Skip to main content

2 Samuel 5:1-16; 1 Kronieke 11:1-9; 12:23-40; 14:1-7

Almal erken Dawid as God se herder vir sy volk

Ons lees vier Skrifgedeeltes wat Dawid se erkenning as God se herder vir sy volk beskryf: 2 Samuel 5:1-16; 1 Kronieke 11:1-9; 12:23-40; 14:1-7. In 2 Samuel 5:1-16 onderwerp al die stamme van Israel hulle aan Dawid as koning na Is-Boset se dood (2 Sam 4). Sy eerste daad as koning van die verenigde volk is om die hoofstad na Jerusalem te verskuif. Hy bereik dit deur die stad van die Jebusiete te bevry en sy administrasie daarheen oor te plaas. Die Here seën Dawid se pogings, vestig sy koninklike paleis, gee hom internasionale erkenning, en vermeerder sy nageslag. Die Kronis ignoreer die tydperk van Dawid se regering oor Juda en fokus in 1 Kronieke 11:1-9 en 12:23-40 net op die nasionale eenheid wat Dawid gebring het. Die Kronis fokus in 1 Kronieke 14:1-7 ook op die seën wat Dawid geniet beide in terme van die vriendskap en voorsiening van koning Hiram (hy gebruik die wisselvorm Huram) van Tirus en sy nageslag in Jerusalem soos in 2 Samuel 5.

Teks en konteks

Al die stamme van Israel het na Dawid in Hebron gekom en hulle eenheid met hom verklaar op grond van hulle gedeelde geskiedenis, sowe as beide sy vorige leierskap in Israel en die Here se verkiesing van Dawid as die herder van sy volk, Israel. Kronieke beklemtoon daarby ook die rol wat Samuel in die vroeëre salwing gespeel het.

Dawid sluit daarop ’n verbond met hulle voor die Here in sy dertigste jaar, ’n regering wat veertig jaar sou duur en volg dit op deur sy hoofstad in Jerusalem te vestig, die plek wat die Here gekies het om sy Naam aan te koppel. Die interaksie met die Jebusiete word in beide 2 Samuel 5 en 1 Kronieke 11 vertel, maar Kronieke beklemtoon ook die leierskap van Joab in die oorwinning.

Die Jebusiete was die antieke inwoners van Jerusalem en sy omgewing en geswore vyande van Israel. Die Here het reeds in Eksodus aan Israel opdrag gegee om hulle uit te wis (Eks 34:11; Deut 7:1–2; 20:17). Dit was egter eers onder Dawid se leiding dat dit moontlik geraak het (vgl die vorige onsuksesvolle pogings van Jos 15:63 en Rigt 1:21).

Die arrogante houding van die Jebusiete dat selfs die swakste inwoners van Jerusalem Dawid-hulle sou kon oorwin, boemerang lelik op hulle deurdat Joab moontlik deur ’n watertonnel die stad van binne-af aangeval het. Dit is hoe die vewysing na die watertonnel moontlik verstaan kan word.

Dit is egter duidelik vir albei skrywers dat Dawid se oorwinning uiteindelik nie net aan sy vernuf te danke is nie, maar aan die Here, die God van alle magte, wat by hom was. Die stad staan hierna ook as die stad van Dawid bekend benewens die koppeling aan die berg Sion, die geestelike beskrywing van Jerusalem.

Dawid se internasionale status word hierna deur Hiram, die koning van die Fenisiese stad, Tirus, noord van Israel, erken wat ook mense stuur met boumateriaal en kundiges om Jerusalem te herbou sowel as ‘n paleis vir Dawid. Dit het Dawid laat besef dat die Here hom nou werklik as koning oor Israel gevestig het. Hy besef egter ook dat dit nie net om homself gegaan het nie, maar dat die Here sy koningskap aansien gegee het ter wille van sy volk Israel soos die Kronis dit beklemtoon.

Die Here seën Dawid ook met ‘n groot nageslag waarvan elf in 2 Samuel 5 genoem word. Die Kronis noem twee meer kinders as Samuel: Elpelet en Noga, vir ‘n totaal van dertien. Net seuns word hier genoem, maar ons weet ten minste van een dogter, Tamar, uit die geslagsregister in 1 Kronieke 3:9 en uit die tragiese verhaal daaroor in 2 Samuel 13.

Interessant is dat Natan in die geslagsregister van Dawid in Lukas 3:31 vermeld word, en Salomo in die geslagsregister van Dawid in Matteus 1:6. Een verklaring daarvoor is dat Lukas die bloedlyn volg, en Matteus die koninklike lyn. ‘n Ander verklaring daarvoor is dat Natan die voorvader van Josef was, en dat Salomo weer die voorvader van Maria was.

Boodskap en betekenis

Regdeur hierdie drie gedeeltes word die aanvaarding deur die hele volk van Israel sowel as die bewussyn van die Here se aanwysing van Dawid as koning beklemtoon. Ons sien dit in die drie redes wat die volk gee vir hulle aanvaarding van hom as koning: 1) dat Dawid een van hulle is; 2) dat Dawid hulle oorlogsleier was selfs voor sy koningskap; 3) dat die Here hom aangewys het as koning.

Daarby kom egter ook die internasionale erkenning wat Dawid geniet wat beteken dat die beloftes aan Abraham ‘n al hoe groter vervulling geniet en in Dawid wasdom bereik: “Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ’n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.” (Gen 12:2-3)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar