Skip to main content

2 Samuel 5:1-16; 1 Kronieke 11:1-9; 12:23-40; 14:1-7

Almal erken Dawid as God se herder vir sy volk

Ons lees vier Skrifgedeeltes wat Dawid se erkenning as God se herder vir sy volk beskryf: 2 Samuel 5:1-16; 1 Kronieke 11:1-9; 12:23-40; 14:1-7. In 2 Samuel 5:1-16 onderwerp al die stamme van Israel hulle aan Dawid as koning na Is-Boset se dood (2 Sam 4). Sy eerste daad as koning van die verenigde volk is om die hoofstad na Jerusalem te verskuif. Hy bereik dit deur die stad van die Jebusiete te bevry en sy administrasie daarheen oor te plaas. Die Here seën Dawid se pogings, vestig sy koninklike paleis, gee hom internasionale erkenning, en vermeerder sy nageslag. Die Kronis ignoreer die tydperk van Dawid se regering oor Juda en fokus in 1 Kronieke 11:1-9 en 12:23-40 net op die nasionale eenheid wat Dawid gebring het. Die Kronis fokus in 1 Kronieke 14:1-7 ook op die seën wat Dawid geniet beide in terme van die vriendskap en voorsiening van koning Hiram (hy gebruik die wisselvorm Huram) van Tirus en sy nageslag in Jerusalem soos in 2 Samuel 5.

Teks en konteks

Al die stamme van Israel het na Dawid in Hebron gekom en hulle eenheid met hom verklaar op grond van hulle gedeelde geskiedenis, sowe as beide sy vorige leierskap in Israel en die Here se verkiesing van Dawid as die herder van sy volk, Israel. Kronieke beklemtoon daarby ook die rol wat Samuel in die vroeëre salwing gespeel het.

Dawid sluit daarop ’n verbond met hulle voor die Here in sy dertigste jaar, ’n regering wat veertig jaar sou duur en volg dit op deur sy hoofstad in Jerusalem te vestig, die plek wat die Here gekies het om sy Naam aan te koppel. Die interaksie met die Jebusiete word in beide 2 Samuel 5 en 1 Kronieke 11 vertel, maar Kronieke beklemtoon ook die leierskap van Joab in die oorwinning.

Die Jebusiete was die antieke inwoners van Jerusalem en sy omgewing en geswore vyande van Israel. Die Here het reeds in Eksodus aan Israel opdrag gegee om hulle uit te wis (Eks 34:11; Deut 7:1–2; 20:17). Dit was egter eers onder Dawid se leiding dat dit moontlik geraak het (vgl die vorige onsuksesvolle pogings van Jos 15:63 en Rigt 1:21).

Die arrogante houding van die Jebusiete dat selfs die swakste inwoners van Jerusalem Dawid-hulle sou kon oorwin, boemerang lelik op hulle deurdat Joab moontlik deur ’n watertonnel die stad van binne-af aangeval het. Dit is hoe die vewysing na die watertonnel moontlik verstaan kan word.

Dit is egter duidelik vir albei skrywers dat Dawid se oorwinning uiteindelik nie net aan sy vernuf te danke is nie, maar aan die Here, die God van alle magte, wat by hom was. Die stad staan hierna ook as die stad van Dawid bekend benewens die koppeling aan die berg Sion, die geestelike beskrywing van Jerusalem.

Dawid se internasionale status word hierna deur Hiram, die koning van die Fenisiese stad, Tirus, noord van Israel, erken wat ook mense stuur met boumateriaal en kundiges om Jerusalem te herbou sowel as ‘n paleis vir Dawid. Dit het Dawid laat besef dat die Here hom nou werklik as koning oor Israel gevestig het. Hy besef egter ook dat dit nie net om homself gegaan het nie, maar dat die Here sy koningskap aansien gegee het ter wille van sy volk Israel soos die Kronis dit beklemtoon.

Die Here seën Dawid ook met ‘n groot nageslag waarvan elf in 2 Samuel 5 genoem word. Die Kronis noem twee meer kinders as Samuel: Elpelet en Noga, vir ‘n totaal van dertien. Net seuns word hier genoem, maar ons weet ten minste van een dogter, Tamar, uit die geslagsregister in 1 Kronieke 3:9 en uit die tragiese verhaal daaroor in 2 Samuel 13.

Interessant is dat Natan in die geslagsregister van Dawid in Lukas 3:31 vermeld word, en Salomo in die geslagsregister van Dawid in Matteus 1:6. Een verklaring daarvoor is dat Lukas die bloedlyn volg, en Matteus die koninklike lyn. ‘n Ander verklaring daarvoor is dat Natan die voorvader van Josef was, en dat Salomo weer die voorvader van Maria was.

Boodskap en betekenis

Regdeur hierdie drie gedeeltes word die aanvaarding deur die hele volk van Israel sowel as die bewussyn van die Here se aanwysing van Dawid as koning beklemtoon. Ons sien dit in die drie redes wat die volk gee vir hulle aanvaarding van hom as koning: 1) dat Dawid een van hulle is; 2) dat Dawid hulle oorlogsleier was selfs voor sy koningskap; 3) dat die Here hom aangewys het as koning.

Daarby kom egter ook die internasionale erkenning wat Dawid geniet wat beteken dat die beloftes aan Abraham ‘n al hoe groter vervulling geniet en in Dawid wasdom bereik: “Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ’n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.” (Gen 12:2-3)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • originalblizzard19aaa84c56 on Herodes die Grote pleeg kindermoordDankie.
  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…