Skip to main content

Deuteronomium 31:1-29

Josua aangewys as leier en die wetboek as gesaghebbende woord van God

Teks en konteks

Die laaste deel van die boek word gewy aan drie finale kort boodskappe van Moses. Die eerste boodskap fokus op die aanwys van Josua as die nuwe leier van die volk (Deut. 31:1-8; vgl. Deuteronomium 34 vir die uitvoering daarvan) en die oorhandiging van die wetboek aan die volk as voortdurende lering van die volk by hulle feeste (Deut. 31:9-13).

Die Here tree self toe tot die proses en formaliseer direk die oorhandiging van die leierskap aan Josua by die Tabernakel met ‘n woord van bemoediging en versterking vir sy taak, tesame met die opdrag aan Moses om die loflied wat God vir hom gee, op te teken en vir die volk aan te leer (Deut. 31:14-23).

Moses sluit hierdie boodskap af met ‘n waarskuwende woord oor hulle waarskynlike ongehoorsaamheid, maar is helder daaroor dat hy die wet wat die Here vir hom gegee het: “tot die laaste woord toe” aan die volk voorgehou het (Deut. 31:24-29).

Die laaste twee kort boodskappe van Moses fokus op die twee liedere van Moses, ‘n loflied en ‘n seënbede, wat ook opgeteken word, afgewissel met ‘n paar laaste reëlings (Deut. 31:30-33:29). Sy dood word in Deuteronomium 34 beskryf.

Die aanwys van Josua as nuwe leier van die volk – Deuteronomium 31:1-8

Moses het aan die einde van sy lewe en bediening gekom, 120 jaar oud. Die realiteit is dat hy nie saam met die volk die beloofde land sal intrek nie. Josua is reeds aangewys vir dié taak en word nou finaal in dié rol bevestig.

Moses is egter ook duidelik daaroor dat die eintlike leier die Here self sal wees wat voor hulle uit deur die Jordaan sal trek en die grondgebied van die nasies vir hulle sal gee. Hulle kan dus moed hou en dapper wees. Trouens, hulle word opgeroep om nie bang te wees en vir die nasies te skrik nie, anders sal hulle nie kan doen wat die Here hulle beveel nie.

Moses bemoedig ook vir Josua met dié woorde.

Moses oorhandig die wetboek aan die priesters om voortdurend aan die volk voor te hou by hulle feeste – Deuteronomium 31:9-13

Soos die Here die eintlike leier van die volk sal wees, só gee Moses ook met die oorhandiging van die wetboek die boodskap deur aan die priesters dat dit sy wil is, en sy wil alleen, wat hulle nougeset moet nakom. Dit is die boek wat hulle elke sabbatsjaar moet voorlees op die huttefees wanneer almal daar is, en selfs die slawe vrygelaat is om die woord van die Here te hoor (vgl. Neh. 8 vir ‘n voorbeeld van só ‘n geleentheid). Almal moet dit hoor en gehoorsaam. Dit is die fundamentele inhoud van hulle identiteit as volk van die Here.

Die Here wys self vir Josua as leier aan en gee Moses die opdrag tot ‘n loflied – Deuteronomium 31:14-23

Skielik verskyn die Here self op die toneel en bekragtig dít wat Moses gedoen en gesê het. Vanuit die wolkkolom by die tentdeur van die Tabernakel gee die Here sy laaste opdragte aan Moses en draai nie doekies om oor die waarskynlikheid van die volk se afvalligheid nie. As getuienis téén die volk word Moses ‘n loflied gegee waarin God se onkreukbare karakter besing word teenoor die volk se halfhartige gehoorsaamheid. Vir Josua het die Here egter ‘n bemoedigende woord. Hy sal slaag in wat die Here hom voor roep, want God sal by hom wees.

Moses lewer ‘n laaste waarskuwende woord – Deuteronomium 31:24-29

Geen wonder dat Moses ook afsluit met ‘n waarskuwende woord nie. Hy gee die wetboek, wat hy: “tot die laaste woord toe” opgeteken het vir die Leviete om dit langs die verbondsark van die Here neer te sit. Dit sou saam met die loflied ‘n bron van lering wees, maar ook ‘n bron van oordeel wanneer hulle opstandig en hardkoppig daaraan ongehoorsaam sou word. Die wetboek sou dus ook teen hulle getuig.

Hy het geweet presies hoe hulle is. Veertig jaar het hom onder geen illusies oor hulle gelaat nie. Hy was baie bewus van die feit dat dit erger sou gaan ná sy dood. Hy roep daarom die beamptes en leiers van die volk bymekaar as getuies, saam met die hemel en aarde, dat sy woorde nie net warm lug was nie, maar in die lewe van die volk bewaarheid sou word.

Boodskap en betekenis

Soos Jesus se verhaal in Lukas 10-19 parallelle met Moses se reisverhaal in Deuteronomium 1-26 vertoon, só vertoon Jesus se afskeidsgesprekke in Johannes 13-17 parallelle met Moses se toespraak in Deuteronomium 31-33. Soos Moses praat Jesus sy volgelinge moed in (Deut. 31:6; Joh. 14:1). Soos Moses belowe Jesus dat God met hulle sal wees al sal daar moeilike tye kom (Deut. 31:7-8; Joh. 14:15-31). Soos Moses moedig Jesus sy volgelinge aan om te bly fokus op sy woorde (Deut. 32:46-47; Joh. 15:1-7). Soos Moses belowe Jesus dat God hulle die oorwinning sal gee (Deut. 31:4-5; Joh. 16:33). Soos Moses die volk seën, bid Jesus vir sy volgelinge (Deut. 32; Joh. 17).

Heel gepas moedig die Hebreërskrywer in die NT sy gemeente aan met die woorde uit vers 6 en 8 om tevrede te wees met wat hulle het en vry van geldgierigheid, want God het self gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” (Deut. 31:6, 8; Jos. 1:5; Hebr. 13:5). God se beskerming en sorg in die verlede word ‘n belofte nie net vir die hede nie, maar vir elke geslag van gelowiges deur die eeue.

  • Wat is die kern van die boodskap van dié hoofstuk vir jou dag en lewe – insigte, beloftes, of opdragte?
  • Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda