Skip to main content

Esegiël 2-3

Die roeping en opdrag van die Here

Die doel van hierdie magtige verskyning van die Here word nou duidelik. Esegiël word aangespreek en gestuur. Hy word regdeur die boek aangespreek as “seun van ‘n mens” wat geen spesifieke teologiese betekenis het nie. Dit dui hom slegs as mens in die teenwoordigheid van God aan, vandaar die vertaling: “Mens” (2:1).

Teks en konteks

Let op dat die Gees in Esegiël kom om Hom in staat te stel om voor God te kan staan en op sy roepstem te kan reageer. Soos met Jesaja en Jeremia hou die opdrag aan Esegiël in dat die uitvoering van sy roeping teenstand gaan ontlok en konflik sal ontketen. Die volk is immers opstandig, moedswillig, hardkoppig en weerbarstig, soos hulle hier beskrywe word. Hy moet egter gehoorsaam wees, kom wat wil, of hulle luister of nie.

Versterk deur die Gees kom nou die woorde van God, in die vorm van ‘n boekrol wat aan albei kante volgeskryf is met klaagliedere, treurliedere en smartroepe. Esegiël moet die woorde “eet” om in staat gestel te word om met die mense van Israel te gaan praat.

Johannes kry ook op Patmos ‘n boekrolletjie wat hy moet eet wat die verlossingsplan vir die wêreld bevat. Dit is ook soet met die “eet” daarvan, maar bitter in die maag wat dui op die lyding wat die uitvoering van die plan vir die verkondigers daarvan meebring. Vergelyk verder in Openbaring 10.

Die beskrywing van die mense van Israel verwys waarskynlik na al die Jode wat nog in Juda is (3:4). Die beskrywing van hulle weerbarstigheid pas presies by die tipe teenstand wat veral koning Sedekia en die Joodse leiers in Jerusalem teen die boodskap van Jeremia gebied het, soos in die inleiding verduidelik, hoewel nie by name nie. Die woorde is in die tweede plek gerig aan die ballinge waar Esegiël hom bevind (3:11). Dit is ook waarheen hy teruggeneem word, na Tel-Abib, naby die Kebarrivier.

Regdeur word Esegiël deur die Gees versterk om dié woorde van God te kan internaliseer, maar die ervaring laat hom swaarmoedig en ontsteld: “Die mag van die Here het my op ‘n harde manier in besit geneem.” (3:14). Vir sewe dae lank het hy verskrik tussen die ballinge gesit om dié verskyning en die impak daarvan op sy lewe te verwerk, waarskynlik tot net voor die volgende sabbat.

Ná die sewe dae, waarskynlik die volgende Sondag, die 3de Julie 593 v.C., kom die woord van die Here weer na Esegiël. Die Here stel hom as ‘n “wag vir Israel” aan, ‘n opdrag wat later herhaal sal word (Eseg. 33:7). Dit beteken dat Hy die volk moet waarsku soos die Here dit aan hom opdra.

Die Here spel ook uit wat Hy bedoel by dié waarskuwing. Hy eis absolute getrouheid van Esegiël om sonder skroom die waarskuwende woord van die Here aan mense te bring. Hy sal hom op geen manier verskoon as hy dit nie presies doen soos die Here dit wil hê nie.

Aan die ander kant is dit ook duidelik dat die Here herstel en verandering beoog. “As jy hom waarsku om nie te sondig nie, en hy sondig nie, sal hy bly lewe omdat hy hom laat waarsku het, en jy sal jou eie lewe behou.” (3:21). Dit is ‘n wonderlike vertroostende woord. Binne God se oordeelsaankondiging is die evangelie ook opgesluit. As iemand hom of haar laat waarsku, sal die Here sy oordeel verander en lewe gee.

Niemand sal God dus kan beskuldig van wispelturigheid, as hy of sy gewaarsku is nie. Daarvoor is hierdie “wag” van die Here, Esegiël, nodig. In ‘n laaste rondte neem die Gees hom na ‘n vallei daar naby en laat hom weer die magtige verskyning van die Here sien. Dit lei tot die opdrag om homself in sy eie huis te gaan opsluit, totdat die tyd ryp is vir hom om te praat. Dit beteken dat hy net mag sê wat God sê. Tot dan sal hy daarom stom wees: “Laat dan luister wie wil en laat skouers optrek wie wil. Hulle is ‘n weerbarstige volk.” (3:27).

Boodskap en betekenis

Dat gehoorsaamheid aan God tot konflik kan lei, is deel van die prentjie. Esegiël is vir sewe dae swaarmoedig, ontsteld, en verskrik. Die vreugde van God se verskyning kan nie die verskrikking van die implikasies daarvan wegneem of versag nie. Aan hierdie visioen moet Esegiël gehoorsaam wees. Hy is die “wag” van die Here wat die mense moet waarsku.

Die gedeelte stel ons dus gerus. God is in beheer. Hy is oral. Hy weet alles. Ons kan Hom vertrou. Die gedeelte wil ons egter ook verontrus. God roep sy mense om onverdund sy woorde aan ander te bring. Dit sluit oordeel en hoop in. Ons het dus ook die dure verpligting om die volle waarheid aan ander te bring, soos die Here dit op ons hart lê.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar