Skip to main content

1 Konings 15:16-24; 2 Kronieke 16

Asa ignoreer die Here se hulp vir dié wat Hom vertrou en sterf aan siekte

1 Konings 15:16-24 berig oor die laaste deel van Asa se regering waar hy aanvanklik deur die Here in oorlog gehelp is. Die situasie het egter verander, omdat hy ongelukkig ook teen die Here se wil ’n verdrag met die Arameërs gesluit het. 2 Kronieke 16 brei uit op die siener Ganani wat Asa voor stok kry omdat hy nie op God in sy stryd met Israel gesteun het nie, maar op die Arameërs.

Dit was volgens Ganani die rede waarom hy nooit vrede sou ken nie, maar voortdurend in oorlog gewikkel sou wees. Let op die pragtige belofte wat in Ganani se profesie voorkom: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.” (2 Kron 16:9)

Ook die terloopse verwysing na die voetkwaal wat Asa opdoen (1 Kon 15:23) word in Kronieke (2 Kron 16:12) gewyt aan sy keuse om dokters te vertrou eerder as die Here. Twee jaar later is hy oorlede.

Teks en konteks

Konings vertel ons dat Asa ’n slim strateeg was wat ’n ou verbintenis met Ben-Hadad en die Arameërs (Siriërs) in Damaskus in sy oorlog teen Baesa van Israel hernu, om die beperkinge wat Baesa by die grens tussen Israel en Juda ingestel het, af te kon breek, sodat daar ‘n vryer beweging tussen die Noordryk en die Suidryk kon wees. Vandaar dat daar tydens sy regering ‘n oorloop van mense van die noordelike stamme na die suide was, soos Kronieke dit vir ons vertel.

Let op dat Baesa van die Noordryk hier skielik en sonder inleiding genoem word as die teenstander in die grensoorlog met Asa van Juda. Daar sal later meer detail oor sy koningskap as sodanig gegee word (1 Kon 15:33–16:20), maar hier help die inligting net om koning Asa se koningskap te kan beskryf.

Konings noem wel van die voetkwaal van Asa – dit word deur die Talmoed as jig (gout) beskryf, maar dit kan ook gangreen wees weens een of ander bloedsomloop probleem – maar brei nie uit op die negatiewe beoordeling van sy verdrag met Ben-Hadad nie. Kronieke sal die verhaal meer volledig vertel.

Kronieke beoordeel dié alliansie met die Arameërs negatief en wys dat dit sy afhanklikheid van die Here in gevaar gebring het.

Kronieke brei in drie episodes hierop uit:

  • Asa van Juda word bedreig deur koning Baesa van Israel en sluit teen die Here se sin ’n verdrag met die Arameërs – 2 Kronieke 16:1-6 (vgl 1 Kon 15:17-22)
  • Asa word deur die siener Ganani bestraf tot Asa se groot ontsteltenis en oordadige optrede teen Ganani– 2 Kronieke 16:7-10
  • Asa raak siek, maar raadpleeg nie die Here nie en sterf na 41 jaar se koningskap – 2 Kronieke 16:11-14 (vgl 1 Kon. 15:24)

Asa van Juda word bedreig deur koning Baesa van Israel en sluit teen die Here se sin ’n verdrag met die Arameërs – 2 Kronieke 16:1-6

Vyf jaar voor Asa se dood kry hy moeilikheid met koning Baesa van Israel wat onder andere inhou dat die stad Rama, net ’n paar kilometer noord van Jerusalem, in ’n vesting omskep word om beheer uit te oefen oor die beweging van mense uit Juda na Israel en van Israel na Juda. Met die hervormings wat Asa aangebring het, het daar immers ’n hele klomp immigrante by Juda aangesluit en Baesa wou dit verhoed.

In plaas daarvan om die Here te raadpleeg, besluit Asa om eerder ’n politieke alliansie met Ben-Hadad van die Arameërs aan te gaan. Hoewel dit geslaagd was en Baesa sy planne laat vaar het, het dit die gramskap van die Here laat ontvlam.

Asa word deur die siener Ganani bestraf tot Asa se groot ontsteltenis en oordadige optrede teen Ganani– 2 Kronieke 16:7-10

Die siener Ganani neem Asa erg kwalik omdat hy sy vertroue van God af na ’n politieke alliansie verplaas het en voorspel dat Asa nie weer sonder oorlog sou wees nie. Asa is egter briesend vir Ganani en sluit hom toe in die tronk. Dit lei daartoe dat hy aan die einde van sy regering nie meer met oorleg en wysheid optree nie en, soos die Kronis sê, “begin om sommige mense sleg te behandel.”

Wat egter vir my uitstaan tussen die intriges heen, is die beskrywing van God deur Ganani wat ’n baie belangrike beginsel van God se betrokkenheid in die wêreld uitspel: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.” (2 Kron. 16:9).

Dié beskrywing van God kom op ’n hele paar plekke in die Bybel voor en teken God in sy alsiendheid. ‘n Paar Psalms het dié gedagte, soms in ‘n negatiewe betekenis – bv. Psalm 14:2; 33:14 – maar ook in ‘n positiewe betekenis soos in Kronieke: bv. Psalm 106:44. Jesaja praat ook ‘n keer daarvan dat die Here sy oë juis sal toemaak vir gebede van dié wat nie doen wat Hy vra nie – Jesaja 1:15. Habakuk gebruik later dié gedagte om God se optrede in onreg te motiveer, want volgens hom is God se oë te rein om te kyk na wat verkeerd gedoen word. Hy kan eintlik nie anders om op te tree as Hy onreg sien nie (Hab 1:13). Interessant genoeg word die funksie van God se sig in Esegiël aan die gerubs gekoppel. Hulle lywe, rûe, hande, en vlerke en selfs hulle 4 wiele is “rondom vol oë” soos Esegiël dit in sy gesig beskrywe (Eseg 10:12). Ook Sagaria verwys na die sewe oë van Jahwe op die klip wat die hoëpriester Jesua kry (Sag 3:9; 4:10) wat God se alsiendheid oor die hele wêreld voorstel.

God se alsiendheid word dus hier as motivering vir vertroue op Hom gebruik. God sien oral raak en kan dus vertrou word om op te tree as Hy dinge sien wat nie reg is nie. Trouens, sy oë is te rein om iets te sien wat verkeerd is en dan nie op te tree nie. Iets om oor na te dink en jou eie te maak!

Asa raak siek, maar raadpleeg nie die Here nie en sterf na 41 jaar se koningskap – 2 Kronieke 16:11-14

As gevolg van die woede oor Ganani wat vir hom die waarheid kom vertel het, en omdat dit natuurlik makliker is om die boodskapper te skiet as om tot bekering te kom, verhard Asa sy hart en met sy siekte raadpleeg hy wel die dokters, maar nie weer die Here nie (vgl 1 Kon 15:24). Hoe tragies!

Natuurlik is die Bybel nie negatief oor dokters as sodanig nie, maar wel wanneer die Here nie in alles geraadpleeg word nie, soos hier in Kronieke. God is immers die groot Geneesheer in beide Testamente (Ps 41:4; 103:3; Mark 3:10). Daarom kan die profeet Jesaja in opdrag van die Here ’n natuurlike geneesmiddel aanbeveel vir koning Hiskia (Jes. 38:21) en van die ander profete dokters ook as verwysingsbron gebruik (Jer. 8:22; Sag 11:16) hoewel ’n mens nie uit die verwysings kan aflei presies hoe hierdie twee profete oor dokters in die algemeen gedink het nie. Jesus vergelyk egter Homself en sy bediening met dié van ‘n dokter (Mark 2:17) wat ‘n positiewe betekenis aan die mediese professie gee. Die evangelieskrywer Lukas was ook inderdaad ’n dokter vir wie Paulus baie lief was (Kol 4:14), wat die algemene positiwiteit in die NT teenoor dokters bevestig.

Asa word in ’n graf begrawe wat hyself laat regmaak het en met groot eerbied te ruste gelê in afwagting van sy seun Josafat wat die troon sou bestyg.

Boodskap en betekenis

As ‘n mens nou terugdink aan die hele termyn van Asa, is dit opmerklik hoe hy aanvanklik na die Here gesoek het, en bereid was om te luister na die uitsprake van God se profete, bv Asarja. Asa het hom toegelê op ’n persoonlike verhouding met God EN was bereid om verantwoordelik gehou te word deur die profete. Hy het ’n leerbare gees gehad, soveel so dat hy selfs die koningmoeder teëgegaan het oor haar afgodediens, toe die profeet dit aangespreek het.

Maar, op ’n punt het hy besluit, ek het nou genoeg gehad. Ek gaan nie toelaat dat ’n eenvoudige siener my aksies beoordeel en veral nie veroordeel nie. Hy het vir homself ’n norm geword. Sy besluite was van groter belang as die besluite van die profete, en ten diepste die Here self.

En omdat hy sy verhouding met die profete afgesny het, nie meer bereid was om aangespreek te word nie, het sy verhouding met God ook skipbreuk gelei. En is dit net logies dat hy nie meer die Here sou raadpleeg oor ’n voetkwaal nie. Hy het immers ’n goeie besluit geneem, in sy eie oë, toe hy die verbond met die Arameërs aangegaan het. Hy en die dokters sou ook dié voetprobleem uitsorteer.

Maar, toe nie. Sy eie besluite boemerang en hy sterwe met ’n wolk oor sy koningskap.

Wat leer ons by Asa?

Dat ons nooit die oop verhouding met God en met ons profete, mense wat na aan ons lewe en wat ons verantwoordelik moet hou, moet afskeep nie.

Ons is nie bedoel om te lewe as selfstandige onafhanklike konings nie. Tog, is ons bang om sulke oop lewens te lewe. Miskien is dit omdat ons bang is dat ons mislukkings en swakhede teen ons gehou sal word. Miskien is dit omdat al ons vingers verbrand het met mense wat nie met integriteit met ons lewens omgegaan het nie.

Maar ons kan nie die Christelike lewe leef sonder betekenisvolle ander mense in ons lewe nie, mense wat nie sal terugdeins om ons verantwoordelik te hou vir dít waarin ons self sê dat ons glo nie. Ons is immers gemaak vir gemeenskap met ander mense, nie net sodat dit ons kan koester en versorg nie, maar ook dat dit ons kan beskerm teen onsself, en teen ons swakhede en mislukkings.

Daarom het ons nodig om mense in ons lewe toe te laat wat ons verantwoordelik kan hou. Jakobus 5:16 sê immers: “Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.” Het Asa maar dié raad gevolg!

En die Hebreërskrywer raai ons aan: “Julle moet mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie. Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het.” (Hebr 3:13)

Die Here roep ons vandag op tot twee reaksies:

  1. Om na te dink oor iemand met wie ons oor ons geestelike lewe kan gesels. En met wie ons eerlik kan wees en met wie ons ’n oop verhouding kan handhaaf. Dit hoef nie iemand te wees wat ouer as jy is nie, of wat wyser is as jy nie. Maar dit moet iemand wees met wie jy die vrymoedigheid sal hê om jou lewe mee te deel.
  2. Om na te dink oor iemand vir wie jy ’n oop deur wil gee, om met jou oor hulle geestelike lewe te gesels.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar