Skip to main content

Romeine 2

God oordeel mense volgens hulle dade aan die hand van die wet

Let op in Romeine 2 hoe Paulus in verskeie verbeeldingsgesprekke (diatribes) met iemand tree (vgl. die herhalende gebruik van “jy” en “o, mens”). Vers 17 wys duidelik dat dit regdeur ’n Joodse gespreksgenoot veronderstel: “Jy noem jouself tog ‘n Jood.”

Die onderwerp van sy gesprek met hierdie Joodse gespreksgenoot is om hom te waarsku dat Jode nie ander kan veroordeel nie, want Jode doen dieselfde sondes as die ander mense, al het hulle die wet en die besnydenis.

Die Jode staan dus soos die res van die mensdom eweneens onder die oordeel van God.

Teks en konteks

Paulus gebruik twee beginsels in sy gesprek met ‘n verbeelde Joodse gespreksgenoot.

God oordeel regverdig volgens dade (2:1-11)

Paulus is bewus daarvan dat baie van die Jode hulleself sal probeer verontskuldiging deur die vinger te wys na mense wat in die sondes leef wat Paulus so pas in Romeine 1 gelys het.

Hy waarsku hulle egter dat dit nie sal slaag nie, want God se oordeel is regverdig. God weet van alles. Sondige mense sal nie die oordeel van God vryspring as hulle die aanbod van sy goedheid, verdraagsaamheid en geduld in Christus verontagsaam en nie tot bekering kom nie.

As jy hardkoppig is, en in jou onbekeerlikheid volhard, sal jy die toorn van God in sy volle geweld ervaar, want Hy is regverdig, en: “beloon elkeen volgens sy dade” (gebaseer op bv Ps 62:12; Job 34:11; Spr 24:12; Jer 17:10)

Die eerste beginsel wat Hy hier neerlê, is dus dat God regverdig is in sy oordeel. Dit het ewige gevolge:

  • Hy gee die ewige lewe aan diegene wat deur volgehoue goeie werke streef na heerlikheid, eer en onsterflikheid. Heerlikheid, eer en vrede wag vir elkeen wat die goeie doen, vir Jode en Grieke.
  • Hy gee toorn en gramskap aan diegene wat uit eiesinnigheid ongehoorsaam is aan die waarheid en gehoorsaam aan die ongeregtigheid. Verdrukking en benoudheid wag dus vir elke mens wat aanhou kwaad doen, vir Jode en Grieke

Want God beoordeel niemand volgens sy uiterlike nie.

God oordeel ook diegene wat onder die wet sondig (2:12-16)

Die tweede beginsel wat Paulus neerlê is dat God ook diegene wat onder die wet gesondig het, sal oordeel. Dit is nie die blote hoorders van die wet wat met God in die regte verhouding gebring word nie, maar die daders van die wet.

Die rede is dat God in elk geval die uitvoering van die wet in die mensdom se hart geskryf het soos hulle gewete dit bevestig. Dit kom ‘n mens persoonlik alreeds agter in jou eie gedagtes wat jou soms aankla, en soms verontskuldig (vgl Rom 9:1 waar Paulus oor die rol van die Heilige Gees in ons gewete skryf).

Maar, al kan jy daardie gedagtes vir ander wegsteek, kan jy dit nie vir God wegsteek nie. Uiteindelik, met die oordeelsdag sal God hierdie verborge dinge deur die Here Christus Jesus aan die lig bring in sy oordeel oor elke mens.

Blote kennis van die wet bring jou nie in die regte verhouding met God nie (2:17-24)

Paulus brei verder daarop uit, want hy weet baie Jode voel regverdig in hulle eie oë. Omdat hulle Jode is, en die wet van God ontvang het, dink hulle dat hulle God se wil kan onderskei. En dit is genoeg.

Die probleem is egter dat dit nie die kennis van die wet is wat jou in die regte verhouding met God bring nie, maar die doen van daardie wet. Dit help nie jy kan sê wat die wet verkondig nie, maar hou jou nie self aan daardie wet nie.

Paulus pas daarmee sy eerste beginsel toe op die denke van die Jode en wys dat God se regverdige oordeel ook hulle insluit.

Paulus gebruik oortredings van die sewende of agtste gebod uit die tweede tafel van die wet (egbreuk en diefstal) om sy verbeelde Joodse gespreksgenoot te oortuig dat die doen van die wet belangriker is as die kennis daarvan. God oordeel immers regverdig. Presies wat die eerste beginsel in die eerste perikoop sê (2:1-11)

Dieselfde geld die oortreding van die eerste twee gebooie uit die eerste tafel van die wet (afgode). Dit help nie jy verafsku afgode nie, maar jy verryk jouself met gawes wat vir die tempel bedoel is nie (tempelroof). God se oordeel sal vir seker ook daaroor gevel word, want Hy oordeel regverdig.

As jy dus self skuldig is aan die oortredinge van die wet, moet jy liefs jou mond hou, want jy doen God daardeur oneer aan en gee die heidene aanleiding om God te belaster.

Die besnydenis alleen kan jou nie red nie (2:25-29)

Hy gaan nog verder en pas beginsel twee – dat God ook diegene onder die wet oordeel – toe op die Jode met verwysing na die idee dat die besnydenis hulle sal red van God se oordeel.

Paulus erken dat die besnydenis inderdaad van nut is, maar slegs as jy die wet nakom. As jy ‘n oortreder van die wet is, het jou besnedenheid onbesnedenheid geword.

Om in die regte verhouding met God te kom, is ‘n saak van die hart en nie van die liggaam nie. Dit is ‘n geestelike of innerlike realiteit, en nie ‘n uiterlike of letterlike realiteit nie.

Jy kan miskien nog lof ontvang van mense as jy jou laat besny, maar vir seker nie van God nie. Hy oordeel die gedrag wat kom uit die hart.

Boodskap en betekenis

Paulus waarsku dus in Romeine 2 sy verbeelde Joodse gespreksgenoot dat niemand homself kan verontskuldig voor God nie, want almal is sondig. Soos hy dit gedoen het in Romeine 1 waar die oordeel oor die mensdom gevel is wat in opstand is teen God.

Let op dat God op twee maniere in hierdie hoofstuk geteken word:

  1. As ryk in goedheid, verdraagsaam en geduldig wat deur sy goedheid mense tot bekering wil lei (Rom 2:4).
  2. As die Een wat regverdig oordeel en elkeen vergeld volgens sy dade, ook die Jode (Rom 2:6). Dit sluit sy toornige straf in.

Dit beteken dat God niemand voortrek nie. Hy hanteer Jood en nie-Jood op dieselfde manier. Albei prentjies van God – genade en oordeel – is kante van God wat ons moet raaksien en erken. Ons kan nie net aan die een vashou nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda