Skip to main content

Esegiël 10-11

Die Here maak gereed om die stad te verlaat met ‘n belofte van ‘n terugkeer

Die man met die linneklere verander nou van beskermer na bederwer en kry die opdrag om kole van vuur oor die stad uit te gooi. ‘n Mens herroep die prentjie van Sodom en Gomorra wat ook met swael en vuur vernietig is (Gen. 19).

Teks en konteks

Die magtige teenwoordigheid van die Here word in drie tonele beskryf met die doel om aan te dui hoe Hy met verdrag die tempel begin verlaat. Esegiël besef skielik, toe hy sien dat die Here se teenwoordigheid van die gerubs in die tempel af opstyg, dat dit dieselfde wesens is as wat hy in die visioen van hfst. 1 gesien het. Hy herken hulle daarom nou as gerubs, wesens wat nie net die tuin van Eden bewaak het nie (Gen. 3), maar spesifiek in gegote vorm op die deksel van die verbondsark aangebring is (Eks. 25) as teken van God se heerlikheid (Hebr. 9:25).

Soos in die eerste deel van die visioen tel die Gees (wind) Esegiël op en bring hom na die ingang van die poort wat oos kyk. Daar sien Esegiël ‘n vergadering van vyf en twintig leiers van die volk onder wie hy twee persone herken, Jaäsanja, seun van Assur en Pelatja, seun van Benaja – andersins egter onbekend.

Hierdie leiers, sê die Here vir Esegiël, gebruik twee metafore om hulle eie magsmisbruik te regverdig.

  • Die eerste een: “Dit is nie nou tyd om huise te bou nie,” verwys waarskynlik na die onteiening van ander se huise tot hulle eie voordeel (vgl. Miga 2:9 se veroordeling van leiers wat die vrouens uit hulle huise jaag en hulle kinders se waardigheid aantas).
  • Die tweede een: “Die stad is die pot en ons is die vleis,” verwys waarskynlik na hulle eiewaan dat hulle belangriker is as die ander mense van die stad, en daarom sonder skroom die volk kan uitbuit.

Die Here roep Esegiël om teenoor hulle te profeteer – in die visioen natuurlik – en hulle vir hulle magsmisbruik en onreg te veroordeel. Hy keer die tweede metafoor oor die pot en die vleis om, en verklaar die mense as die vleis – d.w.s. belangriker as hulle – en veroordeel hulle tot die dood. Hulle sal besef dat God die Here is wat dié mense straf wat nie volgens sy voorskrifte leef nie.

In die visioen sterf Pelatja ewe skielik – soos Ananias in Hand. 5:5 dit veel later ook sou oorkom – wat Esegiël weereens in ontsteltenis laat bid-vra of die Here dan ‘n einde gaan maak aan wat van Israel oor is. Dit voel vir hom asof die Here nie net ‘n streep deur die leier se toekoms getrek het nie, maar deur die hele volk se toekoms.

Die Here antwoord Esegiël egter hierdie keer anders as met die vorige keer se veroordelende boodskap. Hierdie keer antwoord die Here met ‘n woord van hoop. Die oorblyfsel van Israel sal inderdaad nie heeltemal uitgewis word nie.

Trouens daar is twee beloftes vir hulle.

  • Die eerste is dat die Here “vir hulle ‘n heiligdom” sal bly in die lande waarheen hulle verstrooi word (11:16). Die Here sal hulle nie verlaat nie, selfs nie in die vreemde nie. Die mense in Jerusalem dink verniet dat die land hulle s’n sal bly sonder die teenwoordigheid van die Here.
  • Die tweede is dat die Here die oorblyfsel ook sal bymekaarmaak tussen die ander nasies uit, hulle sal versamel uit die ander lande waarheen Hy hulle verstrooi het en hulle sal terugbring om nie net al die afskuwelike goed uit die stad te verwyder nie. Hy sal hulle hart en gees verander om Hom te kán dien soos dit moet. Die enigste manier waarop enigiemand die Here voluit en volhardend kan dien – as die Here self ‘n mens se hart en gees verander om Hom te gehoorsaam.

Dié tweede belofte van die Here is regtig inspirerend, soos ook die soortgelyke beloftes in Jeremia 31:31-34 en verder aan in Esegiël 36:26 self:

Ek sal hulle ‘n ander hart gee en ‘n nuwe gees onder hulle laat posvat, Ek sal die kliphart uit hulle liggaam verwyder en hulle ’n hart van vleis gee. Dan sal hulle volgens my voorskrifte leef en my bepalings nakom en daarvolgens optree. Hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God wees.” (11:19-20).

Die magtige teenwoordigheid van die Here het verder opgestyg en op die berg oos van die stad gaan staan. God het sy volk nou verlaat. Die oordeel sal oor hulle voltrek word.

Met dié keer Esegiël terug na die werklikheid toe – na die mense wat waarskynlik die hele tyd by Esegiël was terwyl die visioen gebeur het – en het hy hulle alles vertel wat die Here hom laat sien het.

Boodskap en betekenis

Die visie van hfst. 11:19-20 is ‘n toekomsvisie wat net soseer iets is om aan vas te gryp. Die oplossing vir die probleem van ongehoorsaamheid lê uiteindelik nie in die volk self en hulle vermoë om die Here te dien nie. Dit lê in die hartsverandering wat net die Here alleen in mense kan bewerk, iets wat met die bediening van die Here Jesus ‘n aanvang sou neem en deur sy Gees in die hart en gees van gelowiges gewerk sou word (Joh. 3:5-8).

Die belofte van Esegiël is dus iets wat ons ook kan aangryp:

Ek sal hulle ‘n ander hart gee en ‘n nuwe gees onder hulle laat posvat, Ek sal die kliphart uit hulle liggaam verwyder en hulle ’n hart van vleis gee. Dan sal hulle volgens my voorskrifte leef en my bepalings nakom en daarvolgens optree. Hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God wees.” (11:19-20).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…