Skip to main content

1 Samuel 7:2-17

Rig julle harte op die Here en dien Hom alleen. Dan sal Hy julle red …

Hoofstuk 7 fokus op die volgende fase in die herstel van die verbintenis van die volk aan die Here met die groeiende invloed van Samuel as profeet-priester-rigter. Die geestelike herstel het onmiddellik ook ‘n effek op Israel se weerbaarheid teen die Filistynse aanslag en bring ook rus en vrede in hulle verhoudinge met die Amoriete wat nog saam met hulle in hul grondgebied gebly het.

Teks en konteks

Dit is interessant dat twintig jaar verloop het na die terugkeer van die ark na Israeliese grondgebied en die ark ‘n tuiste in Kirjat-Jearim gekry het, voordat die volgende fase in die herstel van die volk se verbintenis aan God aangebreek het. Miskien moes Samuel eers volwasse word vir Israel om regtig vertroue in hom te kon hê. Of miskien moes die besef dat hulle regtig afhanklik is van die Here eers ryp word in die volksbewussyn.

Hoe dit ook al sy: “Die hele huis van Israel wou toe weer die Here volg.” (2020-vertalig) ’n Mens kan die woord – nāhâ – wat in vers 2 vertaal word met “volg” ook vertaal met “lojaal bly” aan of “naby bly” aan. Daar is egter ook ’n element van “berou” opgesluit in die woord wat daarom ook vertaal kan word as “agter die Here aan geweeklaag” (1933-vertaling). NET Bible vertaal: “All the people of Israel longed for the Lord.” Belangrik, die Israeliete rou nie meer oor die ark nie, maar oor God self!

Samuel se statuur as geestelike leier was al van só ‘n aard dat hy gereed was om die hele volk hierin te begelei sodat hulle hulle verbintenis aan die Here kon hernuwe. Hy lei hulle daarom in ‘n hartsverandering wat verbind is aan ‘n lewensverandering. Die publieke verwydering van die Baäl en Astarte afgode sou die erns van hulle bekering wys. Hulle het hom daarin gehoorsaam.

‘n Mens kan dus sê dat Samuel met hierdie begeleiding die Filistyne met kategese oorwin, want hy leer die Israeliete nie hoe om oorlog te voer nie, maar net om te doen wat reg is en die verkeerde te verlaat.

Daarna lei hy hulle in ‘n proses van vas en gebed. Die water is waarskynlik op die grond uitgegiet as deel van hulle proses van vas (vgl Ninevé wat in hulle berou voor God nie water gedrink het nie – Jon 3:7). Die gebed is in die konteks van ‘n brandoffer gedoen wat die sonde van die volk voor God versoen het.

Die Here verhoor die gebed van hierdie groot voorbidder, Samuel (vgl Jer 15:1 wat sy reputasie as voorbidder erken), en veg dan vir Israel met die geluid van swaar donderweer wat die Filistyne verwar het. Samuel bevestig die oorwinning met die oprig van ‘n klip by Eben-Haeser – “klip van die helper” – om God se hulp te vier ná hulle vorige nederlaag 20 jaar gelede by die ander Eben-Haeser (1 Sam 4:2).

Die bedreiging van die Filistyne is só die hoof gebied: deur ‘n geestelike oorlog, nie ‘n fisiese oorlog nie. Hulle het ‘n groot deel van hulle grondgebied herwin. Daar was ook weer vrede tussen Israel en die Amoriete wat nog in hulle grondgebied gebly het.

Rama word nou ook ‘n heiligdom met die bou van ‘n altaar daar, hoewel Samuel steeds by ander heiligdomme die regspraak behartig het: Bet-El, Gilgal en Mispa.

Binnelands en buitelands was daar nou vrede, en God het weer sy regmatige plek in die lewe van die volk ingeneem.

Boodskap en betekenis

Samuel wys vir ons met hierdie verhaal hoe bekering altyd werk. Daar is die persoonlike verbintenis vanuit jou hart aan die Here wat gedemonstreer word deur ‘n publieke getuienis waarin die afgode versaak en verwyder word en die Here alleen gedien word.

Dit is ook duidelik dat sukses in die stryd teen die Filistyne oor die lewende teenwoordigheid van die Here gaan, en nie oor die ark per se nie. En bevryding kom deur ‘n naby verhouding met Hom en nie deur militêre krag in die eerste plek nie.

“Rig julle harte op die Here en dien Hom alleen. Dan sal Hy julle red…” (vers 3)

Dit is hoe Paulus ook oor geestelike oorlogvoering praat in Efesiërs 6.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar