Skip to main content

Eksodus 1

God vermeerder sy volk ten spyte van farao se brutale onderdrukking

Inleiding

Die boek Eksodus begrond die verhaal van Israel in die openbaring van God as die Here. Die God van Abraham is ook die God van Moses, Jahwe, wat sy volk deur die trek deur die woestyn uit die slawerny van Egipte verlos en bring na die land van die belofte. Hy sluit met hulle ‘n verbond waarvan die inhoud in die wet en veral die Tien Gebooie wat op Sinai gegee is, beskryf word. God se dinamiese teenwoordigheid by sy mense word herstel deur die gawe van die Tora en die bou van die tabernakel. Sy genade word daarmee sigbaar in die konkrete lewe van die geloofsgemeenskap en bind hulle saam.

Eksodus is daarom die verhaal van God wat hoor en sien wat met mense gebeur en beslissend optree. Soos Hy gesien het dat dit sleg gaan met sy volk in Egipte en Hy hulle uit hulle ellende verlos het, so doen Hy dit vandag nog. In die proses verdiep God sy verhouding met ons sodat ons sy wil sal ken en in sy teenwoordigheid kan floreer. Hy is die Here wat ons deur sy Woord tot ‘n geloofsgemeenskap saambind in ‘n ewige verbond met ons om ons God te wees.

Waar Genesis die verhaal van Israel in die oorsprong van alle dinge begrond het, begrond die verhaal van Eksodus die verhaal van Israel in die verlossing uit Egipte. Eksodus sê daarmee dat die God van die heelal, die God van die nasies, die God van die aartsvaders is ook die God van Moses wat God se volk uit die slawerny van Egipte verlos en deur die woestyn bring na die land van die belofte.

Daarmee word die verhaal van die Godsvolk in Eksodus doelbewus vertel as ‘n aaneenlopende verhaal met die Godsvolk waarmee ons reeds in Genesis kennis gemaak het, al het vier eeue al verloop tussen Genesis 50 en Eksodus 1. Die beloftes wat aan Abraham, Isak en Jakob in Genesis gemaak is, begin uiteindelik in Eksodus in vervulling gaan waar hulle nasate uit die smeltkroes van die slawerny in Egipte gered word om as Godsvolk die land wat God aan hulle belowe het in besit te neem.

Die rede vir die bevryding word gevind in die feit dat: “God het hulle gekreun gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob. God het die Israeliete raakgesien, ja, God het kennis geneem.” (Eks. 2:23-25 – BDV). Soos die NET Bible die laaste deel vertaal: “God saw the Israelites, and God understood …” Inderdaad!

Ons weet nou al uit talle van die verhale in Genesis dat wat God hoor, dink en sien altyd oorgaan in aksie. Dit is nie anders in Eksodus nie: “Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na ‘n goeie en uitgestrekte land, ‘n land wat oorloop van melk en heuning.” (Eks. 3:8).

Daarmee kom God se belofte van reeds meer as vier eeue te vore in werking waarin Hy reeds aan Abraham voorspel het dat hulle ‘n tyd lank in Egipte as slawe onderdruk sal word: “Maar Ek sal die nasie straf wat van jou nageslag slawe maak, en dan sal hulle met baie besittings wegtrek … Die vierde geslag ná jou sal hiernatoe terugkom.” (Gen. 15:13-21).

Die groot Trek uit Egipte het dus aangebreek, die Eksodus. Ons leer daaruit dat God se genade nie net sigbaar is in die ontstaan en vestiging van families as geloofsgemeenskap nie, soos Genesis dit vir ons vertel het nie. God se genade word ook sigbaar wanneer dit sleg gaan met hulle en Hy sy volk uit die ellende waarin hulle verkeer weens lyding en onderdrukking verlos, soos Eksodus en die res van die boeke van die Pentateug sowel as Josua ons gaan vertel.

In die proses verdiep God ook die verbond met sy volk waarin Hy die verhouding met Hom en onderling met mekaar in terme van die inhoud van die wet – veral die Tien Gebooie wat op Sinai gegee is – in meer detail skriftelik beskryf, die begin van wat ons uiteindelik as die Bybel sou leer ken.

Daarmee word God se dinamiese teenwoordigheid by sy mense ‘n groter werklikheid deur die gawe van hierdie geskrewe Tora en die bou van die aardse Tabernakel na die voorbeeld van die hemelse ekwivalent. Sy genade word daarmee nou nog meer sigbaar in die konkrete lewe van die geloofsgemeenskap. Sy woorde kan in die Tora gelees en geleef word. Sy teenwoordigheid kan in die Tabernakel gesoek en beleef word.

Agtergrond

Die Eksodus het plaasgevind in die tyd van die Nuwe Koninkryk (18de tot 20ste dinastieë – 1550-1069 v.C.) wat ‘n aanvang geneem het toe die Hiksos verdryf is deur farao Ahmose en Egipte se mag uitgebrei is regdeur Kanaän tot in hedendaagse Sirië.

Twee van die groot farao’s van hierdie tyd word met die Eksodus verbind: Thutmoses III (1479-1425 v.C.) en Rameses II (1279-1212 v.C.). Thutmoses III pas goed in by die Bybelse kronologie. Sy pa Thutmoses II kon die farao wees waarmee die verhaal van Eksodus begin het en Thutmoses III die een saam met wie Moses groot geword en later onderhandel het. Onthou dat hy vir 40 jaar ná sy eerste vlug uit Egipte in Midian gebly het waartydens die farao van sy jeug dood is en deur sy seun opgevolg is (Hand. 7:29-30).

Thutmoses III se eersgebore seun Amenemhat is ook voor hom dood wat met die tiende plaag verbind kan word waarna sy tweede seun Amenhopet II geregeer het (1427-1401).

Rameses II is te laat vir die Bybelse kronologie om sin te maak, hoewel daar baie kritiese geleerdes is wat vir hom kies. Dit bring egter die hele Bybelse kronologie in soveel probleme dat ek eerder die Bybelse verhaal se eie integriteit aanvaar. In Rigters 11:26 plaas Jefta (ongeveer 1100 v.C., 50 jaar voor Saul se koningskap wat in 1050 v.C. begin) homself bv. 300 jaar ná die Intog wat beteken dat daar nie genoeg tyd was vir alles wat in die Rigterstyd gebeur het nie, as Rameses II die farao van die Uittog was nie.

Dit is benewens die buite-Bybelse historiese feit dat die bekende Merneptah Stele – ‘n swart graniet blok waarop die naam van Israel in ‘n veldtog van farao Merneptah aangebring is en redelik presies in die jaar 1210 v.C. gedateer kan word – die teenwoordigheid van Israel in die land Kanaän onomwonde bewys. Die Eksodus moes dus vóór dié tyd in die 13de eeu v.C. plaasgevind het, want Israel was reeds ‘n gerekende nasie in Kanaän wat ‘n opmerking van die koning oor hulle geregverdig het. Die nuutste fonds van ‘n grys graniet blok uit die 15de eeu v.C. waarop die naam van Israel na alle waarskynlikheid ook verskyn, versterk dié interpretasie.

As ‘n mens dus die datering van 1 Konings 6:1 aanvaar dat die bou van Salomo se tempel 480 jaar ná die Uittog uit Egipte begin is – en ons uit ander bronne weet dat dié datum 965 v.C. was – beteken dit dat die Uittog min of meer rondom 1445 v.C. plaasgevind het. Die Intog het dan rondom 1400 v.C. gebeur.

Dit is duidelik dat Moses self ‘n hand gehad het in die skryf van die boek Eksodus. Hy het die verhaal van die oorlog teen Amalek as ‘n herinnering vir Josua opgeskryf (Eks. 17:14) sowel as die verbondsboek – d.w.s. al die wette van hfst. 20-24 – neergeskryf (Eks. 24:4,7). Dat die boek – soos die res van die Pentateug – met tyd geredigeer is, is wel so, maar ‘n beduidende deel daarvan kan na Moses self teruggevoer word.

Teks en konteks

Eksodus 1 vertel die begin van die Eksodus aan die hand van twee sleutelgebeure. Die eerste is die feit dat God die Israeliete uitsonderlik vermeerder het in Egipte sodat hulle ‘n groot volk geword het, ‘n volk wat nou gereed was om die beloofde land nie net te betrek nie, maar te besit – 1:1-7. Die tweede is die teenstand wat die farao teen God se werk bied deur die vermeerdering van die Israeliete deur slawerny, dwangarbeid en kindermoord te beperk – 1:8-22.

Nie net is dit van die begin af duidelik dat farao nie sal slaag met sy dwase planne nie, maar dat die Here die farao se gewelddadige verdrukking sal gebruik as katalisator om die proses van die Uittog aan die gang te sit. Verstommend vernuftig!

Die Trek na Israel is op die kaarte reg van die begin van die verhaal van Eksodus af. Hierna sou die pas versnel om die volk by Sinai te kry waar God sy woorde – die Tora – en sy teenwoordigheid – die Tabernakel – op deurslaggewende wyse aan die hele volk sou gee om hulle verder op hulle pad na Kanaän te begelei. Bevryding kan immers net werk as God se woorde en sy teenwoordigheid die vrygemaaktes se hele wese kan volmaak en hulle totale lewenswyse kan struktureer.

God vermeerder die Israeliete uitsonderlik in Egipte – 1:1-7

Eksodus begin in hoofstuk een om die integrale verband met die verhaal van Genesis duidelik uit te spel. Die nageslag van Jakob en sy twaalf seuns wat uit Kanaän na Egipte getrek het, word duidelik as die “kinders van Israel”, die Israeliete, geïdentifiseer. Jakob se nageslag was só vrugbaar in die vier eeue van hulle verblyf daar dat hulle besonderlik vermenigvuldig het. Die land Gosen in die Nyl-delta was vol van hulle.

Dit was immers die primêre rede vir hierdie tyd in Egipte. God wou die uitgebreide families van Abraham, Isak en Jakob tot ‘n nasie uitbou sodat hulle as Godsvolk die land van die belofte uiteindelik in besit kon neem. Egipte was die spreekwoordelike broeikas waar dit ten beste kon gebeur. Josef het lank terug alreeds Egipte as deel van God se sorg vir dié volk uitgespel: “Hy het gesorg dat ’n groot volk nou in die lewe gebly het.” (Gen. 50:20). Weens God se seën het hulle nou in Egipte ‘n mag geword om mee rekening te hou.

Die twaalf broers word in ‘n ander volgorde as hulle onderskeie geboortes genoem. Lea en Ragel se eie kinders word eerste genoem. Hulle slavinne se kinders word laaste genoem. Eerste aan die beurt is Lea se eerste vier seuns: Ruben, Simeon, Levi en Juda. Tweede aan die beurt is Lea se laaste twee seuns: Issaskar en Sebulon sowel as Ragel se tweede eie kind: Benjamin. Derde aan die beurt is Ragel se slavin Bilha se twee kinders: Dan en Naftali sowel as Lea se slavin Silpa se twee kinders: Gad en Aser. Josef, Ragel se eersteling, word apart genoem om sy belangrike rol in die uitkoms in Egipte te eer.

Die tyd vir die terugkeer na die land van belofte het dus aangebreek. Die volk het wasdom bereik en was getalsgewys groot genoeg om die volgende fase van God se bedoeling met hulle aan te durf. Trouens die Hebreeuse woord wat met “vermenigvuldig” vertaal is, word gewoonlik gebruik om die vrugbare vermeerdering van paddas, visse en ander diere aan te dui. Die vermeerdering was dus uitsonderlik, soos dit net een ander keer vir mense in die OT gebruik word (God se bedoeling vir Noag en sy seuns – Gen. 9:7).

Farao probeer die vermeerdering beperk deur slawerny, dwangarbeid en kindermoord – 1:8-22

Die reaksie van Egipte was eintlik te verstane. Die herinnering aan die groot rol wat Josef gespeel het, het begin vervaag, juis in die tyd toe die farao’s van die Nuwe Koninkryk van Egipte hulle mag begin uitbrei het en die uitdaging van die groterwordende Israelitiese komponent in die land die hoof wou bied.

Die kru, maar voor die hand liggende strategie, was om die vermeerdering stop te sit. Die farao volg drie strategieë om sy vrees te besweer:

  1. Hy probeer deur slawerny en dwangarbeid die mans onderdruk en verneder. Hulle moes die voorraadstede Pitom (vandag Tell er-Retaba, oos van die Nyl delta, 97 km oos-noordoos van Kaïro wat juis in die Nuwe Koninkryk ‘n hoogbloei beleef het) en Rameses (waarskynlik Qantir, in die omgewing van die huidige Tell ed-Dab’a wat ook op ‘n oostelike sytak van die Nyl delta geleë is) bou. Die strategie het nie gewerk nie al het hulle die lewe op gewelddadige manier baie moeilik gemaak vir die Israeliete.
  2. Hy probeer deur die twee gelowige Hebreeuse vroedvroue, Sifra (“die mooi een”) en Pua (“die een wat lekker ruik”) – waarskynlik verteenwoordigers of leiers van ‘n groter groep vroedvroue – die manlike geslag uitwis deur opdrag te gee dat elke seuntjie wat gebore word, vermoor moet word. Hulle moet kyk vir die “twee klippe” wat ‘n eufemisme is vir die manlike geslagsdele. Die twee vroedvroue is egter – soos Daniël se drie vriende, Sadrag, Mesag en Abednego (Dan. 3) en Petrus en Johannes in die NT (Hand. 4) – glad nie van plan om die koning te gehoorsaam nie. Hulle tree uit ontsag vir die Here op en laat die kinders lewe, met ‘n misleidende rapport aan die farao oor die gewaande sterk lewenskrag van die Hebreeuse vroue. Farao tree nie op teen hulle nie, maar God seën hulle met gesinne van hulle eie. Hulle geloofsgehoorsaamheid wys watter volk die Here besig is om te bou. En hulle vernuftige werk het die volk selfs nog meer laat word!
  3. Hy probeer einde ten laaste die Egiptenare opsweep teen die Israeliete deur opdrag te gee dat die “hele volk” pasgebore Israeliese seuns in die Nyl moet verdrink. Dit is onverdunde kindermoord. Ironies genoeg sal die Egiptenare uiteindelik deur ‘n hele aantal plae wat vanuit die Nylwater chaos vir hulle sou veroorsaak, getref word, en die leër sou sterf in die water van die Rietsee.

Farao se probleem is natuurlik dat hy op ‘n menslike vlak die vermeerdering van die Israeliete raaksien en dink dat hy met sy brutale onderdrukking en gewelddadige behandeling van die Israeliete iets daaraan kan doen. Waarvan hy egter nog nie bewus is nie, is dat dié vermeerdering aan God se werk onder sy volk te wyte is. Dit is waarom farao se strategieë nie geslaag het nie. Nie die slawerny, dwangarbeid of selfs die kindermoord kon God se bedoelinge en beskerming van sy volk in die wiele ry nie.

Niemand kan die geveg met God wen nie. Dit is wat die boek Eksodus uiteindelik baie helder gaan bevestig. Selfs nie toe hierdie farao se opvolger later deur Moses deeglik onder die besef gebring is dat hy as farao in wese teen God baklei, het dit enigiets aan die uitkoms van die saak verander nie. God se planne met sy volk kan nie gedwarsboom word nie.

Dit is waarom die pragtige Psalm 105 – wat eintlik die hele geskiedenis van Israel beskryf – hierdie dade as appèl gebruik om die geloofsgemeenskap op te roep om die Here te loof en Hom aan te roep as ’n getuienis aan die nasies. Die hele geskiedenis van Israel word in die vier woorde opgesom:

  1. VERBOND: God se belofte van land en nageslag aan die aartsvaders – vers 1–11
  2. VERDRUKKING: Die trek na en verdrukking van die volk in Egipte – vers 12–23
  3. VERLOSSING: Die verlossing van die volk deur die plae in Egipte – vers 24–36
  4. VESTIGING: Die vestiging van die volk deur die Uittog, woestyntyd en Intog terug in die beloofde land – vers 37–45

Dit is dié God wat ons steeds aanbid, die Een wat sy verbond nakom en sy volk uit hulle verdrukking verlos en vestig op dié plek wat Hy vir hulle uitkies.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…