Skip to main content

Psalm 141

Maar op U bly my oë gerig

Ek plaas Psalm 141 hier, omdat dit ook goed pas by Dawid se afgryse oor die geweld van sy leiers wat hy graag wil vermy in sy gehoorsaamheid aan die Here.

Teks en konteks

Hierdie Psalm is ‘n kragtige bevestiging van ons absolute afhanklikheid van die Here om aan Hom getrou te bly. Die enigste betroubare beskerming teen die versoekinge van die hart sowel as teen die verleiding van goddeloses bly die Here self: “Op U, Here, my God aan wie ek behoort, is my oë gerig.” (vers 8). Vanuit dié geestelike fokus kán ons nee sê vir die versoekinge en verleidinge en ons lewens inrig om in die beskerming van God te floreer.

Daarom dat die Psalmis in die eerste plek moeite doen om direk met die Here te praat, om die Here om sy teenwoordigheid in alles te smeek: “Kom tog gou na my toe, luister tog na my, ek roep na U.” (vers 1). Maar, dat hy in die tweede plek terselfdertyd hom bereid verklaar om alles in sy vermoë te doen om die geselskap en teregwysing van regverdiges te verwelkom en die geselskap en invloed van goddeloses ten alle koste te vermy (vers 5).

Hy vergelyk sy gebed met die wierookoffer wat in die aand met die aansteek van die lampe in die tempel gebrand is (Eks 30:8) en wat ‘n simbool was van die volk se voortdurende soeke na die teenwoordigheid van die Here. Dit is dus die eerste fokus van sy lewe. Daarin sal hy volhard.

Hy vergelyk die uitstrek van sy hande met die graanoffer wat soortgelyk in die aand met die aansteek van die lampe geoffer is, baie keer saam met die wierookoffer (Lev 2:1). Dit was ‘n offer van fynmeel wat sonder suurdeeg (Lev 2:11) gebring is en óf as ‘n ringbrood (doughnut) óf as ‘n roosterkoek gebak is (Lev 2:4).

Dit was dus ‘n simbool van die volk se voortdurende fokus op ‘n heilige lewe in die teenwoordigheid van die Here. Hierdie is dus die tweede fokus van sy lewe, ‘n heilige lewe. Daarin sal hy ook volhard.

Let op hoe die Psalmis die Here vertrou vir:

  • WOORDE: ‘n Wag voor sy mond – vers 3;
  • GEDAGTES: om hom weg te hou van gedagtes oor verkeerde dinge – vers 4.

Let op hoe die Psalmis vanuit dié vertroue hom voorneem om sy lewe in God se teenwoordigheid te leef:

  • KONSTRUKTIEWE GEDRAG: dat hy teregwysing van regverdiges in sy lewe verwelkom en dat hy voortdurend sy gebed sal voortsit selfs al gebeur dit te midde van die booshede wat die goddeloses pleeg – vers 5;
  • AFWYSENDE GEDRAG: dat hy nie saam met ander onreg sal doen en aan hulle feeste meedoen nie (letterlik: aan hulle lekkernye proe nie) – vers 4 – en selfs nie hulle gasvryheid aanvaar nie – vers 5.

Vers 5-7 is regtig moeilik om te vertaal. Die laaste deel van vers 5 kan ook positief vertaal word in die betekenis dat die teregwysing van die regverdiges soos olie op sy kop uitgegiet word, en dat hy die nie sal weier nie. Vers 6 kan leedvermakerig vertaal word soos in die 1983-vertaling – “goed so” – of meer positief – “sou hulle steeds hoor dat my woorde aangenaam is” – soos in die 2020-vertaling. Vers 7 kan dui óf op die goddeloses óf op die regverdiges se verguising.

Die belangrike is egter dat die fokus op die Here volgehou word: “Maar op U, Here, my Heer, bly my oë gerig; by U skuil ek. Moenie my lewe uitgiet nie.” (vers 8 – 2020-vertaling). Dit is Hy alleen wat ‘n mens kan beskerm van die strikke wat daar vir die regverdiges gestel word en wat die onregverdiges in hulle eie strikke kan laat omkom.

Boodskap en betekenis

Dit is merkwaardig hoe die simboliek van die wierookoffer en die graanoffer ook steeds ‘n rol speel in die NT beskrywing van ons gebede en ons lewens:

Die NT gebruik die simboliek van dié wierookoffer op twee maniere.

  1. Aan die een kant gebruik Johannes dit as ‘n simbool van die gebede van gelowiges. Die gebede van die gelowiges word twee keer soos wierook voor die Here deur beide die vier en twintig ouderlinge (Openb 5:8) en die engel (Openb 8:3) in die hemel geoffer. Die eerste beskrywing van die gebede is bedoel as lofprysing wat deel is van die uitvoering van God se wêreldagenda. Die tweede beskrywing van die gebede is bedoel om die Here vir regstelling te vra wat die oordele van die sewe trompette van God inlui. Dit is uiteraard net so deel van die uitvoering van God se wêreldagenda.
  2. Aan die ander kant gebruik Paulus dit as ‘n simbool van die lewe van gelowiges. God gebruik die getuienis van ons lewens om die kennis van Christus oral soos ’n aangename geur te versprei: “Ons is die wierook wat deur Christus vir God gebrand word, waarvan die geur dié bereik wat gered word, sowel as dié wat verlore gaan. Vir dié wat verlore gaan, is dit ’n doodsreuk wat dood bring; vir dié wat gered word, is dit ’n lewensgeur wat lewe wek.” (2 Kor 2:14-17). Dit is waarom ons met soveel opregtheid in ons verbondenheid aan Christus, die opdrag van God in verantwoordelikheid aan God met alles in ons moet nakom, terwyl ons tegelykertyd ons afhanklikheid van God in ons gebedslewe uitleef.

Die NT gebruik ook die simboliek van die graanofffer en wel as ‘n teken van die liggaamlike offer wat Jesus Christus aan God geoffer het (Hebr 10:5).

In die verlengde van dié beeld, waar gelowiges saam as die liggaam van Christus geteken word (Rom 12:5; 1 Kor 12:27), en Paulus baie maak van die feit dat ons fisiese liggame ‘n tempel van die Here is (1 Kor 6:19), is dit geen wonder dat ons ook opgeroep word om ons liggame te stel: “as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer—dit is julle redelike godsdiens.” (Rom 12:1 – 1933-vertaling).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda