Skip to main content

Rigters 6

Die Here se geduld met Gideon maak hom gereed as rigter

Teks en konteks

Die verhaal van Gideon word uitvoerig vertel in drie hoofstukke met dié van sy seun Abimelek in ‘n vierde daarby gevoeg. Gideon is die seun van Joas, uit die stam van Manasse, wat Baäl openlik dien met ‘n altaar vir Baäl en ‘n gewyde paal, ‘n Asjera, daarnaas. Afgodsdiens was telkens ‘n achilleshiel wat tot die verval van Israel gelei het.

Geen wonder die Here het die Israeliete as straf oorgegee in die hande van die Midianiete nie, ondersteun deur die Amalekiete. Die Israeliete het immers volhard in hulle afgodediens en gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here.

Die impak van hierdie oorheersing – onthou die Midianiete is afstammelinge van Abraham en Ketura, dws hulle verlangse familie! – was omvattend. Die Israeliete – in dié geval veral die hele stam van Manasse wes en oos van die Jordaan – is teruggedryf in die berge waar hulle langs bergstroompies, in grotte en ander ontoeganklike plekke gaan bly het.

Hulle kon nie saai nie, want die opbrengs is deur die Midianiete vernietig. Hulle diere is uitgewis in die veld. Die Midianiete was soos ‘n ontelbare swerm sprinkane wat alles vernietig het in hulle pad. Die Israeliete het armlastig geword en het gekrepeer van die ellende. Hulle geestelike verval het tot ‘n sosiale en ekonomiese verval gelei.

Soos ons nou al goed weet, laat dié straf van die Here die Israeliete roep na die ingrype van die Here en reageer Hy op twee maniere. Hy stuur aanvanklik ‘n naamlose profeet om hulle aan die Here se wonders in die verlede te herinner, maar hulle ook helder in te prent dat die benarde situasie waarin hulle hul bevind deur hulle eie afvalligheid te weeg gebring is.

Dan roep die Here ‘n rigter, Gideon, deur Homself as Here te openbaar aan hom. Die Here, Jahwe, verskyn as die Engel van die Here wat gaan sit onder die groot boom in Ofra waar Gideon in die geheim koring gedors het in ‘n versteekte parskuip. ‘n Mens kom met die verloop van die gesprek met Gideon agter dat die Engel van die Here, die Here self verteenwoordig.

Sewe interaksies tussen die Here en Gideon

  1. Let op die eerste woorde van die Engel aan Gideon: “Die Here is by jou, dapper man!

Gideon se eerste reaksie dreig om sarkasties te raak met ‘n: “Ekskuus meneer … Waar is al sy magtige dade … Nou het die Here ons in die steek gelaat”. Agter sy beleefdheid skuil ‘n ernstige wantroue.

  1. Let op hoe dit nou die Here is wat na Gideon toe draai en sy wantroue van die tafel af vee met ‘n direkte opdrag in sy tweede reaksie: “Gaan met die krag wat jy het en gaan red die Israeliete uit die mag van die Midianiete!” Let op die: “krag wat jy het”! En die kragtige bemagtiging daarmee saam: “Toe, Ek stuur jou!

Dit is hoe Goddelike bemagtiging werk. God begin met wat ons het, en vermeerder dit deur sy ingrype en betrokkenheid. Soos Jesus dit met die twee vissies en vyf broodjies gedoen het in die NT (Joh 6:9).

Gideon se tweede reaksie wys dat hy nie byt aan dié opdrag nie. Hy hoor net: “die krag wat jy het”, nie die: “Ek stuur jou” nie. Waarmee sou hy nou die Israeliete kon gaan red? Hulle is arm en hy het geen aansien nie.

  1. Die Here se derde reaksie vat die koek: “Ek is by jou, en jy sal die Midianiete verslaan asof hulle nie meer as een is nie.” Geen wonder die Here beveel hom later om met net 300 man die Midianiete aan te val nie, want hulle sou verward vlug asof hulle krag gereduseer is tot net een sterfling voor die mag van sy Skepper!

Gideon se derde reaksie wys dat hy steeds dink dat hier niks gaan gebeur nie, want hy vra vir ‘n wonder om seker te wees dat dit regtig die Here is wat met hom praat, al sit die Engel van die Here daar reg by hom. Hy berei ‘n offer vir die Here voor, sonder dat hy spesifiek uitspel wat die wonder moet wees.

  1. Die onuitputbare geduld van die Here word in sy vierde reaksie getoon deurdat Hy bereid is om te wag op Gideon: “Ek sal wag tot jy terug is”. Kan jy nou meer. Miskien die helderste evangelie in hierdie hoofstuk. God wag dat Gideon klaar is, voor Hy met hom verder werk. Ontsagwekkend!

Gideon maak ‘n bokkie gaar, bak ‘n groot hoeveelheid brood – let op dat dit soos ‘n Paasmaaltyd gedoen word, sonder suurdeeg – gooi ‘n bietjie sous by en bedien die Engel onder die groot boom.

  1. Die Engel vra in sy vyfde verbale reaksie dat dit as ‘n offer gebring word op die rots en laat die wonder gebeur dat ‘n vuur uit die rots opvlam om die offer te verteer. Met dié is die Engel weg van Gideon en daag die besef by hom op dat Hy regtig met die Here te doene het.

  2. Let op dat die Here egter steeds by Gideon is en hom in sy sesde reaksie gerus stel, soveel só dat Gideon ‘n altaar daar vir die Here bou en dit noem: “Die Here gee rus (vrede)!

  3. Die gesprek duur voort tot in die nag en in die sewende en laaste reaksie dié nag beveel die Here Gideon om sy pa se altaar vir Baäl en die gewyde paal vir Asjera af te breek en ‘n netjiese altaar vir die Here daar langsaan op te rig, en dan ‘n spesifieke sewe jaar oue bul van sy pa daarop as brandoffer – die offer wat vir die vergifnis van sonde gebruik is – te offer. Asjera moet op ‘n minagtende vernederende manier as die brandhout gebruik word.

Die Here se geduld met Gideon maak hom gereed vir die oorlog

Gideon het nie op hom laat wag nie en dit alles gedoen soos die Here beveel het, hoewel die teks ons meedeel dat hy dit in die nag gedoen, waarskynlik die daaropvolgende nag, omdat hy bang was vir sy pa se familie en die stad se mense.

Iemand moes egter vir Gideon gesien het, want die nuus breek gou dat dit hy was wat hierdie ongehoorde ding gedoen het. Tot sy pa se krediet verdedig hy sy seun toe die stad Gideon wou uitwis, en sê: “yāʹrěḇ (Baäl)”, dit is in Hebreeus, “laat Baäl sy eie saak behartig” as hy ‘n god is.

Geen wonder nie dat dit daarom Gideon se naam word, Jerubbaäl (yerǔbbǎʿǎl), want Gideon se optrede het Baäl se onmag duidelik gewys.

Uiteraard kon Baäl niks doen nie, maar in sy plek kom Midian en Amalek bymekaar en trek deur die Jordaanrivier tot in Jisreël téén die Israeliete.

Dit lei tot twee verdere reaksies van die Here wat nie net sy Gees van Gideon laat besit neem nie, maar ook regdeur met Gideon in gesprek bly, ook met die wonders wat hy ‘n paar aande lank laat gebeur met die stukkie vlieswol op die dorsvloer wat dan nat is met die grond rondom droog, en dan droog met die grond rondom nat.

Gideon wou enige natuurlike oorsaak uitskakel, en die Here is met hom geduldig. Hy wys regdeur dat Hy God is en in staat om nie net die natuur te beheer nie, maar ook oorwinning te gee in die oorlog.

Met die ramshoring (sjofar) roep Gideon die hele Manasse en drie ander stamme – Aser, Sebulon, en Naftali – op om hom te volg. En Sebulon en Naftali gee gehoor, net soos hulle dit gedoen het met Debora en Barak se oproep, hierdie keer darem met Aser in die weste wat ook die oproep gehoorsaam.

Die tafel is gedek vir ‘n groot konfrontasie in die volgende hoofstuk.

Boodskap en betekenis

Die verhaal onderstreep ‘n paar uitstaande dinge.

  1. God luister as ons roep, selfs al is ons situasie weens ons eie toedoen, selfs al straf die Here ons vir die dinge wat ons verkeerd gedoen het.
  2. God se geduld en genade is groter as wat ons ooit kan dink. Hy sluit aan by ons wêreld en help ons om ons beperkinge te oorkom.
  3. Wanneer God ons roep, gee Hy alles wat nodig is om sy opdragte uit te voer.

Hoor dan die woord van die Here: “Die Here is met jou, dapper kryger!”

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda