Skip to main content

1 Kronieke 23-24

Dawid reël die priesterlike en Levitiese bediening

In die volgende vier hoofstukke fokus die Kronis op die wyse waarop Dawid die diens van die priesters en die Leviete gereël het. Dit is interessant dat dit nie die hoëpriesters is wat dié funksie vervul het nie, maar die een wat God gekies het om die hele volk te lei, Dawid. Hy doen dit wel met die hulp van Sadok (1 Kron 24:3), maar neem die oorhoofse verantwoordelikheid.

In die eerste twee hoofstukke kom die funksies van die priesters aan die orde (hfst 23), sowel as die drie breër Levitiese diensgroepe , waarna die twee priesterlike diensgroepe aan die orde kom, sowel as die Levitiese familiehoofde (hfst 24). In die laaste twee hoofstukke kom die Levitiese sangbediening (hfst 25) sowel as die poortwagte, die toesig oor die tempelskatte en die regsfunksies aan die beurt (hfst 26).

Teks en konteks

Die diens van die priesters en die Levitiese diensgroepe – hoofstuk 23

Die Kronis kies om nie die verhaal van die troonopvolging van Salomo in detail te vertel nie en veral die intriges uit te laat rondom Batseba en Natan se ondersteuning van Salomo se koningskap en die teenstand waarvoor Salomo se broer Adonia gesorg het met die hoërpriester Abjatar se steun, wat terloops tot Abjatar se ondergang lei en waarmee die Here se oordeel oor die nageslag van Eli voltrek word. Die Sadokiete sou voortaan die voorrang as hoëpriesterlike familie geniet. En dan was daar nog die opdragte wat Dawid gegee het om mense wat hom leed veroorsaak het, reg te sien, bv. vir Joab.

Die Kronis vertel egter die verhaal uit die hoek van Dawid se mentorskap van Salomo en die wyse waarop hy die reëlings rondom die priesters en Leviete gemaak het sodat Salomo die regte godsdienstige basis sou hê vanwaar hy die volk met wysheid sou kon begelei (1 Kron 23:1).

Dawid deel die nageslag van Levi in volgens hulle groepe, die Gersongroep, die Kehatgroep (waarvan een deel die priesterlike bedieningsgroep gevorm het via die nageslag van Amram en Aäron) en die Merarigroep. Let op dat Moses onder die Leviete gereken word met sy broer Aäron uiteraard onder die priesters. Daarmee verhef hy die status van die Leviete op beslissende wyse.

Dit is interessant dat die intreeouderdom vir diens van Leviete wissel in die OT. Hier word dit op twintig gestel (1 Kron 23:24), op ander plekke vyf-en-twintig (Num 8:23) en op nog ander plekke dertig jaar oud (Num 4:3), soos ’n mens selfs sou kon aflei uit die feit dat in hier dieselfde hoofstuk die Leviete ouer as dertig jaar oud getel is (1 Kron 23:3), met vyftig die afsnypunt of emeritaat! Dit is moeilik om dié datums met mekaar te sinkroniseer. Dit kan wees dat die ouderdom doodgewoon gewissel het op grond van die hoeveelheid wat op ’n gegewe tyd beskikbaar was, óf dat daar ’n soort infasseringstyd was voordat jy op dertig jaar oud volle diens kon aanvaar. Ons weet te min om met sekerheid te sê.

Die Leviete het die priesters bygestaan in die diens van die huis van die Here deur verantwoordelikheid te neem vir die voorhowe, die kamers, die reiniging van die gewyde dinge en vir al die werksaamhede van die tempeldiens. Dit het ingesluit alles wat met die offers te make gehad het, die oggend en aand dank en lof aan die Here en die feesvieringe.

Let op dat die seën in die Naam van God deel van die priesterlike pligte was. Hulle moes nie net die heilige diens in die Allerheiligste verrig en vir Hom wierookoffers bring nie, maar ook namens Hom die volk seën.

Die diensgroepe van die priesters en die familiehoofde van die Leviete – hoofstuk 24

Die priesterlike geslag is in twee groepe opgedeel, dié van Eleasar en dié van Itamar. Omdat Itamar minder manlike nasate gehad het, het die Eleasargroep twee keer diens gedoen vir elke een keer se diens deur die Itamargroep.

Die Kronis rond hierdie oorsig af met die lys van die Levitiese familiehoofde om hulle insluiting in alles rondom die heiligdom en die diens van die Here te bevestig.

Boodskap en betekenis

Hierdie hoofstukke verhoog eenvoudig ‘n mens se bewondering vir hierdie man van God. Hy het growwe foute gemaak wat veral op sy familie ‘n groot impak gemaak het. Maar, hy het nie net telkens sy saak met die Here reg gemaak nie, hy het op ‘n baie begaafde en doelgerigte manier die politieke, ekonomiese en geestelike lewe van die volk op ‘n vaste basis geplaas.

‘n Mens kan net met ontsag reageer op wat die Here deur hierdie man reggekry het. En sorg dat ‘n mens jou eie lewensroeping met dieselfde passie en ywer sal najaag.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar