Skip to main content

Esegiël 10-11

Die Here maak gereed om die stad te verlaat met ‘n belofte van ‘n terugkeer

Die man met die linneklere verander nou van beskermer na bederwer en kry die opdrag om kole van vuur oor die stad uit te gooi. ‘n Mens herroep die prentjie van Sodom en Gomorra wat ook met swael en vuur vernietig is (Gen. 19).

Teks en konteks

Die magtige teenwoordigheid van die Here word in drie tonele beskryf met die doel om aan te dui hoe Hy met verdrag die tempel begin verlaat. Esegiël besef skielik, toe hy sien dat die Here se teenwoordigheid van die gerubs in die tempel af opstyg, dat dit dieselfde wesens is as wat hy in die visioen van hfst. 1 gesien het. Hy herken hulle daarom nou as gerubs, wesens wat nie net die tuin van Eden bewaak het nie (Gen. 3), maar spesifiek in gegote vorm op die deksel van die verbondsark aangebring is (Eks. 25) as teken van God se heerlikheid (Hebr. 9:25).

Soos in die eerste deel van die visioen tel die Gees (wind) Esegiël op en bring hom na die ingang van die poort wat oos kyk. Daar sien Esegiël ‘n vergadering van vyf en twintig leiers van die volk onder wie hy twee persone herken, Jaäsanja, seun van Assur en Pelatja, seun van Benaja – andersins egter onbekend.

Hierdie leiers, sê die Here vir Esegiël, gebruik twee metafore om hulle eie magsmisbruik te regverdig.

  • Die eerste een: “Dit is nie nou tyd om huise te bou nie,” verwys waarskynlik na die onteiening van ander se huise tot hulle eie voordeel (vgl. Miga 2:9 se veroordeling van leiers wat die vrouens uit hulle huise jaag en hulle kinders se waardigheid aantas).
  • Die tweede een: “Die stad is die pot en ons is die vleis,” verwys waarskynlik na hulle eiewaan dat hulle belangriker is as die ander mense van die stad, en daarom sonder skroom die volk kan uitbuit.

Die Here roep Esegiël om teenoor hulle te profeteer – in die visioen natuurlik – en hulle vir hulle magsmisbruik en onreg te veroordeel. Hy keer die tweede metafoor oor die pot en die vleis om, en verklaar die mense as die vleis – d.w.s. belangriker as hulle – en veroordeel hulle tot die dood. Hulle sal besef dat God die Here is wat dié mense straf wat nie volgens sy voorskrifte leef nie.

In die visioen sterf Pelatja ewe skielik – soos Ananias in Hand. 5:5 dit veel later ook sou oorkom – wat Esegiël weereens in ontsteltenis laat bid-vra of die Here dan ‘n einde gaan maak aan wat van Israel oor is. Dit voel vir hom asof die Here nie net ‘n streep deur die leier se toekoms getrek het nie, maar deur die hele volk se toekoms.

Die Here antwoord Esegiël egter hierdie keer anders as met die vorige keer se veroordelende boodskap. Hierdie keer antwoord die Here met ‘n woord van hoop. Die oorblyfsel van Israel sal inderdaad nie heeltemal uitgewis word nie.

Trouens daar is twee beloftes vir hulle.

  • Die eerste is dat die Here “vir hulle ‘n heiligdom” sal bly in die lande waarheen hulle verstrooi word (11:16). Die Here sal hulle nie verlaat nie, selfs nie in die vreemde nie. Die mense in Jerusalem dink verniet dat die land hulle s’n sal bly sonder die teenwoordigheid van die Here.
  • Die tweede is dat die Here die oorblyfsel ook sal bymekaarmaak tussen die ander nasies uit, hulle sal versamel uit die ander lande waarheen Hy hulle verstrooi het en hulle sal terugbring om nie net al die afskuwelike goed uit die stad te verwyder nie. Hy sal hulle hart en gees verander om Hom te kán dien soos dit moet. Die enigste manier waarop enigiemand die Here voluit en volhardend kan dien – as die Here self ‘n mens se hart en gees verander om Hom te gehoorsaam.

Dié tweede belofte van die Here is regtig inspirerend, soos ook die soortgelyke beloftes in Jeremia 31:31-34 en verder aan in Esegiël 36:26 self:

Ek sal hulle ‘n ander hart gee en ‘n nuwe gees onder hulle laat posvat, Ek sal die kliphart uit hulle liggaam verwyder en hulle ’n hart van vleis gee. Dan sal hulle volgens my voorskrifte leef en my bepalings nakom en daarvolgens optree. Hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God wees.” (11:19-20).

Die magtige teenwoordigheid van die Here het verder opgestyg en op die berg oos van die stad gaan staan. God het sy volk nou verlaat. Die oordeel sal oor hulle voltrek word.

Met dié keer Esegiël terug na die werklikheid toe – na die mense wat waarskynlik die hele tyd by Esegiël was terwyl die visioen gebeur het – en het hy hulle alles vertel wat die Here hom laat sien het.

Boodskap en betekenis

Die visie van hfst. 11:19-20 is ‘n toekomsvisie wat net soseer iets is om aan vas te gryp. Die oplossing vir die probleem van ongehoorsaamheid lê uiteindelik nie in die volk self en hulle vermoë om die Here te dien nie. Dit lê in die hartsverandering wat net die Here alleen in mense kan bewerk, iets wat met die bediening van die Here Jesus ‘n aanvang sou neem en deur sy Gees in die hart en gees van gelowiges gewerk sou word (Joh. 3:5-8).

Die belofte van Esegiël is dus iets wat ons ook kan aangryp:

Ek sal hulle ‘n ander hart gee en ‘n nuwe gees onder hulle laat posvat, Ek sal die kliphart uit hulle liggaam verwyder en hulle ’n hart van vleis gee. Dan sal hulle volgens my voorskrifte leef en my bepalings nakom en daarvolgens optree. Hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God wees.” (11:19-20).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar