen wonder dat die brief wat hy later vir hulle skryf so vol van vreugde en blydskap is nie, en daarby ‘n oproep is aan almal om dié vreugde oral te versprei.

Soos met die proseliete-doop vir heidene wat die Joodse geloof aanneem, word Lidia se huismense (oikos) ingesluit toe sy gedoop word as een wat in Jesus glo. Interessant is dat haar kinders waarskynlik ingesluit is en dat dit onmiddellik gebeur het.

Paulus mors dus nie tyd nie – wanneer jy met hou hele hart glo, is jy alreeds ‘n deel van die liggaam van Christus, en moet jy daarom gedoop word. Geen kategese nie, net geloof in Christus.

Paulus en Silas word in die tronk gegooi weens die bevryding van ‘n besete slavin – Handelinge 16:16-24

Maar, soos in alle vorige plekke waar die evangelie verkondig is, bly die teenstand nie uit nie. Geen goeie ding gebeur immers ooit sonder dat die magte van die bose monster om dit te dwarsboom nie!

Die slavin met ‘n waarsêergees is die eerste teenstand. Die woord wat gebruik word vir die waarsêergees, is puthon-gees. Die Puthon was die mitologiese slang of draak wat die orakel of tempel van Delphi bewaar het en deur Apollo doodgemaak is. Blykbaar het mense onder die invloed van dié gees met buikspraak gepraat, d.w.s. sonder dat hulle lippe beweeg het.

Maar, Paulus dryf, na ‘n paar dae, die gees uit haar uit.

Die eerste hindernis, die slawemeisie, demonstreer op geen onseker wyse nie, dat God sterker is as die magte van die duisternis. Maar die oorlog het natuurlik nog net begin!

Met die konsternasie wat haar eienaars vir Paulus veroorsaak, want die slavin het nou nie meer geld ingebring nie, verskerp die teenstand en word hulle deur die stadsbestuurders verneder en geslaan, en in die tronk gegooi. Lukas en Timoteus word dit gespaar.

God bevry vir Paulus en Silas uit die tronk met ‘n tronkbewaarder wat tot bekering kom – Handelinge 16:25-34

En dit is waar die volgende lidmaat van die gemeente tot bekering gebring word, die tronkbewaarder. Terwyl Paulus en Silas lofliedere in die tronk sing, bevry die Here hulle met ‘n aardbewing wat die tronkbewaarder van sy behoefte aan verlossing oortuig en hy kom tot geloof in Jesus.

Die tronkbewaarder en sy huisgesin (oikos) word ook gedoop en Paulus-hulle word in ‘n volgende huis gasvry ontvang. Interessant dat die Romeine Brutus en Cassius juis in Filippi selfmoord pleeg, soos ons lees dat die bewaarder wou doen om sy eer te red. God red hom egter van homself en daarby ook sy huisgesin.

Die tweede hindernis, die stadsraad wat Paulus en Silas in die tronk gooi, word dus nie net oorkom deurdat die aardbewing die deure van die tronk oop forseer nie, maar die tronkbewaarder self kom tot bekering, hy en sy hele huis, en hulle word gedoop.

Die stadsbestuurders word gedwing om Paulus-hulle in ere te herstel – Handelinge 16:35-40

Die stadsbestuurders word gedwing om Paulus-hulle persoonlik uit die tronk te begelei, en hulle in ere te herstel, omdat hulle sonder verhoor vir Paulus-hulle geslaan en in die tronk laat gooi het, alhoewel hulle Romeinse burgers was, en aanspraak kon maak op ‘n regverdige verhoor.

Aan die einde van die verhaal, sien ons dat hulle almal weer bymekaar kom in Lidia se huis. Met Paulus-hulle se bemoedigende woord word die grondslag vir die eerste gemeente in Europa gelê.

Paulus sou hulle nog twee keer besoek (20:1 en 6) en uiteindelik die pragtige brief aan die Filippense skryf uit die tronk in Rome. En hulle sou hom die meeste kere ondersteun van alle gemeentes wat Paulus ooit gestig het. Die eerste lidmate van hierdie pragtige gemeente begin dus hulle gemeentelewe in die huis van Lidia en word die grootste ondersteunersgroep van Paulus in die res van sy bediening.

Boodskap en betekenis

Dit is interessant hoe anders die Here werk as wat ons sou verwag met koerswysigings vir die kerk. ‘n Mens sou verwag dat Hy sy mense sou bemagtig en die paaie vir hulle gelyk sou maak, genoeg geld voorsien, en alle teenstand voor hulle sal wegvee.

Maar dit is nie hoe God werk nie. Die kerk in Europa begin met ‘n baie ontwrigtende ervaring. Paulus en sy mense wil in ‘n ander rigting as wat die Here wil, en ons teks sê vir ons, dat dit die Gees van Jesus is wat hulle planne ontwrig en hulle verhinder om hulle eie kop te volg, selfs al is hulle besig om die evangelie te verkondig.

Deur die gesig van die Masedoniese man lei die Gees vir Paulus-hulle op die regte pad. En dit is ‘n baie belangrike lewensles wat ons telkens weer moet leer. Die Here is nie afwesig in ontwrigtende gebeure nie. Trouens, Hy is meesal daarbinne besig om sy wil uit te voer.

Aan die einde van die verhaal, sien ons dat hulle almal weer bymekaar kom in Lidia se huis. En die grondslag vir die eerste gemeente is gelê.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ja Gerhard, ek sal eerder sê dat 'n mens jouself kan verafgod, as jou geloof as sodanig. Die Bybel praat nie so nie so ver ek kan agterkom. Die Bybel wys uiteraard afgode af, en dinge soos gierigheid wat 'n afgod kan raak. Daaruit kan 'n mens aflei dat enigiets wat in die plek van God gestel word, o…
  • Gerhard on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ds ek is besig om afgodery na te slaan. Ek het 'n ds gehoor met die opmerking dat jy jou geloof kan verafgod? Afgodery is tog weg van God af soos wat ek verstaan. Groete Gerhard
  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.